Hessel en Etresia van der Walt oor die dood van 'n kind
Simfonie van Lig
Hul geskiedenis het hul bediening geword - lof en verlies leef nou sy aan sy in hul hart, vertel sanger Hessel van der Walt en sy vrou Etresia oor hul seun se dood.
Hessel van der Walt se handskud is ferm, die bruin oë blink vriendelik. Sy ewe gawe vrou, Etresia, is uitgevat in fleurige pers. Haar rooiblonde, gestreepte kapsel is vrolik byderwets.
Dit is warm en winderig in Parys. Vlieswolkies vlieg voor die son.
“Die plaas kleef aan die plek,” glimlag Hessel. “Hier hang heeldag ’n lofkombers van duiwe wat koer oor die dorp.”
Die groot agtertuin is inderdaad ’n prentjie van rus: ’n statige pekanneutboom, vrugteboord, ’n melkkan-fontein in ’n groentesirkel. Die egpaar is 38 jaar getroud en ken mekaar al vier dekades. “Toe ons ontmoet het, het sy vir my ‘oom’ gesê!” verklap Hessel.
Agter die hartlikheid skuil daar hartseer. Etresia beduie na die geraamde foto-collage in die voorhuis; ’n huldeblyk aan hul seun Hessel wat vier jaar gelede, twee dae ná sy troue, saam met sy jong vrou verongeluk het.
“Ons wou ’n oorsig van sy kreatiewe lewe saamstel,” vertel Etresia. Sy kyk na foto’s van Hessel jr. as baba, skoolseun, Comrades-atleet, diepsee-duiker, perdeboer, avonturier. Elfuur sny Etresia bros souttert en melktert; Hessel sit sy spesiale koffie voor. “Haar melktertresep het die plaaslike koerantjie gehaal,” spog hy.
Sy sestigste verjaardag onlangs was ’n glansryke okkasie wat geld vir Kansa ingesamel het. ’n Groot mylpaal.
“Ek is sestig, ons is veertig jaar op wittebrood, ek vier dertig jaar in die musiekbedryf en ons het tien keer in Israel getoer...”
Gemeentes nooi hulle gereeld om hul getuienis en verhaal van hoop te deel. Sommige groepe bestaan net uit ouers wat kinders verloor het.
“Dis nie lekker om heeltyd oor die dood te praat nie,” erken Hessel. “Ons word elke dag daarmee gekonfronteer. Onlangs het ons van Duitsland af teruggekeer, en daar was vyf ongelukke van die lughawe af tot by die huis! Maar jy kan nie toelaat dat die storm daar buite ’n storm in jou hart word nie.”
Hessel blaai deur ’n notaboek waarin hy gedagtes, idees en teksverse neerskryf. “Die dood van ’n kind verander jou lewe ingrypend. Niks is ooit weer dieselfde nie. Jy reageer nie dieselfde op situasies nie. Jou geskiedenis word jou bediening.”
’n Hemelse troue
Hessel was die tweede kind wat hulle aan die dood afstaan. In 1976 het Gerrit, ’n babaseun van ses maande, in ’n fratsongeluk versmoor. Maar dis die 30-jarige Hessel wat alles verander het.
Kort voor die troue, tydens huweliksvoorbereiding, het Hessel en sy verloofde opnuut ’n oorgawe aan Christus gemaak.
Hulle is met die doop bedien; toe die nagmaal. En met dié woorde gesalf: “Dié huwelik is vir die hemel bestem.”
Die predikant het tydens sy voorhuwelikse gesprek met hulle byna dieselfde gesê. Die paartjie se wens was dat die nagmaal weer tydens die huwelikseremonie aan hulle bedien word.
Dit was ’n droomtroue met geel rose en 128 gaste. Die jong paartjie het die naweek in Hessel en Etresia se gastehuis by Hartbeespoortdam gebly.
Vroeg Maandagoggend het hulle op wittebrood vertrek. “Ons het vir hulle gebid, soos altyd,” onthou Hessel.
Ná die bruilof is die foon van die mikkie afgehaal. Toe dit teruggesit word, het dit dadelik gelui. Hessel het geantwoord.
Die polisie het die tyding oorgedra. Daar was ’n kop-aan-kop-botsing en niemand het oorleef nie.
“Jou bodem val uit. Dis so onwerklik,” onthou Etresia. “Troublomme het begrafnisblomme geword. Ons moes ’n vriendin bel wat op die troue was en pas in Kaapstad geland het; haar vra om terug te kom vir die begrafnis.
“Al huil ek die Hartbeespoortdam vol, hy gaan nie terugkom nie. Party mense het lomp opmerkings gemaak omdat hulle nie geweet het hoe om die situasie te hanteer nie...
“Ons het op grond van Spreuke 4:23 besef dat ons ons hartkamers moes bewaar. Meer as enigiets anders, sodat daar nie ’n storm of bitterheid ontketen word nie. Ons glo dat daar in die hemel nie plek vir bitterheid sal wees nie.”
Hulle het nooit haat of woede teen die ander bestuurder gekoester nie, al het hy sonder ligte teen ’n hoë snelheid gery.
“Ons het ervaar hoe duisende mense ons vashou en vir ons bid en het besef: Êrens het daar ook ’n ma gewag vir iemand wat nooit weer sou opdaag nie.”
Eenkanttyd by God
Daar is seisoene van rou, glo Etresia: “As jy nie normaal daardeur gaan nie, boet jou liggaam.” Elf maande ná die ongeluk het sy in die hospitaal beland met ’n ligte beroerte.
“Jy voel so afgestomp. Dit lyk of jy alles goed hanteer. Jy glimlag en tree sonder emosie op. Mense sien dit as sterk en dit word etiket. En op ’n dag sê jou lyf: Stop die bus!”
Ses weke ná die treurspel was sy besig om met Hessel te gesels toe hy haar skielik onderbreek met: “Net ’n oomblik!
“ ’n Simfonie van lof!” het hy saggies laat hoor. ’n Ingewing van die Heilige Gees.
“Ons seun het altyd gesê ek moet ophou Miekie Muis speel, ons moet groot dink oor geestelike musiek.” Die idee vir ’n lofalbum en DVD het vorm gekry; ’n viering van God se goedheid en omgee.
In September 2005 het ’n wildvreemde man hulle genader met die inspirerende woorde: “Die storie sal julle oorleef...”
In April 2008, drie jaar ná die ongeluk, het Hessel drie minute lank sy getuienis op SABC3 se nuus gelewer. “Iets wat nooit gebeur nie!”
Hulle het die gastehuis verkoop en ’n huis elders begin soek. Eiendomme was duur en Hessel wou op Parys gaan kyk.
Etresia wou eers glad nie Vrystaat toe trek nie.
“Die eerste agent het ons hierdie huis kom wys. Dit was ’n lelike huis, maar die ligging was mooi, die prys goed. Weerskante het ons die wonderlikste bure. Hulle het sjokoladekoek, sjampanje en gekookte kos aangedra, gehelp met die waterpype...”
Op die huis se voorkant het hulle die woorde “Geloof, Hoop, Liefde” aangebring.
Parys was die begin van ’n sabbatsjaar waarin alles wat bekend was, weggeval het. “Ons moes van nuuts af inskakel. Ons het niemand geken nie; niemand het ons geskiedenis geken nie. In ’n sekere opsig het ons soos immigrante gevoel.
“Dit was ’n kans om regtig God se Stem te hoor. Hessel het baie hardop gebid. Ons het geweet ons doen iets reg toe die bure se pappegaai begin ‘Halleluja!’ sê,” lag Etresia.
“Dit was ’n wilsbesluit: ‘Hessel is dood, maar ons taak is nie afgehandel nie.’ As jy ’n stukkie van God se meesterplan gesien het, leer jy aangaan. Dis verby die grense van verstaan...
“Die lewe gaan oor keuses. Gaan jy by die duisternis stilstaan of in die lig in beweeg? As ons eerlik wil wees, moet ons erken die pad vorentoe is korter as die pad agtertoe...”
Onwaarskynlike vlerke
Hessel jr. was “sosiaal begaafd” en sy dood het vele jongmense se lewens diep geraak, vertel sy ouers.
“Hy het in Brits gewoon en baie by ons gekuier. Hy’t ons gereeld blootgestel aan dinge buite ons verwysingsraamwerk. Sy dood het ons ook geleer om anders na mense te kyk.”
Ander lesse wat hulle by hom geleer het: “Niks kan eerlikheid en integriteit vervang nie. Karakter is wie jy is wanneer niemand by jou is nie.”
Tydens ’n toer na Israel is hul gids, Isak Burger, ’n paar dae vertraag. Hessel het as toergids ingestaan en besef hy geniet dit.
Die Heilige Land het hulle oorrompel. Hulle het weer gegaan, en nou keer hulle gereeld terug met klein toergroepe.
Die DVD van ’n Simfonie van Lof is grootliks daar op bekende Bybelse plekke verfilm. Tydens ’n opname op ’n boot op die meer van Galilea het grys stormwolke skouspelagtig agter Hessel saamgepak.
“Glo my, ons het dit nie so gereël nie. Daar ontmoet ek altyd die Meester van ons storms. Die troos vir gelowiges is dat daar ’n anderkant is. Hy is die Begin en Voleinding van ons geloof. Ek ken die Meester van die wind...”
Hessel glo daar rus ’n salwing op hom noudat hy sestig geword het: “Nie oor ek oulik is nie. Jongmense verwys na my as ’n rolmodel, mentor, ’n geestelike pa...”
’n Simfonie van Lof is vanjaar vir ’n SAMA benoem – “beslis ’n loopbaanhoogtepunt, maar ook ’n teken dat ons God reg gehoor het.” ’n Geliefde sangmaat is sy dogter, Mariesia (37). Hulle is die eerste pa-dogter-sangpaar wat plaaslik goue status behaal het.
“Liefde is ’n werkwoord. As jy die werk daaruit haal, bly net die woord oor,” glo Hessel van die huwelik. “Etresia het die gawe om al my foute te begrawe sodat ek foutloos is.”
Hulle het betrokke geraak by ’n ouetehuis en hul bediening van verlies gaan voort...
“Ek kan steeds vir niemand sê ‘ek weet hoe jy voel’ nie. Hoe kan enigiemand?” vra Etresia. “Elke verhaal, elke verhouding tussen ouer en kind is uniek. ’n Kind is die verlengstuk van jou drome. Nee, daardie pyn het nie ’n naam nie.
“Kinders wat hul ouers verloor, noem jy weeskinders. ’n Man wat sy vrou verloor, is ’n wewenaar, en ’n vrou wat haar man verloor ’n weduwee. Maar wat noem jy ouers wat hul kind verloor? Verwese?
“Mense vra dikwels: ‘Mis jy hom? Word dit beter?’ Die gemis is soos die uitspansel oor ons. Dis altyd daar, maar jy leef. Jy moet daardeur. Maar God is ook daar, en Hy vertroos en koester jou. Ander mense dra jou daardeur, want waaragtig, jy kan nie altyd bid nie.
“Daar is soveel goed om oor bly te wees. Ons kleinkinders vervang nie vir Hessel nie, maar hulle maak ons lewe vol.
“Hessel se dood het ons vlerke gegee om los te kom van allerhande goedjies,” mymer Etresia en glimlag skielik. “Ek wou nooit reis nie, ek was baie huisvas. Israel is ’n reuse-bederf!”
Hessel deel verlaas sy boodskap vir jong sangers: “Liewe jongmens; in jou gelukkige dae, prys God. In jou moeilike dae, soek God. In stil dae, aanbid God. In pynlike dae, vertrou God. Maar elke oomblik en elke dag, dank God.”
Bel Hessel en Etresia by 082 457 7747, of stuur vir hulle e-pos na simfonie@telkomsa.net







Kommentaar - 1 opmerking sover
Nita Brand
Hessel, was gisteraand in Langebaan by jou optrede. Wow dit was fantasties! was die heeltyd bewus van God se teenwoordigheid. Dit het my opnuut laat besef hoe wonderlik ons Here is en dat hy leef. Ek het ook 'n kindjie aan die dood afgestaan en my man is ook 2 jaar gelede oorlede, maar Jesus dra my elke dag deur al die storms van die lewe. Sal elke dag vir jou en jou vrou bid en hou aan met die wonderlike werk wat jul doen. Baie liefde Nita Brand