Te besig vir bid?

deur Jimi le Roux, verwerk deur Inge Verster Deel met ander Kommentaar (1)
 
0/5.0
Te besig vir bid?

Diep in jou hart begeer jy om stiller, stadiger, nader aan God te leef. Een manier is om by die antieke kerk te leer oor die dissipline van daaglikse gebedspouses, ook genoem Die Ure.

06:00 - Laude (Eerste uur van die dag)

Die eerste uur van die dag - God skep 'n nuwe dag, propvol potensiaal! Beskou elke sonsopkoms as 'n heilige oomblik, want God se grootheid en genade is aan jou bewys. Loof God vir Sy goedheid!

Lees: Psalm 113:1-6 - Prys die Here! Prys, dienaars van die Here, prys die Naam van die Here! die Naam van die Here moet geloof word, nou en vir altyd. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die here geprys word!"

Oordink: Maak dit 'n gewoonte om jou gebede met lof te begin, nie versoeke nie.

09:00 Terce (Derde uur van die dag)

Hierdie is die tyd van sterk begin, van geloof en krag. Dis heerlik vars, alles voel jonk en nuut. die beplanning is gedoen, ons sal die doelwit bereik, 'n goeie dag lê voor.

Lees: Psalm 119:24-26 - "Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees. Ag Here, gee tog heil; ag Here, gee tog voorspoed! Geseën is Hy wat kom in die naam van die Here! Ons seën julle uit die huis van die Here."

Oordink: Hierdie dag is 'n eenmalige, Goddelike kans. Jy kan kies of jy hierdie 24 uur wil gebruik of verloor.

12:00 Sext (Sesde uur van die dag)

Ons werk hard en gefokus, daar's reeds baie gereik. Nou is die tyd van God se werk en die Skepping wat Hy deur Sy woorde tot stand gebring. Ons is diep bewus daarvan dat ons mede-skeppers in God se werk op aarde mag wees. Kyk na die son, voel die warmte, dank God vir Sy genade en goedheid oor jou.

Lees: Genesis 2:19 - Die Here God het toe uit die grond na al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou hoen, en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.

Oordink: God maak jou 'n medewerker in die Skepping en dis jou opdrag om in jou eie stukkie Tuin te heers - God gee jou die nodige gesag daarvoor. Onder God skep jy jou eie realiteit.

15:00 None (Die negende uur)

Ons voel die tamheid laatmiddag intree. Ons vra nou om die dag se porsie werk met verantwoordelikheid af te handel. Besluit wat jy vandag nog moet klaarkry en vra die Here vir krag. Besluit ook wat nié gedoen gaan word nie en aanvaar dit met vrede.

Lees: Psalm 127:1-2 - As die Here die huis nie bou nie, swoeg die wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm tevergeefs.

Oordink: Uiteindelik is dit nie ons werk wat die deurslag gee nie, maar die Here se guns en genade. Daar is dinge wat ons kan en moet doen - en dan is daar dinge wat net die Here kan doen.

18:00 Vespers (Aand)

'n Tyd van danksegging. Die werk is oor, die rus begin. Ons kyk terug oor die dag en reflekteer - die and is vol wysheid. Ons breek ons swaarverdiende brood en vier die dag.

Lees: Genesis 1:31 - Toe het God na alles gekyk wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Die het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

Oordink: Telkens as die Here iets geskep het, was hy tevrede met Sy werk. Ons werk nie so volmaak soos die Here nie, maar ons kan ook terugkyk en verklaar dat dit goed is. Jy het jou bes gedoen, dis goed genoeg.

21:00 Compline (Voltooi)

'n Tyd van rustigheid, aanbidding en oorgawe. Ook tradisioneel die tyd vir storievertel en lewenswyshede oordra. Lê ontspanne in jou bed en aanbid die Here.

Lees: Jesaja 40:30-31 - "Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs, maar dit wat op die Here wag, kry nuwe krag, hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie."

Oordink: Die Here leer ons dat ons op Hom moet wag. Dis baie belangrik, juis omdat ons so oorhaastig leef. Die lewensles hier is om stadiger te leef, met meer vrede en groter vertroue. Besef dat die Here oral is: binne en buite, in vandag en ook in môre. Raak nou rustig aan die slaap.

24:00 Nocturne (Naggebed)

Ons vrees dikwels die duister, maar die nag kan ons ook koester. Ons kan dit gebruik om na binne te keer en God in die stilte te vind. Dis 'n tyd vir introspeksie, meditasie en intimiteit. En die wonder wonder van die nag is dat dit 'n nuwe dag inlui. Die einde is nooit die einde nie, maar die begin. So ook is die sterwe net 'n wedergeboorte tot 'n nuwe lewe.

Lees: Galasiërs 2:21-22 - "Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in y. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het."

Oordink: Stwerwe is oorgawe aan die niks, in die vertroue dat God ook daar sal wees. Gee nou bewustelik oor an God

Wil jy meer weet?  Jimi le Roux is 'n leraar by Mosaïek-gemeente in Fairland, Johannesburg en skrywer van Liturgie vir die Lewe, 'n gebedsgids oor Die Ure. Stuur vir hom 'n epos of besoek sy webwerf.

Lees ook Praying with the Church deur Scott McKnight en The Divine Hours deur Phyllis Tickle.

Kommentaar - 1 opmerking sover

Rialize

Dit is presies wat ek nou gaan doen. Dankie!!
Uitgesit op Woe., Jun. 23de 2010, 12:21
Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na