Tanya O'Connor blog oor haar lewe
Vertrou
Ek het al gehoor, “Jy lyk net soos jou ma”. Ek moes mooi kyk vir die ooreenkoms, volgens my (TOE) was daar nie. Ons is twee verskillende mense het ek altyd driftig geantwoord. Ek wou nie soos sy lyk nie. Dit was ‘n goeie klompie jare gelede. Ek wou nie soos sy wees nie, dit is mos logies, hoe kan ek depressie wil hê? Wanneer ek terugkyk en hier en daar onthou HOE sy was wil ek tog soos sy wees. Sy het altyd gegee, onvoorwaardelik gegee. Sy het ander mense gehelp, die wat by ons voordeur geklop het vir kos is altyd daar weg met ‘n toebroodjie. Sy het baie gelag toe sy nog die vermoë gehad het. Veel meer as dit onthou ek nie van Catherine Joan Winifred nie . . .
Ek het ook al gelees en daar is selfs op hierdie blog se kommentaar gesê dat depressie oorerflik is, ek het nog altyd ‘n hekel aan veralgemening gehad. Elke mens is uniek en anders en al was daar baie seer in my lewe is dit nie te sê ek gaan depressie kry nie. Ek glo dat as ek dit nou nog nie het nie gaan dit nie gebeur nie. Ek vertrou.
Ek vertrou dat wat ook al oor my pad elke dag kom goed is vir my al hou ek nie altyd daarvan nie. Ek vertrou dat my bord nie so hoog opgestapel sal word dat dit sou breek nie. Ek vertrou.
Die lewe kom nie met ‘n waarborg nie, maar jy kan wel sorg dat jy toegerus is met ‘n spaarwiel en genoeg petrol in jou kar om jou tot by die volgende stop te kry.
Hoekom tob en worry, wonder oor wat KAN gebeur in plaas van die oomblik van nou geniet.
Ek het nou net van die tuin ingekom, my drie honde lê styf teen my terwyl ek hier tik. Ek weet nie wat vandag vir my inhou nie. Volgende week sien ek weer my ginekoloog, die klein Ier groei nou vinnig. Wat as ek by die trappe afval en seerkry, wat as daar komplikasies is met die geboorte? As is verbrande hout, jy kan nie veel daarmee doen nie, dit waai weg in die wind vir altyd, dit verdwyn. Ek vertrou en weet God is in beheer, hoekom “wat as” gebruik, vertrou is mos baie beter!







Kommentaar - Geen kommentaar sover