Elize Parker blog
Eenvoud Onbeperk
Miskien ken jy die gejaagdheid wat ek soms ervaar wanneer verkeer op die N1 kilometers ver staan, jou selfoon met ‘n waarskuwing piep oor die alarm wat tuis afgaan en twee hondhonger tieners regop sit en wag vir ‘n agtgangmaal.
Dalk verlang jy dan ook intens na die eenvoud van ‘n dag sonder dagboekinskrywings. ‘n Oop bladsy sonder moets en moenies.
‘n Dag met die eenvoud van ‘n stil stoep waar jy kan sit en kyk hoe stofdeeltjies in sonstrale dans.
Ek hunker daarna want ‘n lewe vol eenvoud voed my siel en gee my emosionele energie.
Wanneer die lewe vir my te ingewikkeld raak, volg ek my hart op die soeke na sulke eenvoud.
Dit beteken ek moet doelbewus die chaos van my dag, my jaar en my lewe ontpak en kyk hoe kan ek dit makliker vir myself maak.
Jy koop nie kits-eenvoud by ‘n supermark nie, maar verkry dit net deur doelbewus lae af te stroop.
Deur nee te sê waar jy kan.
Te glo minder is meer wanneer jy winkels toe gaan.
Om oorbesige vriende te vermy en eilande van tyd met wyse mense in ‘n dag in te bou.
Om jou omgewing te vereenvoudig deur weg te gee, bes te gee en prys te gee.
Deur nooit die waarheid te vermy nie.
Om jou huis weer doelbewus jou eie te maak want vandag bly ons dikwels in huise sonder mure. Tegnologie maak die wêreld ons woning.
Om sulke planne te maak om eenvoud jou lewe in te nooi, klink dalk opsigself of jy weer in ‘n besige stroom meegesleur word, maar die soeke na eenvoud opsigself versterk jou.
Want so soek-soek na eenvoud glip jou hart oop vir God se oorvloed.
Soos rondryp vruggies tussen silwer fluweel blare van knoetserige olyfbome wag Sy oes om gepluk te word. Die vrugte van ‘n gees wat eenvoud nastreef: vrede, vreugde en versoening.
Skielik is kinders se veraf gelag, onskuldige glimlaggies van babas, vriende met dankbare harte en reëndanse op ‘n sinkdak weelderig joune.
God se oorvloed het ‘n eenvoud van Sy eie.







Kommentaar - 3 opmerkings
Tanya O'Connor
Baie dankie vir hierdie se deel! Het nou juis sit en kyk na die stof partiekels . . .Celeste
Tyd weg van die gejaag is heelwordtyd, jy's so reg, Elize. En daar's oorvloed in eenvoud, jou wyse vrou ;-)Charlene
Ek is bevoorreg om op die oomblik so 'n lewe van eenvoud te geniet, te beleef maar het tog hierdie geneigdheid in my om dinge weer te kompliseer. Om te krap waar dit nie jeuk nie. Om my huis so om te krap laat dit my 'n jaar vat om alles weer op hul plek te kry. Dankie dat jy my herinner presies hoe dankbaar ek behoort te wees vir die stof wat so vrolik dans in die giggelgeelsonstrale!