En die grootste hiervan is…
Ware liefde het my nog altyd ontglip, maar die droom om met drome daaroor
in my oë te loop, bly lewendig. Ek het dus gaan kers opsteek by Afrikaanse skrywers om te hoor wat vir hulle die mooiste eienskappe van liefde is:
Beneschke Botha, Radio Kansel-omroeper, joernalis en skrywer:
Ware liefde is vir my wanneer ons saam lag, saam gaan shop (en ek vir ure klere aanpas en hy geduldig moet sê wat lyk goed of minder goed), wanneer ons saam ‘n probleem takel en oplos, wanneer ons saam droom oor ons toekoms en wanneer ons saam bid. Dit is daardie gevoel van veiligheid, vriendskap en onvoorwaardelike liefde soos wanneer hy saam met my Brothers gaan fliek as hy Avatar wil gaan kyk; Indiese kos gaan eet as hy lus is vir ‘n steak of wanneer hy saam met my gaan bergklim as hy kan gaan gholf speel.
Isak Burger, president van die AGS en skrywer van blitsverkoper geestelike boeke:
Ek dink die mooiste eienskap (en ware toetssteen) van ware liefde is onselfsugtigheid. Ware liefde soek nie sy eie voordeel en belang nie. Ware liefde mislei nie en misbruik nie. Dit vra eerste wat is tot die voordeel van die ander. Dit ag die ander hoër as jouself.
In die finale en uiterste geval kom dit daarop neer dat jy bereid is om jou eie lewe te waag – en waar nodig, te gee – vir die ander persoon. Hierdie scenario kom van tyd tot tyd voor waar ons in die media lees van ‘n man of ‘n vrou wat hulleself in ‘n misdaadsituasie (of ongeluk) as’t ware as ‘n menslike skild gegee het om die ander een (of ‘n kind) se lewe te red – en self in die slag gebly het.
Is dit nie die soort liefde waarna Paulus verwys wanneer hy in Efes. 5:25 praat oor hoedanig die verhouding tussen man en vrou moet wees nie? “Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.”
Louis Kruger, skrywer van romans en lewenskunsboeke:
Basies is daar twee soorte liefdes: die een is op die self gerig, via die ander;
en die ander is op die ánder gerig. En dis terselfdertyd ongeveer die verskil tussen egte, Goddelike liefde enersyds, en die menslike namaaksel andersyds.
Op die kort termyn lewer liefde heelwat minder op as waarop die meeste mense hoop en op lang termyn onnoemlik meer as waarvan hulle ooit kon droom.
Ware liefde het nogal baie weg van ’n noodlotsmag – jy is onherroeplik uitgelewer aan die geliefde.
In die wêreldliteratuur is daar min digters wat die kern en misterie van liefde so aangrypend onder woorde kon bring as die een uit Tarsus.
Die eerste reëls van sy gedig bring al ‘n rilling oor my lyf:
Al praat ek die tale van mense en engele,
maar ek het geen liefde nie,
het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword.
Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse
en besit ek al die kennis,
en al het ek al die geloof om berge te versit,
maar ek het geen liefde nie,
dan is ek niks...
Die belangrikste wat oor die vrou en die man gesê kan word, is dat hulle ten diepste één is – letterlik! Van geen ander spesie word naamlik beskryf dat die een geslag uit die ander geskep is nie.
Volgens my is dit dan ook een van die belangrikste boodskappe van die Genesis-verhaal: op ‘n treffende manier word die diep verbondenheid tussen man en vrou uitgebeeld wanneer daar gesê word dat die vrou uit die rib van die man geskep is.
Die rabbi’s het ‘n treffendie verklaring vir waarom die vrou juis uit die rib van die man geskep is:
As God die vrou uit die kop van die man sou geskep het, sou sy hom gedomineer het.
Uit die hande, dan sou hy haar voortdurend aan die werk gesit het.
Uit die voete, dan het hy haar vertrap.
Nee, Hy die haar uit die rib van die man geskep – om naby sy hart te wees, sodat hy haar kan liefhê.
In die huwelik word man en vrou wat hulle ten diepste is: één vlees.
Hier het ons al onmiddelik ‘n antwoord op die vraag waarom daar in baie huwelike soveel pyn is – dikwels méér as vreugde. Die oomblik wanneer die vrou en die man in die huwelik uitmekaar groei, die oomblik dat daar spanning en botsings ontstaan, veroorsaak dit ‘n ondraaglike pyn. Jy word as ’t ware letterlik uitmekaar geskeur.
Maar hierdie één-wees verklaar terselfdertyd ook waarom twee verliefdes so ‘n onbeskryflike vreugde in mekaar kan ervaar.
Vir die meeste mense is dit die allerbelangrikste in die lewe: om die geliefde, die ander helfte te vind. Die oudste Nederlandse teks wat ooit gevind is, verwys juis hierna: hebban alla vogala nestas hagunan, hinase ek endie tu... (‘Alle voëls het neste gebou, waarom nie ek en jy nie?’)
Helena Hugo, skrywer van liefdesverhale, romans, radio-regisseur en skrywer van radio-dramas:
Ware Valentynsliefde sit ’n glinster in jou oog en ’n glimlag om jou mond. Paartjies wat lag, is gelukkig. Kyk maar na daardie mooi troufoto’s ... Liefdeslag is nou eenmaal liefdeslewe. Maar eintlik is dit op die ou end ’n ander soort lag, met humor en boonop ’n humor wat op dieselfde golflengte is, anders sou ons huwelik van veertig jaar net nooit so lank kon hou nie nie! Rêrig, nie getrouheid of vergifnis of respek of bewondering kan humor verbysteek nie. Ons deel nie net dieselfde grappe nie, ons verstaan daardie fyner woordspelings en klein ontdekkings
wat ons met 'n stampie in die sy of kyk in die oog deel, boonop kan ons mekaar ook goedig terg en ons kan (meeste van die tyd!) ook vir onsself lag. Natuurlik kom daar dae wanneer jou humorsin jou in die steek laat, maar as jy basies en diep binne gelukkig is en liefde deel, verloor jy nooit jou lag nie.
Alta Cloete, liefdesverhaal- en romanskrywer:
Ware liefde bly glo in die liefde, al het die harde werklikheid alreeds die romanse weggestroop. Ware liefde sê na dertig jaar steeds: “Jy is so beautiful.” Toe jy self verstom staan omdat jou heel eerste storie deur ‘n tydskrif aanvaar word, sê ware liefde eenvoudig: “Ek het nog altyd geweet jy kan.” Ware liefde is stabiel soos ‘n rots en sag soos ‘n lammetjie. Ware liefde bly opbou, al breek jy dikwels af. Ware liefde kan nie net vergeef nie, maar ook vergeet.
Belia - sangeres , veral bekend vir haar optredes met die Tsotsi-evangelie:
Liefde is ...Om saam jul seehuisie te verf; Om by Gansbaai op die punt van die langmuur saam te sit, vis en chips uit papier te eet, Coke uit ‘n blikkie, en liefde met elke breek van ‘n brander te koester; Om nie te lag as hy sy vinger met die hammer raak kap nie; As HY verstaan as JY PMS het, die besem gryp en vee, jou kos verbrand.. en hy gaan koop ‘n take-away; Om saam perdekar te ry op ‘n helder maanligaand en jou hartklop saam met die voeteval van perde te voel instem;
Om met jou lyfie, wat lankal nie meer in ‘n 34-jean pas nie, styf teen hom te lê.
Annelise Wiid: skrywer, sanger, rubriek- en liriekskrywer:
Ware liefde hou nooit op nie. Ek kon dit sien in my ouma se oë - jare, járe na my oupa se dood nog. Haar hart het hom laat gaan, maar sy het hom steeds bemin. Die herinnering aan die wonder daarvan bly soos ’n oop blom in mý hart. En dit laat my altyd glimlag oor die Joodse spreekwoord: Daar is drie goed wat ’n mens nie kan wegsteek nie: ’n hoesbui, armoede en liefde!
Helene de Kock, roman- en liefdesverhaalskrywer:
Die allermooiste en ook die allernoodsaaklikste eienskap van ware liefde, is volkome vertroue. Sonder wedersydse vertroue is die liefde se wesenskern afwesig. Ek kan Jos met my hele wese vertrou. En hy vir my. Dis hierdie tipe vertroue, glo ek, waaruit die diep en egte ekstase van ware liefde spruit. Dis die soort liefde wat nie verflou nie. Ons kan 46 jaar lank al daarvan getuig. Hierdie soort liefde moet noodwendig blyke van Godsgenade lewer. Want dis onverdiende goedheid alleen.
Jaco Jacobs, bekroonde jeugboekskrywer:
Ek dink een van die mooiste eienskappe van ware liefde is geduld. Nie net die geduld om iemand vir wie jy lief is se tekortkominge en foute te aanvaar of verduur nie, maar ook die geduld om self elke dag opofferings te maak. Veral as ek die slag oor ’n storie broei of ’n sperdatum jaag, moet Elize, my verloofde, soms baie geduldig wees met die feit dat ek geneig is om in my eie wêreld terug te trek – en dit is iets wat ek regtig baie waardeer.
Malene Breytenbach, liefdesverhaal- en romanskrywer
Die liefde kan jou tref soos weerlig of dit kan groei uit ’n klein saadjie tot ’n welige plant, wat gevoed word deur verdraagsaamheid, deernis en sorg. Die grootste vyande van liefde is ontnugtering, ongeduld, irritasie en vrees. Ek wil glo dat ek en my man Willie ons balans gevind het. Ware liefde is veel meer as net vleeslik. Dit vergewe en verryk. Dit hef op. Dit is ’n vangnet, ’n eiland in ’n stroom. Dit is ons rykste seën.







Kommentaar - 2 opmerkings
Tanya
Elize, soos altyd iets wat my bybly! Liefde is soo wonderlik om elke dag te ervaar en om ook 'n liefde vir die lewe te he en daardie liefde elke minuut van die dag te sien in die lewe!Babsie van der Westhuizen
Vir my beteken die Grootste Liefde, dat ek deur die genadegawe, ontdek het dat God my liefhet en omdat ek vir Hom spesiaal is, moet ek myself en die geskenk van lewe ook liefhe en waardeer. Alleenlik wanneer jy jouself kan liefhe, kan jy met liefde na ander uitreik. Hoe meer mense hierdie Wonderliefde van God ontdek, hoe meer mense sal aangeraak word deur Sy liefde en dan sal die liefde altyd die Grootste Liefde bly.