Op die wynrak

Deur Johan & Christine Ferreira

Die oes van die wingerd is ryk en oorvloedig…

Ses om te proe

Christina Pinotage Trousseau 2017

Die Van Loveren-wynlandgoed bring met hierdie wyn hulde aan die familie-matriarg, Christina van Loveren, wat in 1699 in die Kaap die Goeie Hoop aangekom het. Die wyn stel komplekse aromas van braambessies, Kerskoekspeserye en donker sjokolade vry wat pragtig in die mond gekomplementeer word deur geure van heerlike ryp pruime, vye, damaspruim, braambessies en vanielje. Geniet dié wyn saam met bobotie, rooivleisgeregte en kerrie. Die Christina Pinotage Trousseau 2017 is slegs aanlyn of by die proelokaal beskikbaar en kos R250 per bottel.

Constantia Glen Sauvignon Blanc 2019

Die witwyn met sy mengelmoes van geure is afkomstig van droëlandwingerde wat teen die hange van die Constantiaberg groei. Die Constantia-vallei, bekend vir uitmuntende koel-klimaat wyne, is een van Suid-Afrika se mees gesogte streke vir Sauvignon Blanc. Die wyn is goed gebalanseerd met klassieke aromas eie aan dié druifsoort. Die bekoorlike 2019 Sauvignon Blanc is ‘n uitbeelding van elegansie met talmende sitroengras- en lemmetjiegeure vanaf die eerste proetjie. Die wyn begroet met tropiese-sweempies van pomelo en witperske voor delikate tikkies swartbessie, steranys en vlierblom hul verskyning maak. R195

De Krans Wild Ferment Chardonnay 2018

Die naam “Wild Ferment” sê iets van die wynmaakproses van hierdie wyn waarby daar geen gis gevoeg is nie. Die gevolg hiervan is dat natuurlike gisting stadiger plaasvind wat op sy beurt lei tot ’n meer komplekse wyn. Dié ongehoute Chardonnay bied heerlike aromas van sitrus en botterkaramel in die neus, terwyl die mond geprikkel word met geure van lemmetjie, pomelo en romerige botterkaramel. Die wyn het ‘n romerige en vrugtige karakter en proe heerlik saam met pastadisse en pizza, asook met ferm vis soos tuna en geelstert, of as metgesel vir ’n hoenderbraai. R73.

Luddite It’s a Shiraz 2017

Dié boetiekwyn is afkomstig uit die Botrivier-omgewing en is gemaak deur Alice Verburg, die Luddite-eienaars, Niels en Penny Verburg, se dogter. Die wyn is ligpers van kleur, met skeutjies viooltjie. Op die neus het dit ’n speseryagtige, sterk donkervrug geur en ’n skeutjie soet kaneel. Die smaak is gebalanseerd en proe na sappige rooivrugte en speserye. R200

Middelvlei Freerun Pinotage 2018

Die Middelvlei Pinotage is gemaak van 100% vryloopsap. Dis die sap wat natuurlik afloop uit ’n vrag vars geplukte druiwe. Hierdie sap word dan gegis en gefiltreer om ’n wyn van gehalte met sagter tanniene te skep. Wynmaker, Tinnie Momberg, beskryf hierdie wyn as een met komplekse geure van framboos, moerbei en elegante eikespeserye. Die sagte tanniene word pragtig deur die vrugte gebalanseer en die romerige vanieljegeure talm in die mond. Geniet dit saam met tradisionele braaivleis. R130.

Skyline Late Harvest

Skyline Late Harvest is ’n enkel-kultivar wyn; gemaak van Chenin Blanc druiwe. Die vrugte is later in die seisoen geoes, toe die natuurlike suikers in die vrugte gekonsentreer het. So geen suiker word bygevoeg nie en word die wyn teen 11,2% alkohol gebottel. Die wyn skep ’n fyn balans tussen soet en suur en dus ’n klassieke pasmaat vir ryk lewerpatee of parfait. Dis ook heerlik saam met nageregte. Bedien dit met kaaskoek, crème caramel of gebakte vla, vrugte-nageregte soos appelkoos- of perske-terte, glansvrugte-terte of pavlova. R49,99.

Leer ken die wynmaker

Die kreatiewe en talentvolle, Kelly-Marie Jacobs (30), is onlangs aangestel as Zonnebloem se witwynmaker. Haar band met Stellenbosch loop diep, met haar grootouers wat oorspronklik van Stellenbosch afkomstig is. Dit was egter die tydskrifartikel oor wynmaker, Debbie Thompson, nou die keldermeester by Simonsig, wat aanvanklik haar belangstelling aangewakker het. Kelly-Marie het in Kuilsrivier grootgeword, waar sy steeds woon, en het ’n BSc-graad in Wingerd- en Wynkunde aan die Stellenbosch Universiteit behaal.

Sy het vier jaar lank, vanaf 2013 tot 2016, by die Wes-Kaapse Departement van Landbou gewerk, waar sy onder meer by die Elsenburg Landbou Kollege lesings aangebied het in wynkunde, biochemie en bemarking.Sy het teen die einde van 2016 by Zonnebloem se span aangesluit as assistent-witwynmaker. “Ek word gedryf deur my visie om aan te hou groei, binne Zonnebloem se ryk geskiedenis as een van Suid-Afrika se oudste name in die wynbedryf. Die wyn moet met soveel mense moontlik praat en soveel moontlik mense bereik. Dis een van die min wyne wat sowel ’n beginner aan die wonderlike wêreld van wyn kan bekendstel, as wat dit meer gesoute wyndrinkers en versamelaars bekoor” sê Kelly-Marie.

Sjefstafel

Tryn Restaurant is pas by die Steenberg-landgoed geopen met sjef, Kerry Kilpin, aan die stuur van die kombuis. Vars, klassieke bestanddele gekombineer met Asiese en Midde-Oosterse geure is kenmerkend aan dié sjef se styl. Bespreek by 021 7137178 of stuur ‘n epos aan info@tryn.co.za.

Die Tokara 2019 Multi Varietal Extra Virgin Olive Oil het onlangs ‘n goue toekenning by die 2019 SA Olive Awards ingepalm. Die olyfolie spog met die aroma van groen olywe, wilde roket en botterblaarslaai, afgerond met die smaak van okkerneut en speserye. www.tokara.co.za

Constantia Glen is die ideale plek om ‘n heerlike bord kos, ‘n pragtige uitsig oor die berg en wingerde en ‘n glasie wyn te geniet. Probeer gerus die Heritage Platter met ‘n verskeidenheid kase en gerookte vleis. www.constantiaglen.com.

2019-09-30T17:46:08+00:00