Wees heel

Breek vry van jou verlede

Deur H. Norman Wright | Foto Hanneri de Wet

As gelowiges word ons geroep om in Christus te groei deur geloofstreë te gee, maar soms dien ons verlede as ’n anker wat ons terughou.

Is ons ons verlede?

Die verlede – ons lewe word daarop gebou. ’n Beter woord daarvoor is dalk “fondament”. Wie elkeen van ons vandag is, is gebaseer op ons ervarings, asook ons bewuste en nie-so-bewuste herinneringe. Party mense het al hulle verlede gebruik as lanseerplatforms na waar hulle hulle tans in die lewe bevind. Hulle het hulle ervarings en herinneringe op ’n positiewe manier ingespan.

God se Woord sê: “Toe ek nog klein was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind. Maar noudat ek volwasse is, het ek die dinge van ’n kind ontgroei” (1 Korintiërs 13:11).

Dit is nie nodig om elke ervaring in ons lewe uit die sloot te grawe om vorentoe te beweeg nie. Maar dit is belangrik om te verstaan wat die verband is tussen wie ons vandag is en die invloed van ons verlede, aangesien hulle baie nou verweef is.

As ’n ervare berader het ek al baie mense gesien wat dele van hulleself agtergelaat het omdat daardie dele hulle doel uitgedien het. Terselfdertyd het ander dele van hulle verlede steeds hulle lewe beïnvloed, bepaal of beheer – en nie altyd op ’n positiewe manier nie. Baie van die mense wat my kom sien, het nie die nodige vaardighede om te verander nie of is nie bewus tot watter mate hulle verlede hulle van ’n dinamiese hede en toekoms beroof nie.

Wanneer ons nie uit die verlede uit beweeg nie, kan ons lewe stagneer of vasval, wat beteken dat ons lewe asof die verlede ons hede en toekoms is. Dit is nie hoe dit veronderstel is om emosioneel of geestelik te wees nie. As die verlede voorskryf hoe vandag of môre verloop, kan dit dalk deur ons eie toedoen wees of dalk klou ons vas aan mense en belangrike lewenservarings.

Die verlede is nooit bedoel om ons hede en toekoms te beperk nie, en tog is dit presies wat al met baie mense gebeur het. Om negatiewe ankers los te maak en vorentoe te seil, moet ons drie faktore in ag neem – ons verlede, ons hede en ons toekoms – en hoe hulle met mekaar verband hou.

As gelowiges word ons geroep om in Christus te groei deur geloofstreë te gee, maar soms dien ons verlede as ’n anker wat ons terughou. Ankers het hulle plek en kan baie nuttig wees, maar dan moet dit die regte soort anker wees.

Daar is verskillende reaksies op die verlede. Party mense glo dit is van min belang. Dit het geen invloed of mag oor die huidige lewe nie. Die probleme van die verlede het niks te make met ons keuses van vandag nie. Wat in die verlede gebeur het, het geen impak op vandag of môre nie. Hulle gee dit bitter min plek, indien enige, in hulle lewe. Probleme bly in die verlede en het geen invloed op vandag nie.

Ander glo weer dat die verlede alles is, en dat ons elke ervaring onder ’n mikroskoop moet ondersoek om elke deeltjie daarvan te verstaan. Enige mislukking of probleem vandag kan aan die verlede toegeskryf word. Die wonde uit ons verlede het nog nie heeltemal genees nie, en daarom beïnvloed hulle ons hede en toekoms. Ons word gedryf deur ons verlede en ons behoefte om dit te konfronteer. Vandag se swak keuses is nie ons skuld nie.

Die verlede is nie die verlede totdat dit in Christus versoen is nie.

Twee moontlikhede

Dink ’n bietjie in meer detail aan hierdie twee moontlikhede. Party mense sal nooit oor die pyn uit hulle verlede kom nie. Dit sal vernietiging saai in hulle persoonlike en professionele lewe omdat hulle aanhoudend die pyn sal vervloek, en dit sal hulle aanhoudend terugvervloek. Hulle sal kies om te glo dat hulle onlosmaaklik verbind is aan hulle verlede, sonder om te besef dat hulle inderwaarheid ’n keuse maak om daaraan vas te hou. Hulle sal op een van twee maniere daaraan vashou. Hulle sal of daaraan toegee deur hulleself te haat, wat weer sal veroorsaak dat hulle permanent ellende en mislukking sal ervaar, of hulle sal ’n woedende en desperate oorlog voer in ’n poging om die vernietiging daarvan onder ontkenning te begrawe. Hoe dit ook al sy, hulle sal nooit die pyn uit die verlede prysgee nie. Hulle sal vasklou aan die gedagte dat hulle nie veronderstel was om deur daardie pyn te gaan nie en dat die lewe nie regverdig is nie. En hulle sal gevolglik die splinternuwe einde wat eintlik hulle s’n kan wees, mis.

Dan is daar ’n groep mense wat ’n ander koers in die lewe sal inslaan. Hulle sal besef dat hulle verlede nie eintlik hulle verlede is nie. Hulle sal tot die besef kom dat die pyn uit hulle verlede steeds ’n invloed op hulle het en dan kies om bo dit uit te styg … Hulle sal hulle pyn oorgee. In plaas daarvan om dit te ignoreer of te ontken, sal hulle kies om daarvan ontslae te raak, en deur ’n ongelooflike wonderwerk, sal God inderwaarheid die pyn uit hulle verlede gebruik om ander te verlos, en daardeur vir hulle die geleentheid gee om die doel agter die pyn te ontdek.

Hierdie keuse is nie maklik nie. Jy moet kies om iets te doen wat jy nie sal dink jy kan doen nie. Dit vereis vasberadenheid wat slegs baie diep in jou siel gevind kan word. Maar hierdie keuse doen niks minder nie as om jou eindbestemming te bepaal. Dit is die keuse om afstand te doen van jou begeerte dat die lewe volgens jou plan moet verloop. Dit is die keuse om hoop in jou seerkry te vind. Dit is die keuse wat oorgawe genoem word. Daar lê krag daarin om te laat gaan. Daar lê radikale mag in oorgawe.

Leer by Paulus

Ek het al met mense gepraat wat Paulus se stelling in Filippense 3:13-14 aanhaal: “Ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.” Hulle fokus op die gedeelte “ek vergeet dit wat agter my lê”, en glo dit beteken dat ons juis dit moet doen. Ons moet letterlik daarvan vergeet. Ons moenie tyd daarop vermors nie. Ons moet aanbeweeg. Ons hoef nie enige aandag daaraan te skenk nie …

Al probleem is dat dit nie is wat Paulus bedoel het nie. Paulus het doodeenvoudig gesê dat nie een van sy vorige goeie dade gebruik kon word as redes waarom hy in God se huisgesin aanvaar moes word op sy eie meriete nie. Verlossing is gebaseer op God se genade. Die dade uit sy verlede was nie ’n grondslag vir sy verlossing nie. Dit is daardie deel van die verlede wat hy gekies het om van te vergeet. Die verlede is nie die verlede totdat dit in Christus versoen is nie. Ons moet rekening hou met die verlede as ons die hede wil konfronteer.

Die feit van die saak is dit: As ons van ’n gister-persoon na ’n môre-persoon wil beweeg, moet ons erken dat ons seergekry het, dit konfronteer, dit beskryf en ons stories vertel. Dit beteken ook dat ons ons seerkry moet verwerk.

Daar is geen manier om van die verlede weg te kom nie. Dit maak nie saak hoe hard ons probeer nie, ons kan dit nie uitwis nie. Ons doel is nie om mense te word wat geen verlede het nie – dit is onmoontlik en sinneloos. Die doel is om ’n nuwe manier te ontdek waarop ons met die verlede kan werk sodat dit nie aanhou om ’n negatiewe invloed op vandag en die toekoms uit te oefen nie.

Wanneer ons ons pyn vir God gee, sal Hy ons vrymaak.

Onthou, daar is geen volmaakte oplossing nie. Ons kan dalk wens dat ons lewe uiteindelik volgens ons drome verloop en dat daar volkome genesing en positiewe verandering sal wees. Maar ons kan nie ander mense of die faktore wat in ons omgewing bestaan, verander nie. Ons moet ’n nuwe normaal vir onsself uitkerf. Ons moet daarop fokus om interne veranderings te maak. Soek na dit wat moontlik en realisties is, eerder as die onbereikbare ideaal.

Uittreksel uit Breek vry van jou verlede deur H. Norman Wright (CUM 2019) met toestemming van die uitgewer gepubliseer.

2019-09-30T16:37:31+00:00