U beloftes, U woord, U waarheid

deur Erika Truter Deel met ander Kommentaar
 
0/5.0

Ek is 'n ma van ses kinders, was lank by sendingwerk oorsee betrokke en het baie dinge beleef wat ek graag sal wil deel en getuig om ander te bemoedig. Ek is besig om van 'n twee jaar lange stryd met klierkoors te herstel. Is daar moontlikhede vir iemand soos ek? Watter proses moet ek volg? Ek het my graad in joernalistiek alhoewel ek nooit as 'n voltydse joernalis gewerk het nie. Ek sal graag by vryskutskryfwerk wil betrokke word. Maar ek span die wa voor die perde. Is daar potensiaal in dié stukkie wat ek gou vanaand neergepen het? “As énige een van julle weer die woord “MAMMA” binne die volgende halfuur gebruik, gaan ek.... gaan ek... gaan ek.... ek weet nie wát nie, maar ek belowe julle dit gaan minstens ‘n PG 13 vir “violence” wees!” Grootoog swart geskrikte pupille sluip bang weg.... Ek voel soos die grootste skurk op aarde! In my geestesoog maak ek die koerant oop en sien een of ander ou se lys van swakstes... en ek is heel bo-aan vir slegste ma van die jaar! Ek voel vandag soos een van my vadoeke nadat hy 10 mense se nat skottelgoed moes afdroog. Totaal opgebruik, gekreukel en boonop sopnat. En nie die romantiese papsopwinterwaternat wat in liedjies besing word nie, ek voel vuilskottelgoedwaternat. En ek staan en wonder of die Here nie ‘n fout gemaak het toe Hy dié ses kinders in my skoot geplaas het nie. Skielik hoor ek in my gees die engelse koortjie... “My Beloved is Mine and I am His and His banner over me is love!” En ‘n stil vrede kom oor my... Ja Here, kom plaas U banier van liefde oor my... bedek my, vul my met U vrede. Help my om in my gees stil, kop op die bors by U te sit en my tenk weer vol te maak van U Beloftes, U Woord, U Waarheid.... Ek staan sommer so in die kombuis, houtlepel nog in die hand en beleef ‘n stilword, vrede oomblik. Ek asem Hóm in, en Sy soet geur vul my wese en verdryf die skottelgoedwaterstink... Jesus... My Bron, My Oase, My krag... Later, nadat ek vergifnis gevra het vir mamma se “Temper Tantrum”, en vergifnis ontvang het, sit ek met my arms vol van warm lyfies wat gretig drukkies uitdeel. Die verligting op die gesiggies dat “Mamma Monster” verdwyn het, soos ‘n lig wat uit hulle straal. En ek asem diep hulle gretige onvoorwaardelike kinderonskuldliefde in, en dit is baie, baie, baie soet....

Kommentaar - Geen kommentaar sover

Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na