God se genade te midde van misdaad
Hierdie getuie lewer ek namens my skoonma en swaer maar ek voel dat die getuie van God se genade en die krag van gebed so veel mense as moontlik moet bereik. My een skoonsuster bly in Springs en die res van my skoonfamilie bly in Secunda (swaer, skoonsus en skoonma). My suster van Springs se man het verlede week (21 Januarie 2010) in die hospitaal beland en my skoonma van Secunda wou graag deurgaan om haar dogter te ondersteun. My swaer het aangebied om haar Vrydag (22 Januarie 2010) na werk deur te vat Springs toe. Omstreeks 9 uur Vrydagaand onvang my man 'n oproep wat sê dat sy broer (my swaer) en sy ma in 'n kaping was en dat die kapers met my skoonma nog in die motor weggejaag het. Nodeloos om te sê dat mens sewe verskillende dode binne jou sterf met die aanhoor van sulke nuus. Dit is na alles Suid Afrika en ons weet mos almal wat gebeur in sulke situasies. Ek het kamer toe gehardloop om iets anders aan te trek en daar is ek onmiddelik gelei om te kniel en ernstig vir skoonma in te tree. So maak ons klaar, ry deur Secunda toe om my swaer se seun op te tel en ry toe deur Springs toe. Oppad Springs toe probeer ons my swaer se selfoon skakel maar die selfoon word net doodgedruk. Ek probeer toe my skoonma se selfoon skakel maar elke keer gaan die selfoon net dood. Intussen is daar baie oproepe heen en weer en die derde keer toe ek my skoonma se selfoon skakel antwoord sy die selfoon(!). Die verligting en dankbaarheid is onbeskryflik. Sy së toe dat die kapers haar afgelaai het en dat sy die weermag barrake in Dunnotor kan eien en dat sy nou oppad is na die Dunnotor polisiestasie. Nog 'n paar oproepe verder, hoor ons dat skoonma nou veilig terug is by my skoonsuster. Bt my skoonsuster se huis aangekom, hoor ons die hele storie. My swaer vertel dat hy voor die hek gestop het. Dit is 'n elektronies hek en omdat die hek nie oopgemaak het nie, het my swaer aangeneem dat sy suster dalk hospitaal toe is. Hy klim toe uit en probeer die hek oopmaak. Die volgende oomblik gewaar hy 'n kar wat in die pad reg agter sy motor intrek en twee gewapende mans wat uitspring en beduie dat hulle die motor gaan vat. Hy skree toe dat hulle die motor moet vat maar dat hulle net sy ma 'n geleentheid moet gee om uit te klim. Hulle voldoen toe NIE aan sy versoek nie, en jaag weg met my skoonma nog in die motor. Hy vertel dat hy agter die motor aangehardloop het en geskree het dat hulle net sy ma uit die kar moet laat klim. Toe hy besef dat hulle nie gaan stop nie, val hy op sy kniee in die pad en begin ernstig vir haar beskerming en veiligheid intree. Bure wat die geraas gehoor het, help hom toe, die polisie word gebel en toe begin die wag. Nou by skoonma se weergawe. Sy sê dat sy nie aanvanklik besef het wat gebeur nie en toe my swaer skree dat sy moet uitklim kon sy nie vinnig genoeg uitkom nie. Die volgende oomblik spring daar toe 'n gewapende jongman in die kar en al wat sy toe ervaar is dat hulle met 'n groot gehaas wegjaag. Mag ek met groot deernis noem dat my skoonma nie van die geaardheid is om regtig kalm te bly nie. Ek moet dit ongelukkg noem omdat dit net die wonderwerking van God se krag so mooi uitbeeld. Skoonma vertel verder dat na die aanvanklike skrik, daar 'n groot KALMTE OOR HAAR GEKOM HET (prys die Heer). Sy begin toe aanmekaar met die jong kaper gesels. Vertel vir hom van haar skoonseun wat siek is, dat sy nie van Springs is nie maar van Secunda, dat sy 'n diabeet is, dat haar man 9 jaar terug dood is, ens, ens ens. Sy sê sy het net aanhou praat en vertel. Naderhand merk sy dat die kaper kalmer raak en selfs saampraat. Vertel vir haar dat hy nie kan werk kry nie en dat hulle 'n gesin van 6 is en hy is die enigste een wat 'n "inkomste" het. Op 'n stadium praat my skoonma toe mooi met hom en verduidelik vir hom dat sy sieklik is en dat sy 'n ou vrou is (sy is 70 jaar oud) en dat as hy haar gaan seermaak of doodmaak, dit vir haar sleg sal wees maar dat sy haar lewe al gehad het maar dat hy vir altyd met die wete dat hy 'n ou vrou dood- of seergemaak het, moet saamleef. Hy sê toe vir haar DAT HY HAAR NIE GAAN SEER, OF DOODMAAK NIE ( prys God nog meer!!). So ry hulle en die volgende oomblik stop hy en së vir haar om uit te klim. Skok, ouderdom, wat ookal maak toe dat sy nie vinnig uit die kar kon kom nie en toe spring die kaper uit EN HELP HAAR UIT DIE MOTOR UIT MET HAAR HANDSAK EN AL!! (wat 'n wonderlike God dien ons nie!) En daar ry hy. Dit is toe dat sy sien dat sy by Dunnotor se weermagbasis is. Sy besluit toe maar om soontoe te stap. Die volgende oomblik kom daar twee jong swart mans na haar toe (en onthou asb dat dit nou al so 10uur die aand is) en vra wat gebeur het. Sy vertel toe vir hulle dat sy gekaap is. Die een së toe dat hy solank polisiestasie toe gaan hardloop en die ander een së toe dat hy saam met haar sal stap. Toe kom sy agter dat sy binne LOOPAFSTAND VAN DIE POLISIEKANTOOR AFGELAAI IS (hoe ongelooflik groot is ons God!). Die jongman wat by my skoonma gebly het, vra toe vir haar of hy maar haar hand kan vat want hy sien dat sy nie baie vas op haar voete is nie en hy wil nie hë sy moet val en seerkry nie. (EN GOD SKAAR SY ENGELE OM DIE WAT HOM VREES!). So stap hulle toe saam polisiekantoor toe en die twee bly by haar totdat my skoonsus se skoonma haar daar kom haal. Hierdie is Suid Afrika. Maar hierdie getuienis is van GOD SE WERKING BINNE SUID AFRIKA. Die krag van gebed en die genade van 'n Almagtige God het gemaak dat ek nie vandag kan stilbly nie. Ons in Suid Afrika moet weet dat God ons sal bewaar te midde van misdaad as ons ons net sal verootmoedig voor Hom en Sy naam sal aanroep in ons nood. Voel asseblief vry om hierdie getuienis te versprei sodat daar meer mense kan wees wat van die liefde en genade van ons God kan hoor. Shalom Ronel







Kommentaar - 1 opmerking sover
Erika
Wat 'n wonderlike getuienis van God se Beskermende Hand oor ons. Dankie vir aardse engele wat God op ons pad plaas. Amen