Tanya O'Connor blog oor haar lewe

Is jou hartstafeltjie oorlaai ?

deur Tanya O'Connor Deel met ander Kommentaar (1)
 
0/5.0

My man is nou net werk toe, die dag het begin.  Ek skryf gewoonlik vroeg soggens, my gedagtes nog vars van die nag se wakker lê met klein Rory wat sy ma se binneste herrangskik.  
 
Ek begin die dag met Milo, bietjie krag vir die moegheid van swangerskap.  Ek loop kamer toe, warm emmertjie energie in die hand.  Langs ons bed is ‘n bedtafel.  Een waarvoor ek lank gesoek het.  Ek het dit in ‘n timmerman se werkswinkel gaan uitgrawe. Niks binne in die fancy winkel het my geval nie en die eienaar het my sy werkswinkel gaan wys, daar het die tafel gestaan.  Vol spykermerke, maar stewig en net die regte grootte.  
 
En nou hier vandag soek ek plek om my emmertjie Milo neer te sit. Daar is boeke galore, notaboeke, boeke van alle groottes en diktes.  My bril is ook êrens tussen die warboel, ‘n onthoustokkie vir my Apple. Paar botteltjies pille, ‘n glas water.  ‘n Hele stapel goed wat van meer nut sal wees op ‘n ander plek, behalwe op my bedtafeltjie.
 
Ek begin wegpak, ek ontdek ‘n paar boeke wat ek al lank soek, die res gaan boekrak toe. Die onthoustokkie word veilig in my lessenaar se laai gebêre, baie werk daarop. Ek stamp amper die glas water om.
 
Soos ek wegpak en regpak besef ek hoe min ek eintlik nodig het op my spyker geslaande tafel.  Om te besluit om iets weg te pak is nie altyd lekker nie, soms wil jy alles by jou hê en saam met jou dra.  
 
Maar hoe meer bagasie jy oplaai op jou hartstafeltjie hoe moeiliker raak dit om te sien wat jy regtig nodig het. Tussen die warboel van emosionele bagasie is daar belangrike boeke wat jy mis as jy nie die gemors gedurig uitsorteer nie.  
 
Gelukkig is my bedtafeltjie stewig, lekker dik geelhout pote en ‘n sterk blad, maar hoe stewig is my hartstafeltjie. En hoekom moet ek dit oorlaai? Ek is die een wat daaronder ly.
 
Wat is regtig belangrik op my hartstafeltjie en wat nie?  Ek dink ek sal elke dag aan daardie een moet werk. Goed dat ek my bedtafeltjie vanoggend begin regpak het, sal my herinner elke keer as ek daarna kyk om my hartstafeltjie ook in orde te hou.
 

Kommentaar - 1 opmerking sover

Dr Johan Cornel Gouws

Sjoe, Tanya, vanaand toe sit ek hier en kyk hoe deurmekaar my tafel alweer is. Hier le koerantuitknipsels, daar le boeke wat ek nou weer na 'n ander hoop sal skuif, my kramdrukker, rekenaar, CD-speler, selfoon, en papiere en nogmaals papiere. Dis so 'n mooi metafroor vir my om na my hartstafel te beweeg ... wat ek net nog interssant gevind het, is dat by my die hopies gereeld wissel, goed kom by en ander gaan na ander pakkies fo selfs tafeltjies toe. Wat bymekaar hoort, kom bymekaar, Hoe se die engelse spreekwoord, "What goes aroudn, comes around", ne? Die lewe is ook so, Dit wat op jou tafeltjie kom, word ook weer in hopies gepak vir latere gebruiik, of selfs om uit te deel aan ander. Uiteindelik bly die belangrkste op jou tafel, maar het jy die chaos nodig gehad om jou hartstafeltjie reg te kry. ag ja, enn nou die verhoudingstfeltjie, en oe, die toekomstafeltjie!!!!!!
Uitgesit op Woe., Jun. 30ste 2010, 20:37
Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na