BROOD

deur Retha van den Berg Deel met ander Kommentaar
 
0/5.0

“Daar is meer honger in die wêreld vir liefde en waardering as vir brood...Die armoede om ongewens, ongeliefd, onversorg en vergeet te word, is die grootste armoede.” Hierdie is een van die talle wyse uitsprake wat uit die woordeskat van Moeder Teresa van Kolkata uitgesif kan word. Brood is meer as voedsel of trooskos. Vir die fynproewer was brood nog nooit vervelend nie, omdat ‘n mens sóveel soorte brood kry – ‘n verskeidenheid kleure en geure oor die wye spektrum van spyseniering in alle kontinente – om elkeen se eiesoortige behoefte bedien en te versadig. Elke broodjie is inderdaad bestem vir ‘n spesiale eter. Brood mag nie weerhou word van dié wat daarna smag nie. Toe my boetie klein was, was sy gunstelingkos iets wat hy genoem het ‘hardebrood met appelkooskonfyt’. Die roosterbrood met sy laag botter en konfyt het hy eindeloos gekou dat sy kieste bol gestaan het. Vandag weet ons dis die gesondste manier om koolhidrate te verteer, deur dit deeglik te kou sodat totdat jy begin versadig voel nog voor jy iets gesluk het. Brood kry ‘n hoër dimensie as ‘n mens kyk was Jesus Christus van Nasaret daaroor gesê het in die Evangelie van Johannes (6:35) “Ek is die brood wat lewe gee, Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie...” Nooit weer nie...’n bykans onbereikbare ideaal in ‘n honger wêreld as ons die hongeriges aan hul eie genade oorlaat sonder om te begin deel. Om eetbaar te wees, moet brood gebreek of gesny word. Is ons nie moontlik, of beskik ons nie dalk oor die brood en die middele wat vir hongeriges rondom ons gebreek en verdeel moet word, om kos en krag te bring waar daar wanvoeding en wanhoop bestaan nie? Is ons bereid om ons te laat breek om brood vir hulle lewe te wees? Of sáám met hulle die Brood van die Lewe te breek? Dit was Jesus wat Homself gegee het om gebreek te word, sodat ons geestelike lewenskrag kan hê. Sy liggaam is deur sweephoue gesny om ons te regverdig. Om gebreek te kan word, moet brood nie ‘n te harde kors hê nie. Soms is die korse rondom ons só hardnekkig. Dalk ken jy ook die selfregverdiging of bitterheid wat onverteerbaar is. Goeie brooddeeg moet plooibaar en buigsaam wees in ‘n Hoë Hand om bruikbaar te wees. Om smaaklik te wees, moet brood nie suur wees nie, maar moet ‘n soet, vars geur hê. Soms raak mens so suur dat ons ‘n aanstoot in plaas van ‘n plesier vir almal rondom ons is, ‘n wrang smaak vir die eter. Net selfverloëning kan daardie suur oplos sodat ons soet van binne kan wees. Brood moenie muf wees nie, dan is dit ongesond. Dit moet vars en met sou besprinkel wees om bewaar te bly as bykos by die maaltyd. Dit moenie siek maak nie, maar gesond. Raak ons nie te maklik muf in ons eie bekrompe beskouings wat ons spirituele remme laat vasslaan nie? Los die misleidende motiewe wat jou laat muf, die selfsug wat jou laat suur word. As die koringkorrel nooit in die grond geval het nie, het ons die brood gladnie gehad nie. Soms moet mens ‘n kopskuif maak, moet mens oopmaak om te kan groei, moet mens prysgee om te kan wen. Soos die seuntjie wat sy broodjies en vissies nie vir homself gehou het nie, maar dit weggee het om vermeerder te word. Was dit die skrywer Bill Johnson wat daarop klem gelê het dat jy slegs dit kan behou wat jy eintlik bereid is om weg te gee? Brood kan nie lank aan wind en son, aan die elemente blootgestel word voor ‘n mens dit eet nie, want dan verdor dit. Dit moet bedek en bewaar word tot die regte oomblik, opsygesit word vir spesiale gebruik. Bewaar die hart meer as alles wat bewaar moet word. Alleen so kan ons onbesoedeld lewe. Verspil nie jou kragte en vermors nie jou energie deur wanbesteding en verkwisting nie – wees gereed om die botter te ontvang soos ‘n salwing wat jou smaaklik en verteerbaar maak. En hoe lyk jou vulsel? Is dit vol bymiddels en gifstowwe wat skade kan veroorsaak vir die spysvertering, of is dit voedsaam en heilsaam? Om lewe te voed, moet ons gedurig rein en suiwer wees, getoets volgens die regte standaarde, en skoon van die besmetting van dit wat ons sonde noem. Watter broodjie is jy?

Kommentaar - Geen kommentaar sover

Ek is 'n:
Soek na:
Ouderdomskaal: na