'n Gebed
JES 57.2 "Die wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf" Here, vandag kom ek na U toe om te bely dat ek nie altyd die reguit pad geloop het nie, maar Heer, ek het tog altyd weer besef dat daar net een pad is: die reguit pad. Hoe dikwels regverdig ons nie ons dade deur die skuld op ander te pak nie. Steek ons, ons seerkry en onbeholpenheid, minderwaardigheid en nikswerd gevoel weg onder n masker van "Ek is tog beter is daardie een" "Ek het dan soveel van my kant af gedoen-Ek verdien nie dit nie!" In plaas van om die les agter gebeure raak te sien en soos U, mense vry te spreek, verkies ons om die haat en seerkry te koester- vergeet ons dat U ons met n spesiale doel geskape het-dat ons nie almal eenders is nie, maar dat die einddoel maar altyd sal wees om na ons Skepper terug te keer. Diep in ons menswees, weet ons dat vergifnis vrede bring-rus bring, maar die reguit pad bly vir ons mensekinders so onbereikbaar, want Heer, ons wil nie oorgee nie. Ons klou en klou aan die seer. Rol dit soos n toffie tussen ons kieste rond, al laat dit so n bitter smaak. Miskien is die trots net te groot- kan ons nie erken dat ons U in ons lewens nodig het om die jaloesie, taai wroegings en haat uit ons lewens te neutraliseer. Here, daar waar U woon, is daar net rus en vrede. U sê dat ons net moet oopmaak en U sal inkom. Hoekom is dit dan so swaar om daardie knop aan die deur te draai en dit oop te maak?. Vewag ons n fisiese bewys dat U wel ingekom het of kan ons nie onsself sover kry om eenkant te staan sodat U kan inkom nie? Here, leer my vandag om opsy te staan sodat U my lewe kan vul. Dat daar rus en vrede in my gemoed kan kom. Leer my vandag om n oop deur te visualiseer met lig, liefde en vrede wat inskyn. Vul my gees met U krag, tevredenheid en rus. Dankie Heer vir hierdie dag, dat U sal inkom. U Woord wat altyd waar is getuig daarvan. "Klop, en vir jou sal oopgemaak word, soek en jy sal vind." Amen







Kommentaar - Geen kommentaar sover