Wat het van ons Christene geword?
Filippense 2 : 1 - 3 “As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te he, een van siel en een van sin. Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoer ag as homself. Ek is vanoggend kwaad. Sommer baie kwaad, vir myself en die kerk en die mense in die kerk. Die Christene. Ek kom van ‘n plattelandse dorpie en het so 7 jaar terug hierheen verhuis. Ons het by ‘n lieflike gemeente ingeskakel. Net groot genoeg om in weg te raak. Weg te raak na ‘n mal week in die stad. En so is my kinders gebore. So tussen die kinders grootmakery en om my man by sy kantoor te help het ek probeer betrokke wees by die gemeente. Ek het op ‘n stadium besef dat net soos mens nie van ‘n skool kan verwag om vir jou kinders ‘n goeie opvoeding te gee nie, net so min kan jy van die kerk verwag dat dit jou geestelik moet laat groei. Ek het begin om daagliks ‘n sekere tyd by die kerk ‘n draai te maak en stil te word voor God. Het intussen my eie besigheid begin, mense gehelp waar ek kon en ook mense seergemaak toe ek geen ander uitweg gehad het nie. Intussen het my man siek geword, in ICU beland en ek was so dankbaar dat twee mense van die gemeente gebel het om te hoor hoe dit met hom gaan. Ek was so verward in daardie tyd, aangesien ek geen ondersteuningsraamwerk hier gehad het nie, en het uit desperaatheid net sms’e gestuur en gevra:BID. Want sien, ek kan nie sonder my man nie. Ons is hierdie jaar al twaalf jaar gelukkig getroud met die vyftig-vyftig beginsel: as ek verkeerd was, was jy ook verkeerd want ons is vyftig-vyftig in hierdie huwelik. Dan se hy jammer vir sy vyftig persent en ek se jammer vir my vyftig persent. Nou vra ek: hoekom moes my man byna dood gaan voor ander Christene jou skakel en hoor hoe dit gaan? Hoekom gee Christene nie meer vir mekaar om nie? Is dit regtig die kwessie van elkeen sit op sy eie mishoop? Dra almal dan soveel maskers? Het elkeen nie maar die begeerte vir erkenning en omgee nie? Waarheen stuur die kerk heen? Is daar nie tog dwarsdeur die Woord van God hierdie omgee en liefde vir mekaar nie? In Kor 13 staan daar duidelik as jy nie die liefde het nie, dan help dit veel jy het soveel ander gawes. Ek vra weer: Wat het geword van die omgee en liefde vir mekaar? En ek is kwaad vir myself ook. Ek het ook so begin leef. Waar ek voorheen almal gegroet het en gevra het hoe dit gaan, doen ek dit nie meer nie. Ek het opgehou omdat ek seergemaak gevoel het. Ek het gevoel, wie gee in elk geval om. Maar ek weet God gee om. Hy vra dat ons die lig vir hierdie wereld moet wees. Hy vra dat ons sout vir die aarde moet wees. Hy vra dat ons Hom moet LEEF. En ek staan vanoggend op my kniee en ek se jammer. Jammer dat ek nie meer geleef het vir Hom nie, dat dit meer om myself en my behoud gegaan het. Dat dit gegaan het om te oorleef in hierdie jaag na wind. En ek gaan vandag nuwe asem skep. En liefhe en omgee. Soos in Romeine 13:7-8 staan: Niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here. En ek gaan hou by die woord wat God my gegee het die dag toe ek klaargemaak het met skool. Dis in Rom 12:2 Moenie aan hierdie wereld gelykvormig word nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. Ek roep uit en blaas vanoggend op my ramshoring. Here, in U is die oorwinning! En ek vra vanoggend aan elke mede-christen: Bel iemand en se vir hom of haar dat jy aan hulle dink en bid. Groet mekaar vriendelik sonder maskers. Vir die gemeentes: moenie eers as iemand op sterwe le, dan wil bel nie. Bring die blomme terwyl ons leef, nie as ons gesterf het nie. Asseblief.







Kommentaar - Geen kommentaar sover