Vriendskap

deur Rosa Deel met ander Kommentaar (1)
 
0/5.0

Vanaand sit ek by ʼn vreemd kombuistafeltjie in ʼn goudgeel houthuisie iewers hoog in die berge tussen Knysna en Sedgefield. Die sagte misreën val teen die ruit, die stoom staan op my varsgemaakte koppie koffie en ek hoor die sagte asemhaling van die mense van my asem wat die prentjie perfek afrond. Die oorverdowende stilte klink soos musiek in my ore en sak soos lank verwagte reën dieper en dieper en dieper tot daar waar dit saak maak. Die jaar het afgeskop en sonder seremonie sy eie koers gekies, die skole het begin, jaarprogramme is uitgedeel en daar is geen terugdraai kans nie. Die Duvenhage sirkus (soos ʼn vriendin na ons verwys) is vir die naweek hier in die “hemel”, om bosberaad te hou. Om mekaar in die oë te kyk, sonder die TV te kuier om ʼn vuurtjie en net lekker te rus. Dit laat my gedagtes dwaal na die mense wat my omring. Ek sit die week die tv aan en op TBN gesels daar ʼn man oor die 4 soorte mens in jou lewe, en hoe jou vriendelikheid goedkoop moet wees maar jou vriendskap duur. Hy praat van: 1. VIP (very inspiring people) – dis die mense wat bydra tot wie jy is. 2. VDP (very depressing people) – dis mense wat jou emosioneel dreineer. 3. People who multiply you – dis die mense wat motiveer, inspireer en aanmoedig 4. People who divide you – dis die ouens wat skinder, kwaad stook en fout soek Ek voel skoon skuldig toe ek in my gedagtes begin om die mense wat my omring in die vier boksies te plaas. Hy gebruik toe die voorbeeld van Jesus wat ook omring was deur mense en keuses moes maak oor vriende. Jesus kon nie met ʼn skare van 5000 mense vriende wees nie, Hy het die 12 dissipels gehad waarmee hy daagliks omgegaan het en selfs uit hulle het hy drie beste vriende gehad, en uit die drie wat Johannes sy heel beste. Ek gesels my my ma daaroor en met die wysheid van die grysheid, verduidelik sy dat mense soos skepe is, party vaar net vir ʼn kort rukkie langs mekaar, hou mekaar geselskap en ruil voorrade uit, maar ander word deel van jou vloot. Dis so goed gestel, en bevestig dit wat in my hart is. Ek is so dankbaar vir mense in my lewe! Vir die koffie drinkers, die wat bel presies wanneer ek nie meer kan nie!! Die ou, ou vriende wat nooit vergeet nie, die wat lekker drukkies gee, en wat mens nooi vir ete. Die wat jy min sien, maar kuier asof geen tyd verloop het nie. Die wat jou hare kleur en toelaat dat jy op hulle skouer huil. Die wat kom kuier sonder om eers te bel, en dan sommer bly vir ʼn braai. Die wat jou telefoon rekening opjaag, net omdat jy weet hierdie gesprek gaan jou dag maak Die wat baie maklik op ʼn vliegtuig spring en kom kuier as jou stem oor die telefoon bewe. Die wat nie uitpraat nie. Die wat deel is van jou “dream team” Ek besef dat al het ek nie my vriende volgens een of ander kriteria gekies nie, is elkeen deel van die legkaart. Elkeen het op ʼn spesifieke tyd ʼn baie spesiale leemte in my lewe gevul, en na die naweek as ons die geel huisie se deur toetrek en die prentjie mooi pad huis toe vat, skop realiteit weer in en is ek dankbaar vir ons vriende wat die bladsye van ons verhaal inkleur en lewe gee.

Kommentaar - 1 opmerking sover

Zelda

Die wegbreek klink hemels. Terwyl ek lees, sit ek saam met jou aan daardie tafel en ek ruik die koffie en ek put baat daaruit om te besef hoeveel mense se lewe oor die algemeen met mekaar vergelyk. Die seen is in daardie vriende, meestal vip en en multipliers wat Jesus op my en jou pad gebring het . Ek probeer die dreineerders verdra en dikwels vermy ek hul, wanneer my deduld opraak. Ek dank die Here vir my staatmaker vriende en vriendinne en my aanlyn vriende wat ek dalk nooit sal ontmoet, maar wat soveel waarde aan n dolle lewe en lewensstyl toevoeg en ek sê dankie vir jou inspirerende bydra. Zelda van Uitenhage , Oos Kaap
Uitgesit op Di., Mar. 2de 2010, 22:29
Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na