Geloofsake

Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?

deur Lindie Strydom Deel met ander Kommentaar (8)
 
0/5.0

Christene is nie gevrywaar van kanker of verkragting nie.  Verantwoordelike Christen ouers  se kinders kan ook verkeerde keuses maak.  
Die gevaarlike vraag wat egter in my hart opkom is:  Is daar iets wat ek verkeerd gedoen het dat dit met my gebeur?  

Ons wêreld is gebroke en die lewe onregverdig, maar ek dien `n Here wat ook onregverdig moes ly en sterf.    
Die lewe is `n voorbereidingtyd en `n proses waarin ek karaktereienskappe van Jesus kan ontwikkel om uiteindelik meer en meer soos Hy te word.  
Niemand het belowe dit gaan gerieflik wees nie.  Niemand het gesê dinge gaan altyd uitwerk nie, want dit wat ek in hierdie lewe wil bereik is anders as dit wat God wil bereik.   God is meer besorg oor my heiligmaking as noodwendig my gerief.  

Die probleem met ons doel wat nie ooreenstem met God se doel vir hierdie lewe nie, is ons glo soms verkeerdelik dat ek tog hierdie lewe kan laat uitwerk, ek kan dit beheer deur my spreekwoordelike “kant te bring”!  Doen net dit en dat sal gebeur.  Asof ek dan kan kry wat ek verdien.  

Om te glo jy is in beheer, maak jou of trots as dit lyk of jou metodes werk, of dit ontmoedig as slegte goed gebeur t.s.v. jou geloof en vertroue in God.  

Ek is nie in beheer nie en dank die Here ons kry nie wat ons verdien nie.  Ons kan nooit ons kant bring nie!
Al werk ek baie hard om hierdie lewe te laat uitwerk en volg Bybelse beginsels en leef met wysheid en maak verantwoordelike kinders groot en is getrou aan my man en doen my werk met integriteit, is dit ongelukkig geen waarborg dat my lewe hier en nou gaan uitwerk nie.  99% van die tyd sal dinge op die oog af goed uitwerk, maar nie altyd nie en nie vir almal nie.  

Ons God is getrou, en regverdig en in beheer.  Kom ons nader tot Hom vir Wie Hy is en nie met `n lysie van wat my lewe sal laat uitwerk nie.

Nou kyk ons nog in `n dowwe spieël en sien `n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.  Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.  En nou  geloof, hoof en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde.
 
Intussen het ons geloof en hoop en ons vertrou vir die beste en ons leef met liefde in die geleende tyd wat ons het.

Kommentaar - 8 opmerkings

sgoosen

Hebreers 5:7 en 8 se: "Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hom geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs - Hy, al was Hy die Seun, het "GEHOORSAAMHEID" geleer uit wat Hy gely het"; Ons het al so baie keer vir mense gebid vir genesing, moeilike situasies, finansiele vryheid, egskeiding en dood. Partykeer word mense genees, partykeer nie. Daar is nie altyd 'n duidelike onmiddelike verandering as mens bid nie. Ons weet nie hoekom God toelaat dat al hierdie goed op ons pad kom nie. Maar een ding weet ek en dit is dat Hy nie sal toelaat dat iets gebeur wat ek en Hy saam nie kan hanteer nie. As Sy Seun, GEHOORSAAMHEID, soos in Hebr. 5:8, kon leer uit teenspoed, dan kan ek ook. En dit is nie aldag maklik en lekker nie, maar soos hierbo geskryf, God gee meer om oor my heiligmaking as oor my gerief...
Uitgesit op Do., Feb. 25de 2010, 09:08

henisharley

Wie en hoe bepaal ons "goeie mense"? In die bybel staan "God laat die son opkom oor almal..."
Uitgesit op Woe., Mar. 3de 2010, 10:15

sgoosen

"goeie mense" is vir my elkeen wat God geskape het. Hy het ons immers na Sy beeld geskape. Ek glo dat hier verwys word wanneer jy voel, "hoe kon dit met my gebeur". So amper asof jy dit nie verdien het nie, en ek glo elke mens in hierdie lewe het al so gevoel....So daar kon ook geskryf gewees het, hoekom gebeur slegte dinge met mense....
Uitgesit op Woe., Mar. 3de 2010, 16:14

henisharley

@sgoosen stem saam met jou... hoekom vra ons nooit "hoekom gebeur dit nié met my nie..." hoekom dink ons altyd dit gebeur met ander? is dit tipies mens... of selfsug?
Uitgesit op Do., Mar. 4de 2010, 19:19

jmeiring

Na my man se dood het ek vir die Here gevra waarom het hy my man van my af weggeneem, ons was 48jr baie gelukkig getroud. Hy gee toe vir my Jes 30:19 tot 22 onder andere se Hy ,Hy wil my leer, nou wat wil hy my leer? Toe lees ek die aand in Ds. Ozrowech se boekie "Reenboog deur jou trane" Hy wil ons leer om simpatie te he, en presies te weet hoe iemand anders voel wat dieselfde beproewing as jy deurmaak, geen ander mens weet hoe dit is om jou lewensmaat te verloor nie as jy wat dit self deurgemaak het nie. Is dit nie die Here se plan dat Hy ons gebruik om ander te troos nie. Hy het my al soveelkeer gebruik om ander te troos want hulle weet ek verstaan, Almal wat 'n lewensmaat verloor het kan gerus daardie verse lees, dit het my heeltemal getroos Hy se dan ek hoef ook nie meer te huil nie.
Uitgesit op Vry., Mar. 5de 2010, 17:49

E Coetzee

Ek is verkrag en byna vermoor. Net toe ek aanvaar ek sal nou doodgaan, onthou ek hoe klein my kinders nog is - en vra tussendeur God om my asb vir hulle te spaar. Net toe los die aanvaller my en hardloop weg. God is Almagtig en Genadig. Ai, maar deesdae wonder ek soms of dit die regte versoek vir God was. Sou dit nie vir my gesin beter gewees het as ek weg was nie?
Uitgesit op Ma., Mar. 8ste 2010, 20:52

Maggie

Hoe nodig het ek nie hierdie boodskap gehad nie! Ek dors na antwoorde, versterking, geloof en wysheid! Dit voel soms asof ek gaan knak... maar dan kom daar iemand en ly my weer oop die regte pad... die pad van ons Saligmaker! En dan besef ek weer - ons gedagtes is nie Sy gedagtesnie, en ons tyd is nie Sy tyd nie! Ons gaan deur 'n moeilike tyd - my man moes sy besigheid laas jaar toe maak en dit gaan moeilik met net een salaris wat nie alles kan dek nie. Maar deur Sy goedhied en genade het ons nog niks te kort gekom nie, Aleluja prys Sy naam!!!
Uitgesit op Ma., Mar. 15de 2010, 12:26

LB

Ek dank ons Vader dikwels vir die inspirasie wat Hy ander gee om te skryf oor kwessies wat ook my lewe raak en waaruit ek leiding kry. Het dikwels al gewonder hoekom ons deur beproewings moet gaan en wat ons daaruit kan leer totdat ek joernaal begin skryf het en kan terug kyk hoe Sy genade en liefde my in donker tye gedra het. Glo en vertrou op Hom, daar is soveel wat ek wil hê maar ek weet Hy sal voorsien op die regte tyd! Moet nooit jou stiltetyd afskeep nie!
Uitgesit op Di., Mar. 23de 2010, 08:34
Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na