God se trooswoorde
Trapleer na die hemel
Oor die Swartland se koringlande vou rokerige oggendmis in plooie soos ’n sagte sjaal om ’n vrou se skouers. My oë rus vlietend daarop terwyl ek voortsnel op die hoofpad. Teen die vertes teken ’n ry dofgroen bloekoms die horisonlyn.

My selfoon lui. Ek trek af. My hande begin bewe. Slegte nuus van die bank. Hulle kan moontlik nie my slim Matriekkind se studielening vir universiteit goedkeur nie. Dis net ’n tydige waarsku-oproep.
Ek trek my asem in. Al het sy ’n gedeeltelike beurs en ons so bietjie spaargeld, sal ons dit nie daarsonder maak nie.
My oë rus na waar blinkvlerk kraaie oor gestapelde bale hooie dryf. Ek soek vir ’n oomblik ’n antwoord in die vertes. My oë rus op die berge. Ek weet mos waar my hulp vandaan kom.
Ek stuur in alleryl ’n gebedsversoek vir drie vriendinne. Troosboodskappe flits op my skerm na ’n paar minute.
Ek val met bewende hande in die pad. Op my lippe is onsamehangende skietgebede. Veral dan vir ’n gerustellende teken sodat my gemoed net kalm genoeg kan word om die lang pad aan te pak.
My oë val op die aanwysingsbord na die dorpie Philadelphia. Ek hoor Jesus se genadestem in die Bybelse woord op die bruin bord.

Philadelphia, plek van broederlike liefde, wat in Openbaringe 3 genoem word. Die antieke dorpie het op ’n aardbewingfoutlyn gelê, maar is nie tydens ‘n groot aardbewing uitgewis nie. Omdat hulle onbeskaamd vir Jesus gestaan het.

Ek stop weer. Laai Openbaring 3 op my selfoon af. Vers 17 rol voor my oë verby: my troosvers waaraan die padpredikant met die naam Philadelphia my kom herinner het:
Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en iemand kan dit weer toesluit nie.(Nuwe Vertaling).
My en die Here se vers. Ons kodevers. Dié vers waardeur die Gees telkens met my praat. Toe my wêreld met my egskeiding ineengestort het, toe my loopbaan aan die wankel was en toe my gesondheid ’n ernstige knou gekry het.
Telkens as ek versekering en gerustelling nodig het, hoor ek Sy stem in die genadevers.
Ek sit my selfoon neer. Ry sonder bewende hande op die stuurwiel voort. Ek draai begeesterd by Philadelphia in, kerkdorpie tussen die skotige heuwels.

Die NG Kerk Philadelphia se roostuin nooi my uit om dankie te gaan sê vir die troosvers. Soos ’n gebedskamer lê die grasperke omring deur kandelaarblombeddings tussen die afgewitte mure.
Ek begin die dorpie verken. Die bord by die dorpskafee verkondig heerlike bakgoed. By ’n pottebakkersateljee streel ek oor beendun keramiekvase, breekbaar soos my hart vandag. Tussen ’n kruiekruiwa se wiele skrop fluweelbruin veervoethoenders vervaard. In die lug die skerp, prikkelende geur van ’n reuse peperboom.

Dan sien ek die lange trapleer wat hier in die middel van nêrens reik na die bloutes.
’n Trapleer na die hemel se deur. Hier tussen niks en nêrens. Soos in Jakob se droom.
Ek glimlag so ooglopend by myself dat restaurantgangers na my kyk.
Die werkende hand van die Here weer eens in my lewe. Sy getrouheid duur voorwaar vir ewig.
Ek is skaars op die pad terug huistoe, toe bel die bank. Hulle het ’n berekeningsfout gemaak. Die lening is goedgekeur. Sussie se drome kan waar word.
En dis asof ek die engele op en af met die Jakobsleer van Philadelphia sien dans.






Kommentaar - 1 opmerking sover
riana maritz
dankie , ek ervaar ook elke keer net weer God SE GENADE IS GROOT!!