Aanlyn-selgroep: Gebed, deur Philip Yancey.
Aanlyn-selgroep: hoofstuk 3 - Nes ons is
Ons bestudeer die boek van Philip Yancey: Gebed, Maak Dit Enige Verskil?
Lees bladsy 33-48
In hierdie hoofstuk wonder Yancey of die woorde wat ons gebruik nie eintlik maar ‘n onbelangrike deel van die gebed is nie. Per slot van rekening: Wie is ek? En wie is God? As mens daardie twee vrae kan beantwoord, skuif die wóórde wat jy gebruik wanneer jy bid, na die agtergrond.
Lees die brief wat ene Mark aan hom geskryf het:
“Wat is die hemelse beloning vir dié van ons wat nié God se werk in die agterbuurte doen nie? Of vir dié wat ‘n daaglikse stryd met pornografie voer, sodat ‘n dag sonder die internet vir hulle as ‘n groot deurbraak tel?... Moet ‘n mens ‘n gesonde Christendienaar van God wees om God se genade te ontvang?”
Yancey het hom geantwoord dat God se genade soos water vloei, al laer en laer tot by die laagste deel. “Trouens, hoe kan ons genade ervaar ánders as deur ons tekortkomings? In Jesus se tyd het belastinggaarders, prostitute en onrein mense hul hande uitgesteek om God se genade te ontvang, terwyl mense in die godsdiensberoep eerder hul hande in vuiste gebal het. Oop hande is die enigste vereiste om ‘n gratis geskenk te kan ontvang.”
Om Dawid aan te haal: “U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.”
Skuldig
Baie boeke met advies lê besondere klem op sondebelydenis. Yancey het dit altyd pynlik gevind om gestroop te word van sy van sy illusies en om homself geopenbaar te sien in die ongenaakbare lig van God se waarheid. Wat maak belydenis so noodsaaklik? Maar, kom hy agter, belydenis is vir ons eie beswil. “Soos baie getroude mans moes ek in my huwelik uitvind dat onderdrukte en doodgeswygde kwessies nie weggaan nie. Inteendeel.” In Ps 139 roep die psalmdigter: “Deurgrond my, o God ... Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie.” Om ‘n einde te maak aan my en jou selfbedrog het ek God se alwetende help nodig om ons verborge oortredings soos selfsug, hoogmoed, bedrog en ‘n gebrek aan deernis uit te roei.
Lees op bladsy 36 van Walter Wangerin en sy stryd om hardop saam met sy vrou te bid.
Dinge om oor te dink en gesels:
- Hoe voel jy oor skuldbelydenis in gebed, het jy dieselfde wroeginge om gestroop te wees?
Hulpeloos
Die Noorweegste teoloog Ole Hallesby het gesê: “Slegs iemand wat waarlik hulpeloos is, kan waarlik bid.”
Wat ‘n struikelblok! Ons streef dan byna van ons geboorte af al na selfstandigheid. Die waarheid is egter dat ons nié selfstandig is nie. Gebed dwing my om my ware toestand onder oë te sien.
“In ‘n wêreld wat sukses ophemel, word ons hoogmoed ontwapen wanneer ons ons swakheid erken, en dit maak ons afhanklik van God se genade. En swakheid en afhanklikheid is nie juis eienskappe wat in ons wêreld waardeer word nie. Maar aan die ander kant word juis die swakheid wat ons tot gebed dryf, ‘n uitnodiging aan God om met deernis en almag teenoor ons te reageer.”
Nederig
Yancey sê daar was ‘n tyd toe hy nie waardering gehad het vir nederigheid nie, omdat hy dit verwar het met ‘n negatiewe selfbeeld.
“Dit het vir my gelyk of nederige Christene kruiperig is en enige kompliment afweer met ‘n houding van: ‘Ag dit nie ek nie, dis die Here’. Maar intussen het ek ware nederigheid in aksie gesien by die mense wat ek die meeste bewonder. Vir hulle is nederigheid ‘n voortgaande keuse om aan God die eer te gee vir hul natuurlike gawes en om dan daardie gawes in God se diens te gebruik.”
Lees voorbeelde op bladsy 40: dr Paul Brand, Harold Myra en pres. Jimmy Carter.
So waarom waarde heg aan nederigheid in ons benadering tot God? Omdat nederigheid ‘n akkurate weerspieëling is van ons ware toestand. "Oor die meeste aspekte van die mens wat ek is het ek min of geen beheer gehad. Op ‘n groter skaal kan ek ook hoegenaamd niks doen aan die draai van die aarde, of sy baan om die son wat sorg vir die regte afstand sodat ons nie vries of braai nie... Daar is ‘n God, en dis nie ek nie.”
Twyfelend
In een van sy kortste gelykenisse vertel Jesus van ‘n man wat in ‘n saailand na ‘n skat soek. “As ek daaraan dink, konsentreer ek maar te dikwels op die feit dat die skat versteek was en aan die werk wat dit gekos het om dit op te grawe. Dit voel immers vir my of baie omtrent die Christelike geloof versteek is ... Soos die man in die gelykenis hou ek aan grawe, op soek na maniere om ‘n leerstelling soos die Drie-eenheid só te verduidelik dat Joodse en Moslemvriende dit kan verstaan. Ek bevraagteken die koste van God se lang-langtermynplan vir verlossing en herskepping. Kan dié stadige pas regtig al die pyn werd wees, onder meer God se eie pyn? Waarom sou God ‘n reddingsplan vir die mens in werking gestel het, maar nie vir die gevalle engele nie?”
Lees bladsy 42 oor Yancey se ervaring met die Japanese predikant.
En dan kom hy tot die slotsom: “Ek moet erken dat ek die punt van Jesus se gelykenis oor die man wat na ‘n skat in sy saailand soek, misverstaan het. Die man moes dalk hard werk om die skat te vind, maar omdat hy dan ‘baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land’. Ek twyfel of hy ná daardie ontdekking juis gedink het aan die moeisame spitwerk.”
Dinge om oor te gesels:
- Watter twyfelings is daar in jou gemoed oor gebed en God?
Eerlik
Yancey vertel van ‘n vrou wat een keer in sy klas opgestaan het en die volgende gesê het: “Ek is nie altyd opreg wanneer ek bid nie. Soms voel dit gedwonge, meer soos ‘n ritueel. Ek sê net woorde op. Luister God na sulke gebede? Moet ek aanhou bid al het ek geen vertroue dat ek dit reg doen nie?”
Sy antwoord? God wil ons bo alles eerlik, ons onvervalsde self, hê. Hy nooi ons uit om hierdie verborge deel van onsself voor Hom oop te vlek.
“Dalk is dit wat ek dink en voel terwyl ek bid, eerder as die woorde wat ek sê, die suiwerste gebed, want God ‘hoor’ dit ook.” Lees Ps 139:7-8 ter stawing.
As ek nie eerlik is met God nie, omtrent bitterheid oor ‘n onbeantwoorde gebed, skuldgevoel oor my onvergewensgesindheid teenoor ‘n naaste, of ‘n onverklaarbare gevoel dat God afwesig is – sal daardie verhouding ook oppervlakkig bly.
Blootgestel
Gebed nooi my om my hele lewe na God te neem, sodat Hy dit kan reinig en herstel. “Ek doen dit met huiwering, skaamte en vrees, maar as ek sover kom, voel ek hoe daardie voorbehoude wegval. My vrees vir verwerping vervaag voor God se omhelsing.”
Soos God gesê het: “Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer.”
Lees op bladsy 47 van David Ford se vrae. Yancey het besef dat dit ‘n mens se beeld van God is, meer as enigiets anders, wat bepaal hoe eerlik jy in gebed is. Vertrou ek God met my naakte self? Die apostel Paulus het gebid: “dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees,” en vervolg: “Mag julle in staat wees om saam met die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.”







Kommentaar - 2 opmerkings
Anne-marie
Ek het ook dae wat dit vir my voel asof ek bid, maar daar kom niks van daardie gebed nie. Ek het agtergekom daardie dae is wanneer ek regtig iets verkeerds gedoen het. Maar sodra ek dit bely en vir die Here onverskoning vra (Hy weet anyways van alles) kan ek onmiddelik voel hoe God met my terugpraat terwyl ek bid. Ek roep die Here aan. Vir my is dit belangrik dat ek nie net moet die hele tyd bely nie, maar dat ek God ook prys en dank in my gebede. Lofprysing is seker vir my die belangrikste tydens gebed! Bely ALLES. God wag net vir elkeen van ons om te bely en dat ons besef hoe afhanklik ons van Hom is want Hy is ons baba wat lewe aan ons gegee het en Hy sal ons nooit vergeet nie!Linda du Plessis
Ek voel dat skuldbelydenis n baie belangrike (onmisbare) deel van gebed moet wees. Het nog nooit wroeginge gehad om gestroop te word nie. Ek wonder dikwels of ons gebed gebruik waarvoor dit eintlik bedoel is. Is gebed daar vir ons elke dag se behoeftes, bv. n nuwe motor, hoer inkomste ens of is gebed dalk net daar vir ons Geestelike behoefte soos, bv. vergifnis van sonde, liefdesverhouding met God, die ewige lewe ens.?