Aanlyn-selgroep: Gebed, deur Philip Yancey.
Hoofstuk 7: Stoeigeveg
Dit was nie die ou profete van Israel se gewoonte om God se streng oordele sommerso te aanvaar met ‘n goedkeurende knik en die woorde ‘Laat U wil geskied’ nie.
Lees bladsy 97-109
Die gebede wat ons in die Bybel kry, neem baie vorms aan: soms is dit astrant, ander kere volhardend, maar ook skaamteloos, selfs onbehoorlik. Dit klink meer soos die gekibbel in ‘n buitelugbasaar as na beleefde monoloë in die kerk. – Walter Wink
Lees die gebede van die jong vrou in die kerk, Nelson Mandela en die eertydse slaaf Solourner Truth. “O Here, U weet hoe bekommerd ek is, want ek het dit al oor en oor vir U gesê. Here help my dan nou asseblief met dié kind. As U in die moeilikheid was, soos ek nou is, en ek U kon help, dink U ek sou dit nie gedoen het nie? Ja Here, U weet ek sou U gehelp het.”
Dinge om oor te dink en gesels:
- Voel gebede soos hierdie vir jou na heiligskennis? Hoe voel jy oor die idee om met God te stoei en te baklei?
Die onderhandelaar
Die Bybel is vol onderhandelaars. Abraham is ‘n goeie voorbeeld. Hy het gekibbel met die Here: Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges daarin nie? Nou goed, as Ek vyftig regverdiges in Sodom kry, sal Ek die hele plek spaar ter wille van hulle. Dan onthou Abraham skielik met wie hy onderhandel – Ek is maar net stof en as, en tog het ek dit gewaag om met die Here te praat – maar hy gee nie op nie, as verlaag hy die ‘aanbod’ nou tot vyf en veertig mense. Vyf en veertig? Ook goed. Moet tog nie kwaad word as ek nog ‘n keer praat nie.”
Abraham soebat en smeek en God gee sonder teëpraat toe. “Ook oor tien sal ek dit nie verdelg nie.”
Soos Abraham agtergekom het, verdwyn die angswekkende God gou wanneer ons ons beroep op God se genade en deernis.
Redeneer met God
Lees op bladsy 100-103 van nóg bobaas-redeneerders: Moses en Job.
Abraham Herschel, groot Joodse kenner van die profete, ondersteun die profete se waagmoed om te protesteer teen dít wat hulle nie kan verstaan nie. Hy skryf: “Hul weiering om God se skynbare hardheid te aanvaar in die naam van sy liefde, was destyds ‘n aanvaarde vorm van gebed. Trouens, dit was nie die ou profete van Israel se gewoonte om God se streng oordele sommerso te aanvaar met ‘n goedkeurende knik en die woorde ‘Laat U wil geskied’ nie. Hulle het God dikwels uitgedaag asof om te sê: Laat U wil verander word.’”
Waarom sou God, die almagtige Heerser van die heelal, in sy omgang met mense wil gebruik maak van ‘n metode wat lyk na onderhandeling – of, kras gestel, ‘n gekibbel? Beskou God dit as deel van ons geestelike ontwikkeling? Of is dit moontlik dat God, as ek dit so mag stel, staatmaak op ons uitbarstings as ‘n venster op die wêreld, of ‘n alarm wat ingryping aan die gang sit?
Yancey sê soos Abraham nader hy God met vrees en bewing, maar dan kom hy agter God wil hê hy moet ophou kruip en begin stry. Ek durf mos nie die toestand van die wêreld, met al sy onregverdigheid en ongeregtigheid stilswyend te aanvaar nie.”
Stoeiers met God
Geloof het nog altyd vir Yancey gevoel soos ‘n gawe wat iemand het, of nie het nie. Hy het gedink dis nie iets wat ‘n mens, soos spiere, deur oefening kan ontwikkel nie. Sy beskouing het egter verander namate hy geloof begin verstaan het as ‘n vorm van betrokkenheid by God, by tye selfs ‘n soort konfrontasie met God.
Een van die mees bekende verhale oor stoeigevegte, is dié van Jakob wat met die engel gestoei het. Lees meer op bladsy 107. “Soos daardie figuur in die nag vir Jakob gewys het, gee God nie maklik in nie. Tog lyk dit of God terselfdertyd ons volharding verwelkom, wat aanhou veg lank nadat die wedstryd beslis is.”
Paulus het te kenne gegee dat ons almal kinders van Israel is, ons wat in die donker met God stoei en aan God vashou, wat sê: “Ek sal U net los as U my seën.” Aan ons behoort dié seën, die geboortereg, die koninkryk.
Dinge om oor te dink en gesels:
- Dink na aan die tye in jou lewe toe jy met God gestoei het. Wat was jou belewing?
Die teenoorgestelde van onverskilligheid
EM Bounds het ná die skryf van agt boeke oor gebed tot die slotsom gekom: “Gebed in sy hoogste en mees suksesvolle vorm verg die houding van ‘n stoeier met God.”







Kommentaar - Geen kommentaar sover