Gesondheid

Tien nuttige gesondheidswenke

deur Elize Parker Deel met ander Kommentaar (2)
 
0/5.0

Aan die einde van elke jaar bêre ek my notaboeke oor onderhoude met kenners, maar nie sonder om nostalgies daardeur te blaai nie en te kyk watter nuttige inligting ek dalk weer kan gebruik nie.

Ek noem die vergeelde, voosgevatte notaboek met die mankoliekige draadruggie wat bymekaar gehou word deur twee rubberrekkies: Die Weduwee se Kruik!

Want ek glo daar is altyd nog ’n gebruik vir ’n stukkie kennis of inligting.

Hier is tien gesondheidswenke wat ek nie in 2009 in ’n wye verskeidenheid mediese artikels kon gebruik nie weens te min spasie of bloot omdat dit nie heeltemal by die onderwerp gepas het nie.

Dalk kan dit vanjaar ’n verskil maak aan jou gesondheid:

  • Dis goed vir jou organe en limfstelsel om daagliks op ’n klein trampolien te spring.
  • As jy aan ’n onderaktiewe skildklier ly, is dit raadsaam om grondboontjiebotter te vermy totdat jou skildklier weer reg is.
  • As jy dikwels lus word vir sjokolade - drink ’n chromiumaanvulling.
  • Teer borste tydens menstruasie? Drink daagliks twee kapsules aandblomolie.
  • Vir blaasontsteking: drink een teelepel koeksoda gemeng met ’n halwe glas water elke drie ure. Moenie koeksoda gebruik as jy ’n bloeddruklyer is nie.
  • Vars oreganum is ’n kragtige anti-verouderingskrui. Navorsing bewys dit het ‘n hoër antioksidantwerking as vitamien E.
  • Skildklierprobleme as gevolg van ’n jodiumtekort? Die volgende kosse is ryk aan jodium: Eiers, pynappel, sampioene, ginseng, okkerneut, seesout, uie, tamatie, wortel, radys, kappertjiesaad, kool, blaarslaai en vinkel.
  • Vir verbeterde lewerfunksie, gebruik melkdisseltablette.
  • As jy gereeld koorsblare kry, eet meer brouersgis, aartappels en eiers en neem L-lisien as ’n aanvulling soos voorgeskryf. Vermy kos soos grondbone, grondboontjiebotter, sjokolade, ertjies en ontbytgrane (kos wat die aminosuusr L-arginien bevat). Vermy lekkers, suiker, alkohol en sitrusprodukte wanneer jy ’n koorsblaar het. Draai ysblokkies toe in ’n lappie en wend aan vir drie minute, haal af vir 1 minuut. Doen dit  so drie keer agtermekaar vir verligting.
  • Sensitief vir reuke en geure en kry dikwels ’n hoofpyn? Koop reukvrye skoonmaakmiddels, grimering ens. Geure en reuke is dalk jou sneller vir hoofpyne.

Kommentaar - 2 opmerkings

Nicci

Pas ook op vir koffie, ek het baie met migraine gesukkel en nadat ek ophou koffie drink het, het dit so te se verdwyn.
Uitgesit op Woe., Jan. 20ste 2010, 10:51

Tanya

Praktiese Wenke! Baie dankie!
Uitgesit op Vry., Feb. 5de 2010, 09:44
Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na