'n Skoon doek

deur Milanie Vosloo Deel met ander Kommentaar
 
5/5.0
'n Skoon doek

Soos 'n splinternuwe skilderdoek op 'n esel, so staan die nuwe jaar voor jou en wag dat jy jou eerste kwashale daaroor moet verf.

Langs jou lê die palet van lewe: volgepak met kleure en geleenthede wat graag die buitelyn van jou lewe vrolik wil vul. En in jou hart? Daar's die verskillende kwaste wat jy kan gebruik om van vanjaar 'n meesterstuk te maak.

Het jy al besluit wat jy in hierdie jaar op jou skilderdoek van die lewe wil verf?

Bid dat jy nuut sal glo. Vra dat die Heilige Gees al die twyfel-vrae uit jou gemoed sal vee sodat jy met groter oortuiging sal aanbid, van voor af jou afhanklikheid sal verklaar en van nuuts af sal vertrou dat God presies weet hoe Hy jou lewensprentjie wil skilder.

Dink nuut oor jou menswees. Gooi daardie ou verbleikte denke oor jouself weg en laat toe dat jou Skepper jou vertel hoe helder en kleurryk jou lewe kán wees.

Stof jou versteekte talente af en span dit in om van die wêreld 'n beter plek te maak. Ja, leef die ware jy!

Hanteer jou verhoudings nuut. Leer die kuns aan om voortdurend te vergewe, minder veroordelend te wees, en met 'n opregte hart die mooi in mense uit te lig.

Wees mildelik in die liefde. Laat dit die suiwerende water wees waarin jy elke gesprek en optrede doop.

Leef vanjaar so nuut dat jou Vader met goedkeuring onderaan jou lewe sal skryf: Sy is Myne. Want Ek het haar nuut gemaak.

U Meesterstuk

Skepper-Vader, vanjaar wil ek regtig emt 'n nuwe hart en 'n nuwe gees leef. Ek wil elke dag so gevul wees met U heiligheid dat dit sal wys in alles wat ek dink, sê en doen.

Ek wil die meesterstuk-vrou wees wat U bedoel het ek sal wees. Ja, ek wil so leef dat ander na die prentjie van my lewe sal kyk en U daarin sal sien.

Kommentaar - Geen kommentaar sover

Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na