Kindersêgoed
Koringkrieke, Vaal-oor en Oliegat
Ons het julle op Facebook gevra om ons te vertel van jul kleingoed se oulike sêgoed oor Jesus en die Bybel, en ons is oorval. Hier is die bestes.
My seun Diaan is 7 jaar oud en vandat hy kon praat, het hy ‘n ongelooflike vermoë om ons almal in die huis (en familie) te amuseer. Vroeg eergisteroggend roep my man uit die badkamer na my oudste seun Kobus (12) om die gif te bring, want daar is miertjies wat hy wil spuit.
Diaan spring orent uit ‘n half-slaap toestand en skree ons moet dit asb nie doen nie, want “... ek het iets wat vir my heeltemal sin maak dat ons dit NIE moet doen nie...” !!!
Hy het by die trappe afgenael na sy skooltas toe, en ‘n gefrommelde papiertjie in my hand kom druk...
... die papiertjie spreek vanself...

"Spr 6:6 "Gaan na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk en leer by hom"
En o ja, die miertjies hol nogsteeds in die badkamer rond...
Christa Louw
Elke keer na ons tafelgebed klap ons dogtertjie (3 en ‘n half) hande en skree kliphard "Jeaaaah!" En sy sing aanhoudend "Vader Abraham", met die bewegings.
Heidi Wahl
Ons vier kinders het elkeen 'n ander aand gehad om vir almal te bid na huisgodsdiens. Die oudste twee sussies was ewe deftig en het gebid vir die ministers in die kabinet. My boetie wou een aand vir dieselfde belangrike mense bid, maar kon nie alles presies onthou nie, en sê toe: "Seën asb die minister en sy ka... ka... karbestuurder!"
Karen Opperman
My dogtertjie het net begin leer hoe om te bid en ons kuier toe by ouma en oupa.. Sy vra toe vir my of ek haar tietie sal vol maak en ek sê toe vir haar sy moet eers vir ouma wys hoe om te bid. Sy sak toe op haar knieë, vou haar handjies saam en sê: "Maak my tietie vol asb"
Sarita Muller
My oudste kind (nou 11) was so 2½ toe ek die eendag die groot huisskoonmaak-bevlieging kry. Hy vra my vir 'n broodjie en so in die verbygaan sê ek dat hy 'n bietjie moet was. Seker so twee ure later en vier keer se vra, besef ek die mannetjie moet regtig nou al doodhonger wees. Ek maak toe vir hom 'n broodjie en roep hom om by die tafel te sit. Toe ek daai broodjie op die tafel neersit, lig hy sy handjies in die lig en sê "Halleluja"!
Liezel Van Zyl Odendaal
My kleinseun Ewan, 4, was baie kwaad vir sy boesemvriend Divan en sê toe hy gaan hom skiet .Ek antwoord toe dat Liewe Jesus se hart baie seer sal wees as Hy hoor wat Ewan wil doen. Ewan antwoord toe: Dan sal ek maar Engels praat sodat Hy nie kan hoor nie.
Isabelle van Niekerk
My 3 jarige meisiekind het gese ek moet net bid, Jesus sal vir my ‘n man stuur!
Chantal Buys
My seun was in ‘n Afrikaanse kleuterskool. maar ons praat Engels tuis. hy kom opgewonde huis toe en se hy gaan ‘n sheep waiter wees in die navity play. Ek het so gelag, hy het dit direk vertaal. Hy was ‘n skaapwagter.
Sylvia Warrington
Gehoor van die pa en seuntjie aan die etenstafel wat praat oor hoe bevoorreg hulle is oor die lekker kos. Pa vra toe vir die seuntjie en wie moet ons bedank, waarop hy antwoord Boland Bank, na aanleiding van die advertensie op die TV.
Marinda Fick
My seun(tjie) toe ek hom vra of hy OK is om met sy fietsie skool toe te ry, toe sê hy jip, want hy 'lift' mos vir Liewe Jesus.
Ina Enslin
Die dogtertjie het gebid vir Moeder Jesus, haar ma kon die lag nie keer nie en het baie mooi aan die kind verduidelik dat Liewe Jesus ook nou lekker sit en lag!
Herika Basson
My meisiekind (toe omtrent tyd 3), was `n groot fan van noot vir noot. En ABSA is hulle borg al vir jare. Die een aand is dit haar beurt om te bid vir die kos en dit begin toe goed, dankie vir die kos, klere ens maar eindig... vandag, more altyd saam.
Wileen Alberts
My suster het haar seuntjie gevra of hy ‘n boetie of ‘n sussie wil hê. Hy sê toe ‘n boetie. Sy vra toe wat as dit ‘n dogtertjie is? Sy antwoord: Liewe Jesus sal nie so ‘n fout maak nie.
Barnette Van Der Bergh
Ons bly op n plaas - Jan-Breet (pas 2) het na Dawid en Goliat se verhaal uit die kinderbybel geluister - die volgende dag was hy weer aan die speel met sy trekker en sê toe: "ek kom met my trekker in die naam van die Here!"
Johan En Marina Smit
Ons het baie mooi verduidelik dat Liewe Jesus enige tyd kan kom om ons hemel toe te vat, dit is "verrassing" volgens my 4-jarige. Sy het mooi gedink daaroor en toe kom die vraag: "Mamma maar as ons dan nou gaan shop, hoe gaan Liewe Jesus dan weet waar om ons te kry as ons nie by die huis is nie"?
Sanet Mulder
Ek het my kinders, toe 8 en 10 jaar, die Bybelboeke se name geleer. Alles gaan goed tot ek by Kronieke kom. My seun haak af en sê Koringkrieke. (Ons het daardie jaar vreeslik las van die goed op die plaas gehad.) Dit was die einde van die aand se Bybelboeke opsê.
Alida Opperman
My meisiekind (toe 5) het kom vra of Liewe Jesus nie van haar hart afval as sy buite rondhardloop nie.
Estie Pieterse
My dogtertjie se weergawe van Daniël se vriende was Sadrag, Mesag, Appel en Mego.
Annerine Lamprecht
Vriende van ons het tweelingseuntjies, die een was baie groter as die ander een. Een aand bid hulle, die kleinste eerste: "Liewe Jesus, ek is 'n kindjie klein, maak my hartjie rein..." Toe dit die groter enetjie se beurt is, bid hy "Liewe Jesus, ek is 'n kop groter as my boetie..."
Elsabe Joubert
'n Vriendin, Anna, se kleinseun (Jacques, 2) wil ook bid aan tafel. Hy bid: 'Liewe Jesus, hoe gan nou?'
Lana-Mare Steyn
Ons woon in Engeland vandat my jongste, Hein, 4 en Paul 12 jaar oud was. So verken ons die noorde, suide, ooste en weste. Een vakansie besluit ons om suide toe te gaan. Die jongste vra een dag vir my" Mam, wanneer gaan ons 'Heaven' toe? My antwoord was 'waneer Liewe Jesus ons kom haal, maar ek dink nog nie nou al nie, want jy is te jonk’. 'n Paar dae later weer dieselfde vraag. Nou moet ek dink aan nog 'n antwoord, hy is nog nie tevrede nie, vra hy weer en weer. So sal ek mos twee en twee bymekaar sit en dink. Hy wil weet hoeveel slapies meer tot ons DEVON toe gaan vir vakansie! Ek kon hom opeet!
My oudste, Paul, toe so 5 jaar oud, wou ook by my weet of Eva 'n 'belly-button’ gehad het. Ek kon hom nie antwoord nie. Kan iemand help?
Irma Walsh
My neef het van Dawid en Oliegat gepraat.
Gerda Benadé
My seun Jonathan (9) het onlangs gesê dat hy "so gelukkig soos 'n kind in die hemel voel".
Amanda Breedt
My seun het verwys na "Vaal-oor" (Farao)... en Adam en Tefa (Eva).
Rianda Kruger
My seuntjie was so 3 jaar oud en seil kop eerste van die bed af, hy kom toe met n vaart regop, gryp sy mond vas en vra baie benoud: “oops, mamma het Liewe Jesus nou uit my hartjie uitgeval toe ek onderstebo was, hy bly mos daar?”
Marlize Coetzee
My seuntjie (5jr) kruip weg onder die duvet en bid - dankie liewe Heer dat ek hier kan 'hide' maar Jy weet waar ek is.....
Ook eenkeer tydens gebed: 'Verskoon my Liewe Heer' toe het hy gou met my gepraat en toe verder gebid: 'ek is terug Liewe Heer'.
Susara Ribbens De Vos
Ek is 'n Gr 2 juffrou en ons middaggebedjie gaan so: " Dankie vir U leiding teer. Voedsel, kleding en so meer." Een van die mammas kom vra my toe een middag wat ons bid, want haar dogtertjie bid elke aand: "Dankie vir U leiding teer. Voedsel, kleurlinge en so meer......"
Mariska Pretorius
My broer se seuntjie het oor Kerstyd gesê hy dink Merry Christmas is Father Christmas se vrou.
Leza Beel-Steyn
Ons middelkind Kobus het vreeslik sleg en laat gepraat. Hy en sus Lisma 'n jaar ouer as hy het altyd Jesus min my gesing op die swaai... dan ken sy die woorde en hy val net so nou en dan in 'JA JESUS MIN MY, JA JESUS MIN MY ... EK WEET DIT UIT DIE WOORD VAN LOT!!
Riana Maritz
Na Bybellees en gebedjie in die aand, het ek altyd "in die kooi" vir my oudste gesê (nou al 16). Die Sondag na die dominee se eerste amen, het hy "in die kooi" in sy harde stemmetjie beaam!
Marlene Niemann
Liewe Jesus, dankie vir my geraamte en dankie vir die moeite wat U gedoen het om vir ons reën te stuur.
Sanet Greyling
Ons dogter was seker so 5 jaar oud toe haar boetie begin Judo doen het. Haar boetie is 14 maande ouer as sy, so hy was op daardie stadium net so bietjie ouer as 6 jaar.
My man het skofte gewerk en ek en die kinders moes alleen huisgodsdiens hou. Ons bly buite die dorp (Rustenburg, nou 'n stad), op 'n plot en dus, moes ons maar ons brandstof dophou, en wanneer Christo by die Judo was, moes ek en Joannie maar rustig sit en wag, want die ballet het voor die judo klaar gemaak. So het sy alles by die judo dopgehou en ingeneem en selfs toernooie, moes Mamma en Joannie maar sit en wag tot Christo klaar geveg het. So lees ons hierdie betrokke aand uit die Bybel (ongelukkig kan ek nie meer onthou watter deel dit was) dit was Psalms of Spreuke en dit het oor straf gegaan. Ek het gewoonlik maar vir die kinders na die tyd gevra waaroor ek gelees het, en dan het ons so 'n onderlangse bespreking, en elkeen het sy eie mening gegee. Nadat hulle toe vir my mooi vertel het dat Jesus ons straf as ons nie binne sy wil leef nie. Ek vra hulle toe hoe straf die Here ons, en nou kom ons terug na die judo toe wat Joannie altyd so mooi dopgehou het - in judo hulle het spesifieke strafreëls met handseine daarby. Joannie kon nie wag om haar handjie op te steek en te sê ek weet, sy gee vir ons die Judo sein en sê "Shido" (dit is 'n strafpunt in judo). Ek en Christo sit verstom en verbaas, want nooit het ons gedink sus het so goed geluister wat by die judoklub aangaan nie, en dit was vir my byna onmoontlik om nie te lag nie, maar ek het dit darem goed reg gekry, om sodoende nie haar moed te breek om weer haar Bybelse (of is dit judo) gedagtes met ons te deel nie.
Daléne Bekker
NS. Joannie is nou al 21jaar oud en dit is vir ons nog steeds lekker om nou daaroor te lag.
Ek leer my kinders die Name van God & o.a dat daar krag in God se Naam is. Ons het 'n lang gang in die huis wat maar donker kan raak & soos dit is met kleingoed raak hulle mos maar bang vir "spoke" & "monsters". So leer ek my kinders dat wanneer hulle bang is om in die donker gang te stap & hulle die "spoke/monsters" sien, hulle die "spoke/monsters" moet wegjaag met 'n : "Gaan weg, in die Naam van Jesus!" So gebeur dit dat boeta een aand skrikkerig is & ewe kordaat kom stap my meisiekind voor hom met haar "Gaan weg, in die Naam van Jesus!". Kosbare oomblikke & een vir altyd onthou.
Maryke Symington
Kom besoek ons Facebook-groep.







Kommentaar - 5 opmerkings
ALIDA OPPERMAN
EKS CRAZY OOR DIE SEGOED. KINDERS IS SPESIAAL EN HULLE SE GOED KOM SO UIT HUL HARTE. MAAR PARTYKEER IS DIE UITSPRAAK/BEDOELING NIE HEELTEMAL DAAR EN KOS DIT INSPANNING OM NIE UIT TE BARS VAN DIE LAG EN HULLE TE LAAT SLEG VOEL NIE. GAAN SO VOORT EK DINK DAARS NOG BAIE STAALTJIES. DANKIEElonka van der Westhuizen
Dis so dierbaar, wens ek kan alles onthou.Charmaine
Ek dink Jesus glimlag net so breed as wat ons glimlag oor die kleingoed se sêgoed, sal graag nog staaltjies wil hoor veral van die gr1 kinders en hul fantastiese onderwysershenisharley
@ alida opperman ek het nou net so lekker gelag oor die koningkrieke! :-)))Chams
Dit is te dierbaar, ek het nou eers aangesluit en dit lyk of ek hope pret saam met die Here en my gesin gaan he met "Leef". Ek het een aand uit die Bybel gelees en toe ek klaar is skreeu my seuntjie van 4 "Amen"!!. Dit was so koslik ons kon nie help om te giggel nie.