Aanlyn-selgroep: Gebed, deur Philip Yancey.
Hoofstuk 10 – Kan gebed God verander?
Hoekom bid? Klaarblyklik hou God daarvan dat ons vra.
Lees bl 143-158
“Ek, die Here, het nie verander nie.” (Mal 3:6)
Darenteen staan in Hosea 11: “Efrain het geweier om hom te bekeer. Daarom sal sy stede deur oorlog verwoes word ... Maar ... Ek kan dit nie oor My hart kry nie. My liefde brand te sterk ... Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie ...” (Hos 11:5-6, 8-9)
Hierdie twee stellings, wat albei in die Bybel aangeteken is as die woorde van God, verteenwoordig ‘n geheim, ‘n skynbare teenstrydigheid. Eintlik wil ons naturlik iets van albei hê: ‘n betroubare God op wie ons kan reken en tog ook ‘n God wat aandag aan ons gee en op Wie ons gebede ‘n invloed het.
Namate wetenskaplike ontdekkings verklarings verskaf het vir verskynsels wat mense vroeër as deel van die Goddelike Voorsienigheid beskou het, het die mense van die Verligting al hoe minder rede vir gebed gesien.
Die Bybel se standpunt
As mens egter na die Bybel se beskouing van die geskiedenis kyk, sien jy ‘n uitbeelding van God as ‘n persoonlik Wese wat aandagtig luister na gebede en dan daarop reageer.
God se alwetendheid skrik sommige mense af van gebed: Hoekom sal ‘n mens bid as God reeds weet? Maar Jesus het God se alwetendheid nie beskou as ‘n ontmoediging nie, maar eerder as ‘n aansporing om te bid. Ons hoef nie met lang woorde en groot vertoon God se aandag te probeer trek nie ... God se oor is as’t ware reeds oop vir ons.
Die Bybel toon deurgaans dat mense God op sowel positiewe as negatiewe wyse diep kan raak. God “stel prys op dié wat Hom dien, dié wat hulle hoop vestig op sy trou”. Tog vertel die profete ook dat God soms moeg raak vir ongehoorsaamheid en dat sy geduld uiteindelik opraak: “Ek het lank stilgebly, Ek het geswyg, My bedwing. Maar nou skree Ek soos ‘n vrou wat ‘n kind in die wêreld bring. Ek hyg, Ek snak na asem.”
’n Voortgaande taak
Hoe versoen ons die onveranderlike God wat in die Bybel beskryf word met die genaakbare God wat óók in die Bybel beskryf word? Charles Finney het gesê: “As jy vra hoekom Hy hoegenaamd gebede beantwoord, moet die antwoord wees: Omdat Hy onveranderlik is.” ‘n God wat byvoorbeeld die onveranderlike eienskappe van liefde en genade het, moet ‘n sondaar wat berouvol bid, vergewe. God verander van koers in reaksie op die sondaar se kersverandering, en doen dit op grond van daardie genoemde onveranderlike eienskappe. “
Andrew Murray het na die Drie-eenheid verwys vir ‘n leidraad oor hoe God van plan kan verander. Ons het gesien hoe Jesus op aarde staatgemaak het op gebed om met die Vader te verkeer en versoeke te rig waarvan sommige ook nie toegestaan is nie. Nou verteenwoordig Jesus as ons voorspraak die mense se belange binne die Drie-eenheid. Die apostel Paulus bevestig dat die Heilige Gees ook ‘n intieme rol in gebed speel. “Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.”
CS Lewis het geargumenteer oor die feit dat gebed God kan verander. God kon dinge gereël het, sodat ons liggaame hulself wonderbaarlik, sonder kos, kon voed, kennis in ons brein beland sonder at ons leer, sambrele wonderbaarlik verskyn om ons in reënbuie droog te hou. Maar God het nie; God het verkies om die wêreld op ‘n ander manier te regeer, deur ‘n vennootskap wat staatmaak op menslike werksaamheid en keuse.
Gebed is ‘n verklaarde instrument van God se mag, so werklik en “natuurlik” as enige mag van God kan gebruik.”
Tydlose kompleksiteit
Yancey sê sy leeswerk oor moderne fisika en kosmologie het hom oortuig dat wesens wat gebonde is aan tyd en plek nooit eens ‘n vae begrip kan kry van die wette wat die heelal in stand hou nie.
As God dan tydloos, of “buite die tyd” is, hoe beïnvloed dit gebed? CS Lewis het by geleentheid besluit ddit is redelik om twaalfuur die middag te bid oor ‘n mediese prosedure wat tienuur die oggend plaasgevind het, mits ons nie weet wat die uitslag daarvan is wanneer ons bid nie. Hy skryf: “Die gebeurtenis is sekerlik bepaal – in ‘n sekere sin is dit bepaal voor die bestaan van die wêred. Maar een van die dinge wat in berekening gebring is toe dit bepaal is, en wat dit dus werklik laat gebeur, kan dalk juis daardie gebed wees wat ons nou opstuur.”
Yancey sê gebed is ‘n manier om my eie begeertes in ooreenstemming met God s’n te bring en dan, verwyl ek hier op aarde is, God se wil vir die ewigheid te help uitvoer.
“In gebed vra en kry ek geleidelik vertroue in Gopd se liefde, regverdigheid, genade en heiligheid, ten spyte van alles in die lewe wat daardie eienskappe van tyd tot tyd onder verdenking kan bring.”
“So dikwels raak dinge in die wêreld vir my te veel en dan wend ek my tot gebed. Net so dikwels draai my benoudheid na binne wanneer ek dink aan familie, vriende en bure, van wie so baie ‘n stryd voer teen siekte, egskeidings, geldprobleme, kinders wat in die moeilikheid is. Tot my skande verdring kleinlike kwellings in my eie lewe dikwels my kommer oor en gebede vir ander ... En wanneer ek my sonde teenoor God bely, besef ek dit is dieselfde dinge wat ek gister en verlede week moes bely. Sal niks ooit verander nie. Sal ék ooit verander? Gaan na jou kamer, maak die deur toe en bid tot jou Vader, het Jesus aangeraai. Ek stel my voor hoe ek presies dit doen: met my dringende tydebonde laste na ‘n kamertjie gaan en God vra om my te hernu, te verfris en te herinner – met ander woorde, om ‘n bietjie ewigheid in my te giet. Maar hoeveel keer doen ek dit regtig?
Tydlose liefde
Drie en dertig jaar lank het Jesus Hom gestroop van die prerogatiewe van sy Goddelike aard, onder meer van alwetendheid en daardie tydloosheid wat die hele geskiedenis in een blik kan sien.
Jesus dink terug aan die lewe voor die aarde bestaan het, die ewigheid voor tyd. In hierdie lang, stralende gebed gee Hy die uiteindelike antwoord op die vraag “Hoekom?” Hoekom die skepping? Hoekom wilsvryheid? ... Van die begin, vóór die begin, was dit God se wil om die liefde en gemeenskap – die lewe – wat die Godheid voor die skepping, nou en vir eweig geniet, te deel met ander skepsels. Ten spyte van alles wat gebeur het en gaan gebeur, is God daartoe verbind om die skepping te herstel tot sy oorspronklioke ontwerp, om volmaakte gemeenskap en liefde met die mens te herwin.
Maak versoeke bekend
Hoekom bid? Klaarblyklik hou God daarvan dat ons vra. God het beslis geen behoefte aan ons wysheid of kennis nie, selfs nie eens die inligting in ons gebede nie.
Dink aan die daad van belydenis. As ek my sondes voor God bely, vertel ek Hom iets wat Hy reeds weet. Tog maak die daad van belydenis die verhouding op die een of ander manier dieper en hegter as wat andersins moontlik sou wees.
Deur gebed eerder as meer direkte metodes te gebruik, kies God weer eens die optrede wat vryheid die beste bevorder. God wag tot ons Hom vra, en daardeur maak God sy optrede op aarde op ‘n ondeurgrondelike manier afhanklik van ons.







Kommentaar - 1 opmerking sover
A3D
Dis nie altyd maklik om altyd aan die wete vas te hou nie want ek dink tog dit word in 'n mate deur jou geloof bepaal. hoe sterker jou geloof hoe meer sal dit voel of God jou ook in Sy besluitneming ken. En dit is wat dit soms moeilik maak die feit dat dit voel of 'n mens se geloof jou in die steek laat. The battlefield of the mind. Hoe verduidelik 'n mens vir ander " Jy moet net glo" want in die praktyk is dit nie altyd so maklik nie. As jy sien 'n ander verloor haar geloof, hoe help jy haar weer om dit terug te kry. Ek weet dit is waar God inkom want ek kan vir haar in gebed tree en Hom toelaat om die onmoontlike te doen , maar as ek self twyfel of die onmoontlike kan en sal gebeur? Die artikel is insiggewend maar om dit in die praktyk toe te pas, is die ding! Dit sou seker makliker gewees het as God self in Persoon hier langs 'n mens kon sit. Die vraag aan die ander kant van die spektrum sou dan weer wees: sou ons dan met Hom gesels het of sou ons Hom geignoreer het? Ek het nogal vertroue in die skrywers van wie daar in die artikel melding gemaak word, so dit maak die artikel vertrouenswaardig. Dankie Leef vir 'n deurvattende artikel.