Geskenke gee
Die geskenk van gee
Toe ek vanoggend by die skool stilhou, besef ek ek het nie vir ‘n enkele onderwyser of onderwyseres ‘n geskenkie gekoop nie. En vandag sluit die skole!
Ek voel hoe my hart in my skoene sak. Ek probeer vir myself verskoning maak: “Ag, jy was darem net té besig hierdie week. Boonop was jy nog weg Dullstroom toe vir die mode-fotosessie...”
Vir ‘n paar minute oorweeg ek dit om soos ‘n volstruis my kop in die sand te steek en te maak of dit gebeur het nie. Ek sal sommer in die nuwe jaar geskenke skool toe vat, besluit ek.
Maar hoe verder ek van die skool wegry, hoe meer pla my gewete my. Dis vandag immers Christoff se laaste laerskooldag. Dié gedagte laat my sommer tranerig en nog meer bedremmeld voel.
Net daar besef ek: Vandag is daar nie uitkomkans nie. Ek moet nóú gaan persente soek.
Terwyl ek probeer dink waar ek dié tyd van die oggend ‘n winkel gaan oop kry, bly my gewete my egter aankla oor die feit dat ek van die persente kon vergeet het.

Hoe verdiep kan ‘n mens nou in die sleur van die lewe wees dat jy skoon vergeet Kersfees is aan die kom!
“Hier by die tydskrif werk ons dan al aan die Valentynsuitgawe en is ons al aan die beplan vir Paasfees,” probeer ek myself vir oulaas paai.
Die vrou by die groentewinkel help my om die laaste Lééf met ‘n mooi string raffia toe te draai. Die speelgoedwinkeltjie om die hoek is ook al oop en hier koop ek ‘n kaartjie. Juffrou Malan word vir 2010 ‘n intekenaar op Lééf.
By die geskenkwinkel met die mooigoed uit Afrika vang ek die verkoopsdame, ontbyt in die hand, agter toe deure. Ek vra mooi deur die glasdeur of sy dalk kan oopmaak en vertel van my dilemma.
Kom gerus binne, sê die lang swart vrou. ‘n Paar engeltjies van draad en silwer glaskraletjies dien as die perfekte soenoffers vir die res van die personeel.
Met ‘n handvol geskenke en ‘n hart vol vrede ry ek terug skool toe. Dis tog immers die seisoen van uitdeel en gee...







Kommentaar - 1 opmerking sover
Eureka
Jy laat my nou dink aan die jare van geskenkies skool toe. My kinders het vroegtydig die lysie neer gesit. Ek het 3 gelyk op laerskool gehad. Daardie jare het ek porselein poppe gemaak. Weke voor die tyd het die opgewondenheid begin. Die uitsoek van die popie, die koop van die "greenware" , die afwerk, die "geboorte" as sy uit die oond kom en dan skou toe vir die hare, oe en staandertjie. Dit was ure se uitsoek, dan is sy blond en dan 'n brunnet. Die verwagting bly die prentjie wat hulle in gedagte gehad het. Die oomblik as die liefling juffrou haar pop ontvang val vrede en ontspanning oor jou! Deur ons hande leer ons ons kinders om te gee, en deur God se Groot gee, word ons harte gevul met gee die oomblik as ons die behoeftes van ander raak sien. Dankie vir jou en jou span se harde werk. Woorde het ek nie om te se wat leef al in my lewe vir my beteken het nie. Julle gee so baie. Dankie daarvoor!