Saamlees 2019-09-30T20:35:05+00:00

Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Israel-Omnibus

Deur Marzanne Leroux-Van der Boon (Lux Verbi)

Die omnibus bevat die eerste twee boeke uit Marzanne se geliefde Israelreeks. Granate bloei in Jerusalem: Marc, ‘n sensitiewe jong Suid-Afrikanse kunstenaar, gaan na Jerusalem om sy Joodse ouma, Ruwth, te ontmoet en sy eie Joodse wortels na te speur. Hy vind so sterk aanklank by die Joodse geloof dat hy verstrengel raak in ‘n geloofstryd – bestaan Jesus regtig? Te midde van geweld en selfmoord-bomaanvalle kry hy Rivkah, die dapper Jodin, lief. Hatikvah: Rivkah hoor sy is swanger. Terwyl sy worstel oor die ongebore kind se opvoeding, kyk Marc deur kunstenaarsoë na kinders om hom. Kort daarna verloor sy die ongebore baba in ‘n miskraam. Onbeantwoorde vrae tusen Marc en Rivkah lei tot huwelikspanning tussen hulle twee. Sal Rivkah weer kans sien om swanger te word? R250.

Twee kinders later

Deur Charmé Kriel (Lux Verbi)

Charmé word onverwags met pre-eklampsia gediagnoseer toe sy 27 weke swanger is met haar eerste kind, Lisa. Klein Lisatjie word met ‘n noodkeisersnee gebore en Charmé se lewe word in ‘n ommesien op sy kop gedraai. Lisa weeg 850 gram, em sy veg elke dag vir haar lewe. Charmé se reis tot ma-word was nie maklik nie, maar sy vertel haar storie met humor en deernis: ‘n Universele storie van oorlewing vir elke moderne ma. Charmé se storie help ons om te weet dat ons nie alleen is nie, die ma langs jou het dieselfde pyne, vreugde, angs en vrae. Charmé Kriel is ‘n voltydse Afrikaanse onderwyseres by die Hoërskool Vishoek. R230.

Koeke en terte

Deur Susan Coetzer (Lux Verbi)

Elke vrou is uniek: ‘n Koek of ‘n tert, of iets tussenin. Dié boek gee jou skreeusnaakse wenke oor die verskille tussen mans en vroue en verskillende tipe vroue. Susan se gelykenisse van vroue met verskillende tipes gebak en kos, is geskik vir almal wat ‘n goeie humorsin het – en veral vir hulself kan lag. Sy takel ernstige onderwerpe: Jy as vrou is goed genoeg, jy moet nie so hard op jouself wees nie en jy is genoeg vir God net soos jy is. Sy leer jou hoe om jouself te waardeer, jou eie gawes te ontwikkel en om jouself en ander se uniekheid te aanvaar. R210.

Uit die hart van ‘n vrou

Deur Rozaan de Wet (Lapa)

Twee vriendinne en elkeen met ‘n probleem wat haar lewe insluk. Al twee sukkel om die werklikheid in die oë te staar. Claire se man is ‘n drankverslaafde en Claire se man ‘n volslae narsis wat haar oorheers en fisiek en verbaal boelie. Uiteindelik neem beide vroue beheer. Die een leer deur selfondersoek en begrip, die ander deur vir die eerste keer respek vir haarself te kry. Dan is daar ‘n ingrypende gebeurtenis in beide vroue se lewe wat elkeen se koers in ‘n ander rigting stuur. En deur die helende krag  van susterskap wat die krom en die skeef kan smelt nreek daar ‘n nuwe goedheid deur om alles draaglik te maak. R285.

Suidooster Kombuis

Met Errieda du Toit (Human & Rousseau)

Die geure uit die Ruiterbosch-kombuise waai saam met die suidoos dwarsdeur jou TV-skerm tot in die hart van jou huis. Van soet-hoenderkerrie, varsgebakte speserykoekies tot tamatiebredie. Dié kookboek bevat Suidooster-aanhangers se gunstelinggeregte. Mrs J, Mymoena en Stefan neem die voortou: “Ons deel ons resepte sodat familietradisisies, ons kos en feestelikheid kan aangaan. Dis niks uitspattig nie. Ons kook uit ons harte met bestanddele soos liefde en vreugde.” Errieda du Toit vang die hoogtepunte van die reeks in dié boek vas. R280.

Vanuit die hart

Deur Jolene Strauss (CUM)

In hierdie dagboek deel Rolene die geheime tot haar sukses en die lesse wat sy geleer het as ’n skoonheidskoningin en ambassadeur vir haar land. Die eerlike en opregte oordenkings oor onderwerpe soos moed, keuses, geleenthede, verhoudings, selfvertroue, druk en uithouvermoë sal aanklank vind by vroue van elke ouderdom. Aan die einde van die week is daar ook plek om jou eie gedagtes oor die week se onderwerp neer te skryf en so die dagboek te verpersoonlik. Hierdie pragtige dagboek is ’n jaarlange reis wat vroue van alle ouderdomme sal aanmoedig om te besef hoe waardevol hulle in God se oë is. Die pragtige oordenkings sal jou inspireer om ’n doelgerigte en betekenisvolle lewe te leef. R220.

Aan die voete van die Vader

Deur Izak Burger (CUM)

Hierdie is ’n dagboek uit die pen van die bekende outeur Isak Burger, waarskynlik een van die langsdienende kerkleiers in die land. Deur 365 kragtige oordenkings sal lesers geestelik verryk en verkwik word. Die oordenkings sal die Here ook ’n groter werklikheid vir mans en vroue in hulle lewe laat word. Enkele temas wat in hierdie dagboek voorkom, is rentmeesterskap, vergifnis, seën, genade, gebed, dissipelskap en Woordstudie. ‘n Dagboek wat die leser inspireer om ’n meer toegewyde volgeling van Jesus te word. R250.

My eerste Bybel

Deur Wendy Maartens (Lux Verbi)

My eerste Bybel is spesiaal vir kinders tussen 0 en 3 jaar en bestaan uit 43 Ou en Nuwe Testamentverhale vertel deur Wendy Maartens. Die illustrasies deur Honor Ayres is tydloos en sal klein kindertjies bekoor. Die stories is kort en in maklik verstaanbare taal. Die stories is so gekies om die kern van die Evangelie vir jong kinders te kan oordra. Wendy Maartens is ‘n joernalis en bekroonde kinderboekskrywer. R200.