'n Ma se hart
Hoërskool toe!
Net die donkerbruin kop steek onder onder die kwilt uit. Dis nog nie eens middagete nie, en Boeta lê en slaap...
Iewers deur die loop van die oggend het hy stil-stil kamer toe verdwyn. Een oomblik het hy nog by die tafel in die kombuis die Sondagkoerant sit en lees; die volgende oomblik kry ek hom vas aan die slaap op sy bed.
Nie eens die hongerpyne van ’n veertienjarige lummellyf kon hom vandag wakker hou nie.
Meneer is pas terug van die gr. 8-kamp. Ons het hom vanoggend ná kerk by die skool gaan oplaai. Doodmoeg, maar tevrede.
“Moet nou net nie uitspring en hom gaan druk voor al sy maats nie!”maan Johan toe hy sien hoe opgewonde ek is om my jongste weer te sien.
My baba is dié week hoërskool toe. Oor ’n stoel in die eetkamer hang daar vandag ’n splinternuwe donkerblou kleurblaadjie in plaas van die grys laerskoolbaadjie wat hy tot dusver gedra het. (Ouma moes gou oor die naweek die naambandjie inwerk! Ma het laat geslaap met die aankoop van die skooldrag en naaldwerk is nou nie juis my sterkpunt nie.)
Die kakie-kortbroek en hemp is diep weggebêre en het plek gemaak vir ’n steenkoolgrys langbroek, deftige wit hemp en nuwe das.

Dinsdagmiddag sit ek saam met al die ander ma’s en pa’s in die saal en luister trots hoe ons jongelinge deur die hoof toegespreek word. Hoe gou het hulle nie grootgeword nie. Ek kan nie help om ’n traan of twee weg te vee nie.
“Ek hoop nie Ma het gehuil nie,” sê-vra Christoff toe ons later huis toe ry.
“Natuurlik het ek gehuil, hoe ken jy vir Mamma?”
(“Ek het gehuil van dankbaarheid en van trots en van liefde en van verligting en van die wonder van dit wat vir jou voorlê,” dink ek stil in my hart.
“Van die voorreg om jou ma te wees en vir jou lomp lyf en onbeholpenheid en bang en onsekerheid vir die nuwe avontuur wat voorlê.
“Maar bo alles dat ek jou kan oorgee in die sterke Hand van die Een wat groter as ek is, wat jou liewer het as die lewe self, wat elke haar op jou hoof getel het en presies weet wat Hy vir jou beplan het...
“En oor my hart vandag kan rus in die wete, my liefkind, dat jy eintlik Syne is.”)







Kommentaar - 2 opmerkings
Linda
Wat 'n verligting om te hoor ander ma's huil oor hul bul wat graad 8 begin, maar my gehuil hou nie op nie want my jongste is in Riversdal en ek in Hartbeespoort. Selfs my liggaam het sommer in siekte protesteer, die jaar gaan lank wees maar soos ek elke dag myself verseker en moed inpraat - dis net 'n jaar. 'Hoekom so ver?' vra julle vriendinne, omdat ons daaroor gebid het en glo dis die beste vir hom - daar is soms net dinge wat die bulle nie by ma en pa wil leer nie. My gebed vir my sonskynseun is om selfstandig, verantwoordelik en met innerlike krag terug te kom. Ek moes hom ook in my Vader se Hande los - die beste plek om te wees nie waar nie? - en my daagliks by Sy Voete uithuil maar met hoop in my hart die dag begin. My kind is net vir my geleen en sy Skepper het belowe om Hom nooit te verlaat nie.ann
Natuurlik het ek gehuil, hoe ken jy 'n Mamma?” (“Ek het gehuil van dankbaarheid en van trots en van liefde en van verligting en van die wonder van dit wat vir jou voorlê,” dink ek stil in my hart. “Van die voorreg om jou ma te wees en vir jou lomp lyf en onbeholpenheid en bang en onsekerheid vir die nuwe avontuur wat voorlê. Jy is maar skrikkerig vir rugby want nou speel hulle met "skoene" Nou is jy in gr 12 Om te sien hoe jy nou ook raas kry oor die haartjies onder jou ken. Hoe jy elke minuut van jou dag voluit leef van dis 'n lied. En ek word al hoe stiller Nou is dit jou laaste Huissports; Inter en Valintine sokkie en ek besef dat jy eintlik Syne is. Jy speel vir die eerstespan rugby, en jy vra na die game. Hoe het ek gespeel ? Natuurlik het ek gehuil, hoe ken jy 'n Mamma? Jy wat vra vetrou my ma, want ek vetrou dan die Here en dan lees ek weer Leef se Blog: “Maar bo alles dat ek jou kan oorgee in die sterke Hand van die Een wat groter as ek is, wat jou liewer het as die lewe self, wat elke haar op jou hoof getel het en presies weet wat Hy vir jou beplan het... “En oor my hart vandag kan rus in die wete, my liefkind, dat jy eintlik Syne is.”)