kosmosse
Ons het die naweek net weer bietjie langpad gevat om vars asem te gaan skep in die platteland. So ry ek en Pieter, elkeen met ons eie besige gedagtes in stilte. Ons asem die rustigheid in en waardeer die berge om ons. Dis toe dat ek die eerste kosmosse sien. Dit is nog bietjie vroeg om nou al te blom, maar sowaar, daar staan 'n paar van hulle, vol in blom. En dis so asof ek Vader se stem hoor: "My skoonheid en prag is rondom julle, julle kyk dit net meestal mis omdat julle gedagtes so besig is, hierdie blomme is spesiaal vir jou." So met introspeksie, weet ek dat ek Sy skoonheid nie aldag soek wanneer ek besig is met my daaglikse take nie. "Soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid....." en ek besef ek sal meermale moet stilstaan en "asemhaal" en my fisiese en geestesoe oophou vir al die verrassings wat Hy beplan. En ek dink toe so aan die kosmosse: Hulle is net so eenvoudig, met hulle pragtige blare geklee. Niks "fancy branded" name iewers geskryf nie. Net in hulle eenvoud blom hulle in prag en ek kom toe af op 1 Pet 3:3 en 4: "Julle versiering moet nie uiterlik wees nie.........maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van 'n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God." Wow!! En ek bid: "Vader, mag ek myself versier met 'n sagmoedige en stille gees."







Kommentaar - 1 opmerking sover
Trudie Delport
Kosmos is genade blomme, jy saai nie, plant nie, gee nie water nie, maar as jy kyk staan hul langs die pad. So, is die Here se genade. Sonder dat jy iets doen om dit te verdien, is dit langs jou pad. Mag elkeen van ons dit elke dag so raaksien! Deel die Here se liefde met ander, want liefde 'kosmos' niks! My Ma se huiswerker het die ander dag vir haar gesê dat kosmos die Here se blomme is. Paseka blomme. (Paseka is Paasfees). Hoe pragtig is dit nie? Soos wat Hy vir ons die kosmosse gee, het Hy Sy Seun aan die kruis gegee sodat ons kan lewe!