Roosprinsesse

Altyd die rose, altyd

deur Elize Parker Deel met ander Kommentaar (6)
 
0/5.0

Vanaand, na hierdie helderwarm Kaapse dag, val my tuinrose in flonkerende skakerings oop in die killer aandlug. Koraaloranjes en somersongeles, met die klam soet reuk van gekneusde blare.


Lig kruip uit die songevlekte wolke. Uit die voortuin, iewers anderkant die malvabedding,  dwarrel ivoorpienk roosblare op die wind in ‘n spiraal grond toe.
Die roosboom het my ma vir my met haar laaste besoek aan die Kaap gekoop.
Die skemer druk skielik teen my aan soos ’n sjaal om my skouers. My oë flits na die flaminkpienke daarnaas.
Ek het dit uit mamma se roostuin in Bloemfontein gekry, al die pad op my skoot met 'n vlug na Kaapstad aangery. Die roos het my kleinneef uit haar huistuin gehaal toe sy na die aftree-oord verhuis het.
Soos geliefde eregaste, het sy ''n klomp ou bekendes na haar nuwe huis toe genooi.
Toe het sy hulle in klamrooi grond in sakke laat rus onder ‘n boom om dit op die regte tyd met rooskos te plant.
Toe ek uit die Kaap kom kuier, het my kuierroos op my gewag om saam terug te reis.
Nie dat my ma die Kaapse grys Renosterveldgrond of die Suidoos vertrou het om aan die Rosestad se roosprinsesse ooit reg te laat geskied nie. “Is  hier geen kleigrond in die Kaap nie?” het sy altyd gevra.
Gehul in vertroude geure, het ek op die vliegtuig geklim, die roos reeds tot wynkelkvorm gesnoei.
Soos vanaand, is ek stadig deur ‘n leeftyd van roosdae oorval.
Waar my ma is, is daar altyd rose. Langknoprose met dorings soos krale op ‘n groen snoer geryg.’n Geel klimroos as verandahroos op die rooi stoep. Oopvalrose in die tuin naby die peppermentbedding. Die vredesroos met appelkoosoranje rose so groot soos pierings. Kartelrandrose. Klein stringe banksia-rose om om die rand van ‘n strooihoed te knoop. Grondrose,  kruiprosies, potplantrose.
Altyd, altyd rose.
Dit  kleur dae met haar in: mamma met ’n slaprandhoed wat behendig en vernuftig met ’n vinnige polsbeweging ou roosknoppe afbreek. Mamma wat met ’n bos tuinrose op die witgeskropte kombuistafel doring vir doring afsny sodat dit mooi in ’n vaas kan lyk. Mamma wat “omstap” om ‘n bos rose uit te deel.
Deurgaans neurie sy nootvas: Somewhere over the rainbow.
Sy kon die stres van ’n besig kantoordag wegsnipper met ’n snoeiskêr. ’n Kristalpot tuinrose in die gang voor ’n hangspieël staan maak om die dubbele kleureweelde te geniet.
Vir haar was daar altyd tyd om halt te roep om na die rose om te sien.
Vanaand, hier in die Kaap, met mamma ver en siek, besef ek dat sy lewenslank die heiligheid van iets broos respekteer het. My geleer het dat troos teen die seerkry lê juis in jou broosheid.
Want dit is waar Hy ons ontmoet. Lewenslank probeer ons sterk word teen die foutlyne in ons gemoed, maar Hy het reeds die troos en die Trooster verskaf.
My ma het verstaan dat jy broos mag wees. By breekpuntoomblikke mag stilstaan. Lief en leed kom en gaan, maar die onblusbare geesdrif om stil te staan vir die mooi, maak dit alles makliker.
Vanaand is oneindig dankbaar ek dit by haar kon leer. Dat die mooi soos ’n roosgeur kan talm. En dat jy jouself nooit die troos van ’n roos mag ontsê nie.

Kommentaar - 6 opmerkings

Celeste Fritze

Ek is bly ek kon 'n oomblik saam met jou hier stilstaan, Elize. Baie sterkte vir julle albei, as mens 'n roos liefhet, het jy altyd die Skepping se geur om jou. CX
Uitgesit op Vry., Mar. 12de 2010, 10:41

Ina Viljoen

Ek het die voorreg gehad om saam met jou die geur van hierdie rose te kon ruik deur dit net te lees - jy het die wonderlike gawe om woorde 'n werklikheid te laat word vir ons Leef-lesers. Dit is waarom ek jou altyd sal onthou en jou altyd wil deel he van my lewe en hart. Sterkte vir julle in hierdie moeilike tyd van siekte!
Uitgesit op Vry., Mar. 12de 2010, 12:41

Christiana Groenewoud

Dit is lekker om deur jou ompad saam met jou ma te kom loop met die reuk van rose wat haar/ons volg al die dae van ons lewe. Ons sal spesiaal vir haar rose plant... sodat die skilpadbesie daarop kan kuier. Ek gaan netnou afloop Groentemarkplein toe om weer 'n krale-skilpadbesie te koop. Ek het myne vir Paul gegee om teen sy venster daar in die verte te sit en die blink van die son deur die kralewerk te bekyk. CG
Uitgesit op Vry., Mar. 12de 2010, 12:52

Annieria mcFarlane

Elize, jy het my aan die huil gesit met hierdie rooswoorde. My Ma was ook 'n rose-mens en ek mis haar nog elke liewe dag, al is sy al amper tien jaar gelede onder hande vol roosblare gebêre. Jou rooswoorde was vir my ook trooswoorde. Miljuisende dankies.
Uitgesit op Vry., Mar. 12de 2010, 13:46

Elsabe Toua

Elize, hoe kosbaar is hierdie stilstaan-tydjie saam met jou en jou ma in die roostuin. Baie dankie vir die deel van hierdie innige heilsoomblikke. Ek hoor jou ma neurie - SOMEWHERE OVER THE RAINBOW - daarom hang ek nou, saggies en met sorg, 'n reenboog in volkleur om albei van jul se hals, onderskeidelik, dig teenaan jul harte. Mag die aangename geur van rose daarmee saam om jul draal en so die onthou vir altyd toevou en ewiglik behou. Baie seen en vrede bokant denke. Ek sal jul teen die Berg opdra na Jesus en in Sy arms neerle - God is Liefde en niks kan ons ooit hiervan skei nie.
Uitgesit op Vry., Mar. 12de 2010, 21:27

Zelda

Elize Jy bring daardie rose deur jou raak beskrywings tot hier by my en ek sien dit staan in n vaas langs my rekenaar. Dankie vir die deel van die stukkie mooi en troos wat net Jesus en sagte blomme kan bring. Zelda, Uitenhage
Uitgesit op Sat., Mar. 13de 2010, 18:31
Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na