Lééf mooi

Geskans teen die son

Deur Christine Ferreira | Foto Pexels

Somer beteken sontyd, maar wees versigtig vir skade aan jou vel. Hier is praktiese wenke en raad om jouself teen die son te beskerm.

‘Die somer is die tyd wannneer mens jou spanning saam met jou warm klere wegpak, en ’n sonnige dag is soos ’n skitterende salf vir die moeë siel. Ná ’n paar sulke dae kan mens bedwelm word van die wete dat alles reg is in die wêreld.’ Ada Louise Huxtable
  1. Hou in gedagte dat die son se strale in die Suidelike Halfrond feller is as wat jy dink en dat die son vir tot 90% van veroudering van die vel verantwoordelik is. Behandel jou vel én die son dus met respek!
  2. Wees sonslim. Hoe hoër die uitstraling van UV-strale van die son, hoe groter die risiko dat jou vel sal verbrand.
  3. Vermy die son tussen 11h00 en 15h00.
  4. Hoe hoër bo seevlak jy is, hoe intensiewer raak die son se strale. Moet nooit sonder ’n hoed tuinwerk doen nie.
  5. Smeer altyd ’n sonroom aan ten minste 30 minute voor dat jy in die son kom sodat die UV-beskerming ten volle kan ontwikkel.
  6. ’n Nat vel is geneig om makliker te brand as ’n droë vel. Droog dus altyd goed af nadat jy geswem het voordat jy weer sonroom aansmeer.
  7. Veral vitamien A, C en E is antioksidante wat die vel beskerm teen vry radikale wat onder meer deur sonblootstelling in die liggaam vrygestel word. Kies ’n sonskerm wat ook antioksidante bevat vir ekstra sorg.
  8. Beskerm jou gesig elke dag met ’n spesiaal geformuleerde sonroom. Dit behoort nie-olierig en nie-komedogeen te wees. Dit beteken dat dit nie die porieë sal verstop of knoppies sal veroorsaak nie.
  9. Belê in ’n baie hoë sonbeskermingsfaktor vir die gesig as jou vel sensitief is en maklik brand.
  10. Ná-sonsorg is ’n moet. Dit streel en kalmeer nie net die vel nie, maar voed dit met die nodige vogmiddels nadat dit deur die son uitgedroog is.
  11. Kies ’n sproeimiddel wat maklik aanspuit as jy nie van ’n room hou nie. Dit is boonop ’n maklike manier om kinders se vel teen die son te beskerm.
  12. Sonskerm moet herhaaldelik aangesmeer word, veral nadat jy geswem of gestort het. Sonroom kan ook maklik deur ’n handdoek afgevee word.
  13. Onthou, lippe en ooglede brand maklik. Kyk uit vir ’n spesiale sonroompie wat die sensitiewe en dun vel beskerm.
  14. SBF (sonbeskermingfaktor) is die riglyn wat dui op die tydsperk wat jy in die son kan bly sonder om te brand. Kies ’n sonroom wat teen UVA- sowel as UVB-strale skans.
  15. Laat jou vel gereeld deur ’n dermatoloog ondersoek. Melanoom is ’n tipe velkanker wat afkomstig is van die selletjies wat te veel melanien in die vel vervaardig. Dit versprei vinniger as enige ander tipe velkanker en word meestal gediagnoseer as ’n moesie van kleur, grootte of vorm verander.

Om te probeer: Avéne very High Protection Lotion SPF 50+,Nivea Sun UV Face Q10 Anti-Age & Anti-Pigments Immediate Sun Protection, Skinny Tan Gradual Tanner Everyday Tanning Lotion, Heliocare 360 Water Gel Sunscreen.

2019-10-31T19:23:41+00:00