Net 20 plantjies

deur Nadea Victor Deel met ander Kommentaar (1)
 
0/5.0

Moedeloos, kop onderstebo, sweet druppels pêrel op my voorkop. Ek sit in my tuin, my petunia plantjies staan die wêreld vol rondom my terwyl die skuldgevoelens van ‘n moeë moederhart soos branders teen die mure van my hart breek! “Ag Here, al waarvoor ek vandag vra is net ‘n tydjie om hierdie 20 plantjies in rus en vrede te kan plant. Hou tog die kinders rustig en tevrede sodat ek net ‘n uurtjie in my tuin vir myself kan hê.” Dit is wat ek bid tewyl ek die skuld knop in my keel met ‘n droë mond probeer wegsluk. Binne die huis hoor ek die kinders raak al moeiliker, al weer tyd vir middagete. Ek stop maar eers my tuinwerk om vir hulle ietsie vir ete te maak. Tussen die potte en panne deur kom ek met ‘n briljante plan te voorskyn. Ek gaan gou die strand tent vir hulle op die gras opslaan dan kan hulle mos lekker buite speel terwyl ek in die tuin klaar maak. Dit is tog net ‘n uurtjie se werk. Na ete gaan grawe ek die tent onder ‘n hoop weggooi-goed in die motorhuis uit en begin om die tent aanmekaar te sit. Dit kos toe nogals heelwat spierkrag en die sweet tap my nou behoorlik af. Baie trots op die feit dat my tentjie regop staan, roep ek die kroos nader – “toe toe julle, nou kan julle lekker hier buite by my speel”. My entoesiasme word begroet deur baba se angsbevange gille die oomblik toe ons haar onder die tent se dakkie sit en die ander twee kabouters kla steen en been saam dat dit hopeloos te warm is. Ek kners weer op my tande, hou moed en besluit om die plastiek skulp op die tweede verdieping te gaan leeg maak, af te dra en water in te tap. Dan kan hulle mos lekker in die water speel. Op by die trappe, af by die trappe, tap die water in. Bravo – dit behoort te werk. Wat ‘n goeie plan. Skielik is hier ‘n harde gil langs my. Boetie kry koud, soek ‘n handdoek en wil sjokolade melk drink voor die tv terwyl hy vir BEN 10 kyk. Uit die hoek van my oog sien ek hoe my plantjies al hoe meer verlep raak en ek sien hoe hulle eintlik smeek om bietjie lafenis. Maar nou ja, ek moet maar weer los en eers vir boeta help. ‘n Hele rukkie later, stokflou en warm besef ek daar is nou nie meer tyd om te mors nie en ek begin soos ‘n tuin-ninja gate maak, plantjies ingooi, toemaak en water gee. Teen sononder is ek stokflou en verbrand. Dit is nou al vir so paar weke skool vakansie. My man is terug by die werk, ek probeer self so tussen die kinders heen ‘n paar ure werk inpas hier en daar. Tussen geknersde tande en ‘n moedelose glimlag kry ek myself soggens al hoe swaarder uit die bed - nog ‘n dag! Ek gaan op my kniee: “Here, hou dit dan nooit op nie? Ek hoor almal om my sê ek moet hulle geniet terwyl hulle so klein is maar vandag is ek moeg. Moeg gesing, moeg gespeel, moeg kos gemaak en sommer net moeg “vakansie” gehou.” Ek bid dat die sweet tap vir ‘n moontlike wonderwerk dat die skole vroeër kan begin. Weer voel ek die skuldgevoel van vroeër die dag in my keel opkruip. Ek dink aan al die ma’s wat wens om weer hul kindertjies net nog een keer te sien glimlag, een keer vas te hou en ‘n miljoen sjokolade melkies sal aandra vir net nog een drukkie. So ‘n dag of wat later besluit ek om bietjie te gaan tee drink by ‘n vriendin en dan sommer so bietjie asem te skep en te kla ( ja, hart en siel te kla) oor my “vakansie” sorge. Geen terapie so goed soos ‘n ander ma wat verstaan nie! Of so het ek gedink. Ek het maar nog altyd aanvaar dat ma-wees my onherstelbaar deel maak van ‘n wonderlike spesie genaamd “Ander ma’s wat verstaan” en dat ons daar is om soms saam te huil, saam te lag en mekaar wonderlik te ondersteun op hierdie ongelooflike verrassende rit van ma-wees. Stomgeslaan en ontnugter is ek egter, toe ek so paar minute na my aankoms myself in ‘n situasie bevind waar my vriendin soos ‘n soldaat op aandag staan, besig om ‘n lesing te gee oor al die “foute” wat ek en my man blykbaar besig is om te maak met die opvoeding van ons drie “wilde bokke”. Te geskok om my en my gesin te verdedig vertrek ek maar so rukkie later voor my reeds swaar vakansie hart se walle breek. Vir ‘n dag of wat hierna steek ek myself en my kinders ‘n bietjie by die huis weg. (Ek durf dit nie waag in ‘n beskaafde samelewing na my lesing van vroeër die week nie.) Ek gun myself tyd om diep te rou oor die goedgemanierde, stil, bang muurblommetjies wat ek nooit sal hê nie! Op dag drie spring ek vroeg uit die bed, soen en druk my drie (kom ons se maar lewenslustige, uitgesproke) kabouters. My rou periode is nou finaal verby – nog ‘n dag! Soos elke ander oggend voor en na die onverwagse lesing sê ek vir myself – “Vandag doen ek beter as gister! Hierdie drie wilde bokkies is in hierdie huis omdat dit presies is waar hulle moet wees en ek die perfekte ma is vir elkeen se sielietjie.” Ek ken geen ma wat doelbewus foute maak nie. Ek ken geen ma wat doelbewus verkeerde besluite neem nie. Ek ken geen ma wat doelbewus haar kinders te na kom nie. Ek ken hope ma’s wat elke dag hul beste doen, soos hulle goed dink na die beste van hul vermoeë, al mag almal nie altyd met hulle saamstem nie. Ek ken hope ma’s met harte vol liefde, deernis en geduld, soms ook groot emmers vol skuld oor ietsie kleins soos, “Ag Here, net tyd vir my 20 plantjies, dit is al wat ek vandag van U vra?”

Kommentaar - 1 opmerking sover

sgoosen

Sterkte, ek het ook 'n kroos van drie. En ja, dit voel ons ek partykeer wil weghardloop! En dis dan dat ek pleit in my hart: "Net 'n bietjie stilte asseblief...". Dan kom die stemmetjie skielik in my binneste wat se hoe gelukkig ek is om kinders te he. En ek onthou Jesus se woorde: Laat die kindertjies na My toe kom. Ek is seker die kinders se stemme en lag was soos hemelse musiek in Sy ore! My jongste meisiekind is op 2-jarige ouderdom gediagnoseer met Melanoomvelkanker. Dit was 'n geweldige groot skok vir ons. So wanneer ek voel: Stilte asseblief, dan onthou ek dat dit eintlik hemelse klanke is, dat ons so gelukkig is om haar en haar boetie en sussie se stemmetjies te hoor! Dankie Vader vir drie besige kinders.
Uitgesit op Di., Feb. 9de 2010, 08:42
Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na