Die Britse media berig oor die hartroerende verhaal van Kay Gilderdale, 'n ma van 'n 31-jarige ME-lyer wat haar dogter 'n oordosis morfien gegee het om haar te help doodgaan. Lynn, haar dogter, het vir 17 jaar aan ME gely en het in geweldige pyn verkeer. Dit was op haar aandrang dat Kay haar 'n dosis drie maal sterker as aanbeveel ingegee het.
Lees die volledige berig.

Niemand betwyfel die hartseer en trauma wat hierdie gesin moes deurmaak nie. 'n Ma wil tog nie haar kind sien ly nie en daar is alle rede om te glo dat dié daad met die grootste moederliefde en opoffering gedoen is. Maar 'n lewe bly 'n lewe en dis vir God heilig.
Wat sê die Bybel wat ons kan help om hieroor te dink?
- 1 Kor 6:19-20 - Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.
- Eks 20:13 - Jy mag nie moord pleeg nie.
- Gen 9:6 - Wie die bloed van 'n mens vergiet, deur 'n mens sal sy bloed vergiet word. God het die mens gemaak as sy verteenwoordiger.
- Rom 5:3-5 - Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.
- Matt 11:28 - Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
- Openb 21:4 - Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.
Mel