“HE BROUGHT ME OUT OF THE MIRY CLAY”

deur Annetjie Symons Deel met ander Kommentaar (3)
 
0/5.0

Op drie-en-veertigjarige ouderdom het ek ’n ineenstorting gehad as gevolg van ooreising. Ek was in ’n leiersposisie van twee verskillende toneelproduksies wat opgevoer was binne ’n Christelike konteks. Daar was ongeveer honderd-en-dertig spelers betrokke. Die spesifieke Saterdag en die Sondag was die eerste opvoering van vier-ure elk aangebied. Ongeag van die voorbereiding vir die toneelstukke, het ons ook spanne aangestel wat al die kledingstukke gemaak het, en die “decor” gebou het. Met baie wilskrag en inspanning was die eindproduk ’n reuse bogemiddelde sukses. Ongeveer drie maande later was ons gereed met nog ’n nuwe toneelproduksie wat ook die Saterdag en Sondag vertoon sou word. Op die laaste nippertjie was daar só groot aanvraag na die eerste opvoering dat ons besluit het om beide produksies aan te bied. Menslik gesproke was dit onmoontlik om dubbele sessies van agt-ure lank, met ’n kort pouse, die Saterdag en Sondag aan te bied. Dit was ’n enorme klomp werk en voorbereiding. Albei die opvoerings was binne ’n rekordtyd aangebied. Die werkslading was egter te veel vir my. Ek het een nag flou geword in my bed. Ek was twee weke bedlêend en feitlik te swak om van my bed te beweeg na my badkamer. God het egter my kragte bonatuurlik herstel. Ek was onkundig oor die impak wat só ’n terugslag op die liggaam het. Ek het te vinnig begin voortgaan met my daaglikse take. My liggaam het binne ‘n tyd van een maand weer heeltemal ingegee, dit was moeilik om só ’n situasie te oorbrug. Ek was soos een wat oor ’n geweldige afgrond geslinger word, ek het wanhopig weggesink in ‘n gat van depressie - net God wat jou daar kan uithaal! My slaap het vir weke lank verdwyn, ek het die nagte begin vrees en het in angs verval. Alles het vir my abnormaal geword. Die het gevoel of ek in ‘n verblindende lig vaskyk, ek het ligte floutes beleef. My borrelende geaardheid het verdwyn. Ek het ’n persoonlikheids-verandering ondergaan, ek was verpletter, totaal gedreineer en soos ’n verskrikte diertjie wat wou byt. Ek was geklassifiseer as ‘n “Endogene-depressie-lyer”. Ek het só gesukkel om te herstel en was baie swak. Ek het nooit besef depressie is ’n dodelike siekte, en dit het niks te doen met ’n swakkeling nie. Ek was lief vir die Here, en verslaaf aan Sy gebooie, maar ek kon nêrens lig sien deurbreek nie. God het my aanhoudend verseker van die genesing, maar die smarte en verdrukking wat ek deurgewerk het, het my oorweldig. Die wintertyd wat ek deurgemaak het, was dieselfde as wanneer jy sou ervaar dat jy vanaf jou voete yskoud word, en die koue trek regdeur jou hele liggaam. Ek het in die modderslyk van depressie vasgeval - ek het ’n hele paar rondtes verloor, en het nie die vaagste benul gehad die liggaam vra baie hersteltyd. Ek het aanhoudend vir myself gebid, intussen wou my brein en liggaam rus wat nie vir hom beskore was nie - dit alleen was al baie skadelik - my brein en liggaam was oormoeg. Ek het agterna besef as jy ’n boom afkap sal hy nie oornag weer groei nie. Ek was soos ’n boom wat al sy blare verloor het, die winter woestynkoue het my verinneweer. Ek het persoonlik begin veg teen baie simptome wat vir my totaal onaanvaarbaar was. Dit alles het die genesingsproses vertraag as gevolg van my onkunde oor die funksionering van die liggaam. Ek het verval in ’n erge siekte toestand. Ek het ’n chemiese-wanbalans ontwikkel, my brein het kompulsiewe gedagtes begin weergee. Ek was oortuig daarvan dat ek besig was om kranksinnig te raak en het gedink die duiwel val my aan met die kompulsiewe gedagtes wat my getreiter het. Ek het nie die vaagste benul gehad hoe om dit te hanteer nie, ek het teen alles geveg wat vir my verkeerd gelyk het. My hele lewe was toegewy aan God, maar ek was soos ’n verdwaalde skaap wat nie geweet het herwaarts-of-derwaarts. Ek was só verward met die simptome. Ek was verskeur in my binneste, ek het nie die vaagste benul gehad wat was besig om met my te gebeur nie. Die toestand het vererger, en ek was vasgevang in ’n verdrukkingstyd. Ek het godverlate en alleen gevoel. Ek was te bang om die simptome waarmee ek gewroeg het met my Psigiater te bespreek - hy was totaal onbewus van my diepe innerlike stryd. Ek was oortuig daarvan dat ek van my verstand afraak, ek was bang ek land in ’n gestig en word geklassifiseer as kranksinnig. Na erge lyding was ek senuweeagtig en oortuig daarvan dat ek nooit weer ‘n normale lewe sou voer, ek het ’n bang mens geword. Familielede het besluit om my te kom haal vir ’n week sodat ek by hulle kon aansterk. Hulle het my oortuig dat ek duiwelbesete was, ek was só swak en verward, ek het hulle geglo. Hulle het mense gekry wat my sou bevry. Ek sou enige iets doen om net bevryding te kry. Hulle het ure lank die duiwel bestraf, tot lank na middernag - hulle het vir my hande opgelê - helaas - alles tevergeefs. In die vroeë oggendure was ek meer verskrik en onseker as ooit tevore, ek het geglo ek is verlore, en die hel wag op my. Die christene wat die duiwels uitgedryf het was onsuksesvol. Hulle kon kwansuis nie verstaan wat was aan die gang? Ek het die hele nag tot God geroep vir bevryding, ek was so verskriklik moeg maar in plaas van rus was ek soos ’n verjaagde. Ek het die Here oor-en-oor verseker van my liefde. Toe my man hoor van die hele petalje, het hy my onmiddelik kom haal. Hy het my verseker dat ek nie duiwelbesete was nie maar die skade wat my aangedoen was, was groot. Dis bykans onmoontlik om te glo dat ’n mens gevul met God se woord in so ’n toestand kon verval. As die liggaam swak en gebreek is, hoor jy net die stem van hom wat roep na die woestyn - my selfvertroue het verdwyn. Ek was terneergedruk. Ek was soos ’n dor boom, ’n verstarde geraamte wat wanhopig gereik het na die kwynende warmte daar bo. Soos ’n Pelikaan het ek geswem deur die diep waters, dit het gevoel of die diep waters my oorstroom. Die woord praat van ’n Pelikaan, ’n swemvoël met ’n rekbare sak vir voedsel onder sy ken. ’n Pelikaan is ’n simbool van opoffering, omdat dit volgens ’n ou fabel sy kleintjies met sy eie bloed voed. Ek was soos ’n uil op die puinhope, soos ’n eensame voël op die dak. Ek het in ’n slaggat van depressie geval, omrede ek myself nooit genoeg rus en ontspanning gegun het. My persoonlike balans was buite verhouding. Ek was nie selfhawend. Ander se belange het eerste gekom. Ek het nie myself gevoed en gekoester nie. Ons plaaslike leraar het gehoor van al die uitsprake van familielede wat sê ’n duiwel woon in my. Hy het God se aangesig gesoek en drie dae lank gevas en gebid vir my. God het hom ’n gesig gegee dat ek myself uitgebrand het, en vir hom gewys my brein is vol gate, ek het tyd nodig vir herstel. Hy het saam met my gebid, en voorgestel dat ek medikasie neem om my liggaam te help om te herstel. Hy het my goed geken en bevestig dat geen duiwel in my bly - God het aan hom openbaar dat ek binne ’n gebreekte liggaam woon. Ek het rustig geraak en met alle mag en krag dapper die pad van herstel begin stap. My geheue was swak, my konsentrasie-vermoë weinig werd. As christen wou ek niks weet van medikasie, maar daar het ek geleer om my liggaam te ondersteun met medikasie. Ek is uiters sensitief vir medisyne, maar het die minimum tablette geneem om ’n siek liggaam te ondersteun. Ek het besef die dokters werk saam met die Here. Ek het weer my posisie ingeneem in ons kerk as pianiste en orreliste. Ek het my huishouding behartig, en die Here treë vir treë gevolg. My slaappatroon het herstel. Na agt maande se volgehoue geloof het ek opnuut in twyfelstorms weggesak - mentors in my lewe het gereken ek sou binne agt maande gesond wees. Ek het myself deeglik misgis met die tydsberekening wat ’n siek liggaam vra vir herstel. Toe ek na agt maande nog baie siek was, het ek wanhopig gegryp na ‘n “Geloofsgeneesheer” in ons land. Ek het geweet my liggaam vra nog baie hersteltyd maar was so verward. Ek het vertroulik my toestand met die “Geloofsgeneesheer” in sy spreekkamer bespreek. Ek het aan hom verduidelik van die chemiese-wanbalans. Hy was oortuig daarvan dat ek “stemme” hoor praat. Hy het voorgestel dat ekself vier dae vas en bid, dit was volgens sy uitspraak die enigste manier wat só ’n “demoon” my tempel sou verlaat. Uit onkunde het hy verdere skade aan my verrig. Ek was verpletter. Dit was wrede uitsprake oor ’n mens wat baie siek was. Trane was my kos, negatiewe gedagtes het my getreiter. Ek was persoonlik te swak en te siek om vir vier dae te vas en bid. My hart en liggaam was gebreek. Ek het deur liggaamlike, geestelike en emosionele worsteling geveg. Dit was ’n donker tyd van wanhoop! Na baie wroeging het my man en my seuns my in liefde begin versorg. My man het my verseker daar woon geen duiwel in my. My seuns het my in liefde begin opbou. Negatiewe uitsprake van “Hoog-Heiliges” moes ek dag-vir-dag afbreek in my gedagtes. Die negatiewe uitsprake in my lewe het my byna verwoes - dit was soos ’n maalkolk van storm waters waarin ek my bevind het - my gedagtes was vertroebel en net God kon my daar uitred! My oudste seun het my verseker omdat ek die Here se gebooie onderhou het my hele lewe lank, rus daar geen vervloeking op my, ek sal nie kranksinnig wees of sinsverwarring hê nie. Dit was bloot ’n geval van ’n baie swak liggaam wat afgebreek was. Mense dink dis “stemme” wat praat, dis ’n belaglike wanindruk wat geskep word. Ek kan u verseker bogenoemde toestand het niks met die duiwel te doen - dis nie “stemme” wat praat, dis ’n siekte-toestand wat oorbrug kan word met tyd en geloof. Inteendeel, só ’n persoon het ondersteuningsbronne nodig om uit daardie modderslyk uit opgetrek te word, en weer heel te word. Ek het wankelrig in geloof begin bou saam met my man en seuns. Die genesing en oplossings was nog baie ver. Ek het dag vir dag begin vasklou aan God se beloftes, maar ek was nog ver van die keerpunt van die omstandighede in my lewe. My gesin het my laste saam met my begin dra. Dit was ‘n harde tyd vir my en my gesin. Na vier jaar van baie wroeging, het ek stadig maar seker agtergekom die kompulsiewe gedagtes verminder effens. Vir my was dit soos ’n klein kersie wat aangesteek word, en my duisternis het begin opklaar. Dit was soos ’n swaar goingsak vol gemors wat ek saamgesleep het, soos ’n boemelaar ’n vuil sak goed oor sy skouers sou dra. In die nag van wanhoop ontdek ’n mens weer die lig van nuwe hoop. Die wanbalans het in die vyfde jaar heeltemal begin opklaar, my persoonlikheid het herstel - ek was weer vrolik en vol humor, en het baie ander mense op geestesvlak kon help. Ek het twee soete jare van volmaakte genesing geproe. Vol programme het my lewe oorheers. Ek het glad nie die kuns verstaan om af te skakel nie. Ek was steeds besig om my innerlike reserwes te oorskry. Na my herstel het ek baie familie-krisisse hanteer, en het myself oorlaai as ’n ondersteuningsbron. Afgesien van my eie persoonlike verpligtinge, was ek vasgevang in ‘n “rotresies”. Ek kon nouliks glo dat ek weer geknak het, en dat ek weer deur ’n soortgelyke proses moes werk. Die chemiese-wanbalans het teruggekeer. Ek moes van vooraf hard werk aan herstel, en was ook vir twee weke opgeneem in ’n kliniek. Na hierdie voorval het my liggaam twee jaar geneem vir algehele herstel. Ek het steeds gehardloop van punt A na B, konflik daagliks hanteer asof dit deel was van my dagbeplanning. Ek was soos ’n gespanne boog wat weer een of ander tyd sou breek. Ek het weer ’n ineenstorting gehad, en vir die eerste keer was ek eerlik met my Psigiater in verband met die kompulsiewe gedagtes wat my só getreiter het. Hy was bekend met enkele andere gevalle by pasiënte met dieselfde simptome. Hy het my verduidelik dat in my geval die “stres-hormoon” in die brein opgedroog het - ’n direkte oorsaak van uitbranding as gevolg van al die omstandighede waardeur ek was. Ek was weer opgeneem in ’n kliniek vir ’n maand. Hier was ek geklassifiseer met ’n siekte bekend as “Bipolêre Steurnis”. “Al val die regverdige sewe maal, hy staan weer op.” Mense wie ly aan “Bipolêre Steurnis” is nie geestelik versteurdes nie. Ek weet van bogemiddelde leiers wat uitgewys was met bogenoemde eienskappe. Al sou jou kind hiermee geklassifiseer word, dis nie die einde van die wêreld nie. Eintlik is dit ’n bogemiddelde kind wat met liefde, gebed en ondersteuning baie suksesvol kan wees hier op aarde. Mense wat as “Bipolêr” uitgewys word kan met die hulp van God en Ondersteuningsbronne en die krag van God ROTSE wees vir God hier op aarde. Dit is mense wat nie moed verloor nie, maar mense wat aanhou met aanhou - kom wat wil. Hulle is nie slagoffers van omstandighede nie, en verloor nie maklik moed nie - ’n sterk geslag met ’n vaste wil. Ek het geleer om ’n put-ervaring, soos ’n Josef van ouds, te swaai en uit te styg na bogemiddelde hoogtes. Ek het my lendene omgord met die waarheid dat ek ’n gunsgenoot is van God, maak nie saak watse uitsprake daar was oor my, al was ek gestroop van myself, ek was nie ’n slaaf van omstandighede. § Hy het goedertierenheid bewys aan Sy gesalfde, en my “modderslyk” ervaring kon ek gebruik om ander te bemoedig. Die Here het my duisternis opgeklaar en my lamp laat skyn. § Ek het die weë van die Here gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie. § Hy het uit die hoogtes Sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek. Sy goedertierenheid oor my was geweldig. Die Here het my met krag omgord vir die stryd, en my weg volkome gemaak. Hy het my voete gemaak soos die van herte, en my laat staan op my hoogtes. DAAR’S-NET-EEN-PAD BOONTOE ! NIE-ONDERTOE! Ek het die volgende geleer:- · Oordink die goeie, en nie net die slegte nie. · Luister na jou liggaam as jy moeg is. · Wees ingeskakel op jou liggaam. · Leer rus en ontspanningstegnieke aan. · Doen ’n dag of twee lekker dinge as jy moeg is. · Stres minder - leef meer. · Kies om jou nie te ontstel nie. · Sien jouself as suksesvol - nie as ’n mislukking nie. · Bedink alles wat eerbaar is, lieflik, rein, loflik, opbouend, regverdig en waar. · Die lewe is ’n plesier. · Verwerp negatiewe gedagtes en vervang dit met positiewe gedagtes. Maak vandag ’n nuwe begin, leef as ’n begunstigde. Jy gaan nêrens kom as jy gaan lê, jy kan jou drome waarheid maak.

Kommentaar - 3 opmerkings

reney

Ek het die getuienis van Annetjie Symons gelees "HE brought me out of the mire clay" EK sal so so graag met haar kontak wil maak, net vir haar sê haar ervaring, lewensverhaal het vir my soveel beteken.Ek het weer besef hoe belangrik dit is dat ons met ander moet deel/vertel.Daar is soveel wysheid en insig en verstaan in Annetjie se verhaal.
Uitgesit op Do., Apr. 22de 2010, 12:33

Jane

Ek het al die simtome al die slegte negatiewe gedagtes!Kan annetjie my nie asb kontak ek het hulp nodig en weet nie waar om dit te soek nie!!
Uitgesit op Sat., Aug. 14de 2010, 18:56

Annetjie Symons

Jane Kontak my gerus by annetjie.sym@gmail.com Weet verseker die lig sal deurbreek vir jou. Al lyk omstandighede hoe donker,daar is oorwinning en genesing. Vermy stres soveel moontlik.Ek kan jou verseker jou liggaan is ooreis,met tyd verander alles. Net soos die perskeboom morsdood lyk in wintertyd,tog is daar bloeisels en vrugte direk na die ysige koue. Net soos seisoene jaarliks draai,sal jou omstandighede draai... Jy het Goddelike krag om in jou winterseisoen vrugte te dra,kyk psalm.
Uitgesit op Son., Aug. 22de 2010, 23:27
Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na