Vakansie-paraat

deur Chrissie Kritzinger Deel met ander Kommentaar (2)
 
0/5.0

'n kussing, 'n boogiebord en 'n bloedrooi sambreel...

Ek snak na my asem en my vingers boor in my man se been... "dis 'n ... dis 'n..."

"wat?!" roep hy ongeduldig, gewoond aan my backseat driving, "wat IS dit???"  "Dis 'n... 'n... mens...!" snik-snak ek... "Stop!"

Dís nie wat ek vir die vakansie beplan het nie.  En beplan het ek, deeglik.  Soos altyd.  Van die padkos vir die lang pad, die sticker-speletjies vir die "hoe-ver-nog"-fase, die oornagplek, tot die kleinste besonderhede van die vakansiefees: swemklere en handoeke, 3 boogiebords vir 3 kinders, eie kussings (kruipend nader aan 40 begin ek verstaan hoe 'n stukkie van jou eie huis 'n droomlose slaap kan waarborg), emmers en sonbrandroom, speletjies en rooiwyn vir saans met die branders in ons ore.  Ek ontken nie eens die moontlikheid van stormweer en reën nie, pak daarom my splinternuwe rooi sambreel. (Kon dit nie weerstaan daar by Woolies se betaalpunt nie, dit sê tegelyk: "prakties!" , maar ook "elegant! flambojant!"... gun 'n huisvrou haar droom...)

Maar die fynste beplanning kan so maklik in die wiele gery word.  Wiele... terwyl ons s'n sagkens tot stilstand kom, brand dit soos oggendson teen my ooglede: slow-motion styg dit, draai en val, fladder en lig weer... maar dis nie 'n plastieksak nie, die bruin vlerke is die jaspunte, 'n mou, die remme skree maar saam met die klippers skiet 'n deurtrapte skoen na links.  Dis 'n... dit was nou-net nog 'n mens...

Miskien was dit tog net 'n groot leë sak. Dit lê doodstil in die pad.  Dood stil.  Ek en my doktersman spring uit en hardloop nader, op pad kan ek klaar sien hy vermoed die ergste.  Maar na lang sekondes is die pols terug, swak maar daar... en terwyl meer en meer karre stop begin sy saggies sug en kerm.

Handewringend kom die bestuurder aan... "sy't nie gekyk nie, nie gekyk nie", my man is besig, kalm, maar ek is nie 'n dokter nie en eensklaps gewalg in my onvermoeë, my gemaklike sleepwa vol vakansieluuksheid terwyl hier 'n mens kerm op die harde teer, onder die vurige son...

"Prakties!" roep my rooi sambreel vanuit die kombi waar my kinders grootoog staar, en ek ontvries om die bietjie te doen wat ek kan... die boogiebord 'n rug-en-nekstut om haar uit die middel van die pad te kry, 'n kussing vir sagte troos (my kind bied haar sagte wol-hond aan, onwetend dat hond vol bloed sal word en hier sal moet bly waak) en oplaas 'n rooi-soos-bloed sambreel vir 'n skadukol tot die ambulans kom...

Later eet ons padkos en plak stickers en praat met mekaar oor lewe en oor dood.  En wonderwerke.  En paraat-wees as die lewe jou 'n kans gee om jou luukshede te mag verruil vir 'n onelegante, on-flambojante, droomlose slaap.

Kommentaar - 2 opmerkings

Maryke

Dankie vir jou mooi storie Chrissie! Glimlag met 'n traan! ...ons het so baie om voor dankie te se! :-)
Uitgesit op Di., Jun. 22de 2010, 21:40

Stephanie

Dankie Chrissie ! Klein dingetjies .... rooi sambreel , beertjie .... met groot liefde wat die verskil gemaak het terwyl jou man sy skeppingsdoel kon uitleef ! Bid dat God jou/ook vir my elke dag so sal gebruik ... nes jy/ons is !
Uitgesit op Son., Aug. 1ste 2010, 10:37
Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na