Lééf wys

Hekel en word heel

Deur Nadia de Kock & Hilda Steyn | Foto Di O’Donovan

Daar lê nie net helende krag in die repetisie en ritme van hekel nie, maar ook in die samebindende krag van vriendinne wat ‘n liefde vir jaarn deel.

“Nadat ek leer hekel het, het ek gou besef dat hierdie handwerk oor helende krag beskik. Die repetisie en ritme kenmerkend van die hekel-aksie is ’n middel tot bewustheid (mindfulness). Skrywer Karel Schoeman het die lieflike woord “indagtigheid” gebruik in sy vertaling van Rob Nairn se Tranquil Mind (’n Stil gemoed). In Afrikaans sê ek dus graag dat hekel indagtigheid in die hand werk. Die Mindful-beweging omskryf bewustheid as om ten volle in die oomblik te wees, bewus van wie ons is en wat ons doen, en nie te oorreageer op dinge wat om ons aangaan of daardeur oorweldig te voel nie.

Klink bekend, nie waar nie, hekelaars? Ek het daarvan bewus geword dat talle mense in ’n staat van indagtigheid verkeer terwyl hulle hekel. Die voordele hiervan is ooglopend: Dit werk angs teë, kan depressie help beveg, kroniese pyn help bestuur en kreatiwiteit aanwakker. Baie mense ervaar hekel as terapeuties. Voordele vir geestesgesondheid verbonde aan die maak van gehekelde artikels sluit in: Om jou liefde tasbaar te maak wanneer jy ’n geskenk vir iemand hekel; om jou selfwaarde te bevestig elke keer wanneer jy iets klaarmaak; om jou selfvertroue stukkie vir stukkie terug te kry in die meelewende en goedhartige hekelgemeenskap waar jou artikels geprys word of jy aangemoedig word tydens groot projekte. Hierdie gemeenskaplikheid kan nie oorbeklemtoon word nie. Hekelgroepe kom dwarsoor die wêreld bymekaar en word veilige plekke waar vroue lief en leed deel. Terloops, mans hekel ook.”  – Nadia de Kock

“Trauma diskrimineer nie. Almal moet een of ander tyd deur trauma werk. Mense verskil. Jou situasie is dalk iemand anders se situasie ook. Jou seer is dalk iemand anders se seer ook. En hekel kan jou help om die stukke van jou lewe op te tel en weer aanmekaar te las. Elke keer wat jy opstaan nadat jy geval het, is jy sterker. Elke keer wat jy vergewe as jy seergekry het, is jy sterker. Elke keer wat jy op jou tande kners terwyl jou bene bewe, wys jy eintlik jy is sterker as wat jy gedink het. Maar alles kom uiteindelik tot ’n einde, trauma ook. Daar is ’n oggendstond wat wag ná jou lang nag van trauma. Letsels gaan daar wees, maar selfs daaraan kan ons iets doen. In stede daarvan om in afsku na die emosionele littekens te kyk, sien jouself as ’n erdepot in die hande van ’n Japannese Kintsugi-meester, wat krake met goud vul. Die littekens is nie weg nie, maar jy hoef jou ook nie daarvoor te skaam nie. Nee. Kyk met trots na die goue strepies en weet, jy is heel. Jy is vrou. En ‘n hekelaar. Ons skram nie weg van uitdagings en kies die maklikste pad nie. Nee. Ons leer. Ons oefen. Ons skep meesterstukke met die beste tegnieke vir elke projek. Ons vier lewe! Ons vier oorwinning! Deur te hekel en te skep, tel ons die stukke op en maak ons iets nuuts.” – Hilda Steyn

“My selfvertroue was vernietig. Ek moes van voor af uitvind wie ek is. Hekel het my gered.”

Sewe jaar sonder ’n stem

Jy sien hoe stukkend hy is, hoe sy ma hom verwaarloos het en jy glo jy kan hom help. Maar jy stap nie deur iemand anders se hel sonder om self te brand nie.”

Klara* is ’n blonde skoonheid, met hoë wangbene en ’n vol mond. Op die aksiefoto voor my sit sy uitgelate op ’n trotse, swart hings se rug.

“Ek was die ideale kandidaat vir ’n huwelik met hom. Afwesige, outokratiese pa en perfeksionistiese, woedende ma. ’n Skokkende mate van alledaagse wreedheid in die huis. Ek het verskrik, onsigbaar en eensaam grootgeword. Ek kon net sowel ’n teken om my nek gehang het wat sê: ‘Sal siel verkoop vir liefde.’ “En toe doen ek dit. Behoede jou as jy die dag in ’n sosiopaat se slaggat trap. Hy het presies geweet hoe om my swakhede te gebruik om sy sin te kry. Wanneer ek my wou teësit, het hy my kinders as wapens gebruik. Dan trap ’n ma bitter vinnig in haar spoor. “Sy beste wapen was om my te oortuig dat hy beter word. Hy kon maande aaneen die mees perfekte man ooit wees. Mens word so bly, dink die skip draai uiteindelik! En dan, uit die bloute, die verskriklike skok wanneer die masker afgly, en jy weer in ’n bewende gemors in die kamerhoek bly lê.

“Ek het vir jare moed opgegee en gewag vir die dood. Ek was oortuig my kinders sou beter vaar sonder die waardelose ek. Maar dank die hemel, op ’n dag het ek besef dat ek besig was om in vlak water te verdrink – dat hy ’n swakkeling is, en dat ek sterker is as hy. Ek het begin beplan en het ’n wonderlike sielkundige gevind wat my daaraan herinner het dat ek beter verdien. Sy het my oortuig dat ek self kon besluit oor my lewe, dat ek niemand my siel geskuld het nie. Ek het my ontsnapping beplan; geheime vergaderings met ’n prokureur; geld weggebêre.

“In die tyd saam met hierdie man het ek 70 kilogram opgetel. ’n Deel van my stryd was om fisiek weer mobiel te raak, maar ek sou dit skelm moes doen, omdat my gewig een van sy beheermeganismes was. Sien, niemand anders wil jou hê nie …

“Ek het elke dag uit die huis gesluip om op die strand te gaan stap. Die strand kon alleenlik bereik word deur omtrent ’n honderd steil trappies te klim. Daar was drie bankies met intervalle op pad ondertoe. Aanvanklik kon ek net tot by die eerste bankie kom, dan moes ek rus, en terugkeer.

Dit het weke gevat voordat ek my voete op die sand kon kry, maar o, daai dag … Ek het drie tree gegee, op die sand neergeval en gehuil

soos nog nooit in my lewe nie. Ek het beter geword, en hy was woedend. Ek móés die geheim oopvlek. Ek het my familie vertel wat werklik aangaan en hulle hulp gevra. Skielik was sy mag oor my gebreek en kon ek my lewe terugneem.

“My lyf het goed gereageer op die vars lug, seewater en die stap. My energie het teruggekeer. Op ’n dag lees ek van ’n middeljarige vrou wat haar kindertydse droom om perd te ry, vervul het. Dit het my baie opgewonde gemaak. Die droom van Vryheid op ’n perd se rug het nag en dag in my gebrand. Ek het begin soek na ’n afrigter wat verby my middeljarige, oorgewig lyf kon kyk. En ’n sterk perd. “’n Bloedjong afrigter by ’n perdrykamp vir beginners was bereid om my ’n kans te gee. Sy het ’n perd gekry wat my kon dra, een wat geduldig sou wees met my verskriklike vrees. Want ek was báng. “Ek was die enigste ou tannie tussen ’n groep tweenmeisietjies. Hulle het gegiggel en hul oë gerol. Ek het belaglik gelyk, veral my pogings om my potsierlike lyf bo-op die perd te kry. Trane van vernedering het agter my sonbril gebrand, maar ek kon nie opgee nie. Nie weer nie.

“Drie jaar se bloedsweet later het ek op dieselfde strand waar ek begin stap het, perdgery. Ek was vry. “In die tyd wat ek moes baklei vir my lewe, het ek aan sieldodende angs gely. My selfvertroue was vernietig. Ek moes van voor af uitvind wie ek is. Hekel het my gered. My gedagtes wou nie ophou maal nie. Die verligting wat die ritmiese, herhalende hekelbewegings gebring het, was groot. Ek het oordadige musse en serpe in helder reënboogwol gehekel, ’n trui vir die hond, sakke, nog serpe. My vriende en familie het later nie meer geweet wát om met al die geskenke te maak nie, maar wat aanhou hekel het, was ek.

“Een van die grootste vreugdes van hekel is om iemand anders te leer hoe. Dit maak ’n mens gelukkig as jy sien hoe dit iemand help wat ook met depressie en angs sukkel. Dis ’n groot geskenk; ’n kreatiewe inspirasie; ’n gevoel van oorwinning as mens ’n moeilike nuwe steek regkry; die genot van iets moois wat jy self gemaak het; Pinterest en Ravelry-patrone …

“Die pad na herstel is lank, dalk neem dit die res van my lewe. Ek woon nou in ’n vreemde land – een waar dit moeilik is om tuis te raak. En hekel red my sowaar weer. Ek het by ’n internasionale hekelgroepie aangesluit wat twee keer ’n maand by ’n koffiewinkel kuier terwyl ons hekel. Ons is almal volslae wolverslaafdes van regoor die wêreld wat mekaar ondersteun en opwinding oor idees deel. Dit is salf vir ’n seer siel.”

“Hekel en naaldwerk het my terapie geword.”

’n Tas vol troos

My pa was ’n alkoholis, maar gelukkig nie gewelddadig nie. Dit het my kinderlewe wel minder gelukkig gemaak en ek was ’n skaam kind, met bitter min maats.” Koba* se enigste ware maats was haar nefies, haar boeties en hulle maats. Seuns was haar beste speelmaats, want sy het saam fiets gery, boom geklim en kattekwaad aangevang. “Ek was ’n rabbedoe, maar ook ’n ywerige naaldwerkster. Naaldwerk loop sterk in ons familie; my ma en albei oumas het klere gemaak, geborduur, gehekel en gebrei. “Met my pragtige swart Singernaaimasjien wat nog met ’n slinger gewerk het, het ek my eerste kledingstuk op skool gemaak: ’n wit romp met geel kolle. My Barbiepoppe het gehekelde oumablokkie-beddegoed gekry. Ook geel. My ouma se hekellappies was die matte vir myBarbies se speelhuise, of ek het dit omskep in aand- en trourokke. “Ek het die einste geel kolleromp aangehad op ’n familiefoto waar ons almal geel gedra het. Tot vandag toe, haat ek geel met ’n passie. Daai foto was ’n enorme leuen. Almal glimlag, maar ons oë is dood. “My pa se alkoholmisbruik het te veel geword vir my ma en sy het hom verlaat, ons kinders saam met haar. Haar genesing het begin en sy het werklik begin leef. Ons kon maats huis toe bring en die huis het ’n vrolike plek geword waarin baie gelag is. “’n Klompie jare gelede het die maatskappy waarvoor ek gewerk het bankrot gespeel. Ons is sommige dae huis toe gestuur omdat ons nie betaal kon word nie. Op daardiedae het ek ’n kombers gehekel, in koningsblou, lemmetjiegroen en donkerpers. Dit was wel met grillerige akriel maar dit het my trooskombers geword in die strawwe Noord- Kaapse winters. “Hekel en naaldwerk het my terapie geword. Die materiaalwinkel wat ek bestuur het, se kliënte het gereeld iemand gesoek wat iets vir hulle kon maak en ek kon my inkomste so aanvul. Dit was salf vir my seer siel en net die regte medisyne vir my minderwaardigheidskompleks. “Toe kry my man ’n aanbod om te emigreer. Voor ons vertrek het ek vir Hilda ontmoet en baie ure by haar hekel-wol-en-boerekos-hemel aan die voete van hekelmeesters deurgebring.

Daar het ek ontwerpers ontmoet en hartsvriendinne gemaak. Ek het ook help toets aan ’n kombers wat in ’n droom deur God aan die ontwerper openbaar is. Daardie kombers en ál die wol om dit te voltooi, is in ’n tas saam met my Australië toe.

“Ons bly in ’n verskriklike warm, tropiese stad. Ons het nooit winter nie. Ek moes my kombers onder die lugverkoeler klaarmaak. Ek het sedertdien hope ander gemaak en nog talle vir ontwerpers getoets.

“Gedurende die eerste jaar hier het ek begin hekelklasse aanbied en my passie na behore uitgeleef. Wat ’n ongelooflike voorreg. Dit is ’n uitdaging om artikels te ontwerp wat in hierdie hitte en humiditeit kan werk. Van die patrone wat ek ontwerp het, is gepubliseer. Die beste is dat my studente my vriende geword het. “Ek het vir jare met depressie en angs gesukkel. My dokter se opdrag was om seker te maak ek doen elke dag iets kreatiefs . . . en dit werk.”

*Skuilnaam

Uittreksel uit Hekel en word heel Hoe hekel my lewe gered het deur Nadia de Kock & Hilda Steyn (Lapa 2019) met toestemming van die uitgewer gepubliseer.

2019-09-30T15:58:14+00:00