Aanlyn-selgroep: Gebed, deur Philip Yancey.

Aanlyn-selgroep, hoofstuk 6 – Hoekom bid ons?

Deel met ander Kommentaar (1)
 
0/5.0
Aanlyn-selgroep, hoofstuk 6 – Hoekom bid ons?

Ons kan meer leer oor gebed uit die manier wat Jesus self gebid het.

Lees bladsy 79 tot 96

Steur God hom regtig aan die besonderhede van ons lewe, soos wanneer ons bid om ‘n huis verkoop te kry of ‘n verlore kat terug te vind? As die antwoord ja is, wat dan van ‘n orkaan wat ‘n stad platvee of ‘n tsoenami wat ‘n kwartmiljoen mense wegspoel? Het mense dat nie daaroor ook gebid nie? Hoekom lyk dit of God so wispelturig is in Sy besluite oor wanneer en waar om in te gryp op hierdie chaotiese planeet?

Gebedsversoeke val gewoonlik in een van twee kategorieë: groot probleme of klein probleempies. Dit is asof ons instinktief tot God roep wanneer ons in die moeilikheid is. In so ‘n situasie wil ‘n mens net een ding hê: die hulp van ‘n Mag wat groter as jy self is.

Dinge om oor te dink en gesels:

  • Is dit in jou geval ook so? Voel jy skuldig wanneer jy naby aan God leef wanneer dit moeilik gaan, maar dalk verder wegdryf wanneer dit goed gaan?

Lees bladsy 81-84 oor die briewe wat Yancey oor die jare oor dié onderwerp gekry het.

Jesus in gebed

Yancey sê dié briewe het hom met meer vrae as antwoorde gelaat. “Trouens, die hele bestaan van hierdie boek oor gebed berus op my soeke na antwoorde.”

Die Evangelies het net meer as ‘n dosyn spesifieke gebede van Jesus opgeteken, asook verskeie gelykenisse en leringe oor die onderwerp. Hy het die gewone Joodse gebruik gevolg om die sinagoge, die “huis van gebed” te besoek en minstens drie keer per dag te bid. Ons kan met veiligheid aanvaar dat Jesus dikwels ook privaat gebid het, want toe sy dissipels gevra het Hy moet hulle leer bid, het Hy hulle heel eerste aangeraai om hulle af te sonder. Die Evangelies verwys vyf keer na Jesus se gewoonte om alleen te bid.

Soos die meeste van ons het Jesus Hom in tye van swaarkry tot gebed gewend.En raai, Hy het nie in sy gebede sy emosies probeer verbloem nie.

En, in die tuin van Getsemane, het hy geweet hoe dit voel om geen antwoord op sy gebede te kry nie.

Die ander tipiese soort versoek wat in ons menslike gebede voorkom – dié om kleinighede – het blykbaar nie juis ‘n groot rol gespeel in Jesus se gebedspraktyk nie. Gewone, alledaagse behoeftes, ja, dáárvoor het Hy ons geleer om te vra: Die Onse Vader noem daaglikse brood, versoekings en gebroke verhoudings, maar ‘n mens kan hierdie versoeke nie beuselagtig noem nie.

Jesus se gebede toon trouens ‘n merkwaardige gebrek aan besorgdheid oor sy eie behoeftes.

Maar waar Jesus selde iets vir Homself gevra het, het Hy, darenteen, dikwels vir ander gebid. Ons weet dat Hy ‘n seëngebed uitgespreek het oor die kindertjies wie se ma’s hulle na Hom toe gebring het, vir “die mense wat hier rondom staan” by Laserus se graf, en vir Simon Petrus dat sy geloof hom nie sou begewe in ‘n tyd van toetsing wat voorgelê het nie.

Wanneer Hy alleen was, het Jesus op gebed staatgemaak vir ‘n soort geestelike “kragherlading”.

Dinge om oor te dink en gesels:

  • Is gebed vir jou ook ‘n kragherlading?
  • Hoe baie van jou gebedstyd gaan oor jou eie behoeftes?

Maak gebed saak?

Yancey sê Jesus se voorbeeld in gebed beantwoord een belangrike vraag: maak dit saak? Het dit enige sin?

“Wanneer ek begin twyfel en wonder of gebed maar net ‘n vroom manier is om met myself te praat, onthou ek dat die Seun van God, op wie se bevel wêrelde ontstaan het en wat alles onderhou wat bestaan, ‘n dwingende behoefte ervaar het om te bid. Hy het gebid asof gebed ‘n verskil maak."

Yancey sê hy kan nie vir mense die “waarom”-vraag beantwoord nie. “Ek kan wel ‘n ander vraag beantwoord, en dit is hoe God oor hul situasie voel.”

Ons weet hoe God oor mense se pyn en hartseer voel omdat Jesus vir ons God se gesig gewys het, een wat soms betraand was.

“Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel,” het Jesus ons geleer om te bid, en hy van alle mense was bewys van die kontras tussen dié twee uiterstes: aarde en hemel. Jesus het aan gebed vasgehou soos aan ‘n reddingsboei, want dit het Hom voorsien van die Vader se leiding en van die energie wat Hy nodig gehad het om die Vader se wil te ken en uit te voer.

Dinge om oor te dink en gesels:

  • Wat is jou opinie oor dié opmerking wat ‘n predikant eendag teenoor Yancey gemaak het: “Moet ek ophou om God lastig te val met my onbelangrike versoeke namens myself en ander? Moet ek God liewer net met rus laat om die heelal te bestuur terwyl ek probeer omsien na die dinge hier onder?”

Perke van gebed

Tog lyk dit of gebed selfs nie eens vir Jesus ‘n eenvoudige saak was nie. Yancey het Jesus se aangetekende gebede nagegaan en gevind hy selfs met gebed die menslike toestand volledig belewe het.

Ray Anderson, ‘n teoloog, het uit Jesus se ervaring met Judas ‘n sleutelbeginsel omtrent gebed af: “Gebed is nie ‘n middel om die onbekende en onvoorspelbare aspekte uit die lewe te verwyder nie; gebed is eerder ‘n manier om die onbekende en onvoorspelbare in te sluit in die werking van God se genade in ons lewe.”

Lees bl 89-92.

Jesus se gebede vir Petrus – en dalk ook vir Judas – toon God se onbegryplike respek vir menslike vryheid van keuse. Selfs toe Hy bewus was dat sy intieme vriende Hom sou verraai, verloën en in die steek laat, het Jesus nie ingegryp met ‘n wonderwerk wat hul vryheidvan keuse sou vernietig nie. Hy het teen geweldige persoonlike koste die geskiedenis sy gang laat gaan gerwyl Hy bid dat selfs verraad en die dood geregverdig mag word as deel van die werking van God se genade.”

Gebede wat nie gebid is nie

Yancey leer net soveel uit die gebede wat Jesus nie gebid het nie, as uit dié wat Hy wel gebid het. Soos toe sy neef Johannes gevange geneem is en tereggestel sou word, het Jesus nie gebid vir sy vrylating en wonderbaarlike redding nie – soos Hy ook nie gebid het dat Satan vir Petrus moes uitlos of dat Judas van plan moes verander nie.

Sê nou Jesus hét gebid dat legioene engele Hom te hulp moes kom? Hoe sou die geskiedenis dan verloop het?

Wat van ‘n ouer se pyn?

Wat kan ek ten slotte uit Jesus se voorbeeld leer oor hoe gebed werk?

Nie ek of enigiemand anders kan beloof dat gebed alle probleme sal oplos en alle lyding sal uitskakel nie. Terselfdertyd weet ek ook dat Jesus sy volgelinge opdrag gegee het om te bid in die volle sekerheid dat dit wel ‘n verskil maak in ‘n wêreld waar God se wil nog teengestaan word.”

Waarom tree God so selde in met wonderbaarlike ingryping? Geen mens het volledige antwoorde nie. Al wat ons kan sê, is dat God klaarblyklik gekies het om “van onder na bo” eerder as “van bo na onder” op hierdie gebroke planeet te werk – ‘n patroon waaraan selfs God se Seun Hom onderwerp het. Geddeltelik uit respek vir menslike vryheid laat God dikwels toe dat dinge op aarde “natuurlik” verloop.

Nogtans het God sekerlik dieselfde deernis vir menslike lyding as wat Hesus getoon het toe Hy tussen ons gewoon het.

Ons weet dat gebed belangrik is omdat Jesus, nadat Hy van die aarde af weg is, dit een van sy vernaamste take gemaak het om vir ons by die Vader in te tree: “Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos. Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” Soos Jesus destyds vir Petrus gebid het, bid Hy nou vir ons, onder meer vir my en vir jou...”

Kommentaar - 1 opmerking sover

Amanda

Groot asb bid vir my man, hy raak so lou in die Here. Lees nie meer sy bybel, bid net wanneer ons eet. Werk baie hard, en geld raak weer vir hom alles. Hy is senies en baie negatief. Dit maak dit baie moeilik vir my, want ek is n leier in ons gemeente. Hy wil nie meer kerk toe gaan en alles wat gese word het hy ongeloof daarin. Kan nie meer so aangaan nie.
Uitgesit op Do., Mei 27de 2010, 13:01
Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na