Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

100 dae van dankbaarheid

Deur Francine Prins (Lux Verbi)

‘n Lewe van oorvloed is vir ons elkeen beskore. Maar wanneer dit sleg gaan, is dit soms moeilik om te glo. Wat as jy kan verander wat jy glo? Sodat die bewyse meer sigbaar in jou lewe raak? Dis wat dankbaarheid doen. Dit laat ons soek na dinge wat ons weet maar nie glo nie, want ons harte is met te veel vrees en angs gevul. Dankbaarheid verander ons perspektief op die lewe sodat ons vanuit Liefde na alles kan kyk. Francine Prins nooi die leser op ‘n 100-dae reis van dankbaarheid – en sien dat dit heel eenvoudig is om in dankbaarheid te leef en dat die beloning groot is. R195.

Leef in sy lig

Deur Nina Smit (Struik Christian Media)

Nina Smit se jongste grootdruk-dagstukkieboek bevat 366 oordenkings vir elke seisoen van ’n vrou se lewe. Haar kenmerkende bemoedigende styl vol praktiese raad spoor die leser aan om bewus te wees van God se teenwoordigheid en om elke dag in sy lig te lewe. Die temas wat sy aanraak, sluit in: God se beloftes, seëninge, die Gees se werking in jou lewe, die hemel, die voordele van geloof, vrees en swaarkry, die lewensseisoene, vergifnis, Jesus se gelykenisse, hoe om jou geloof met die wêreld te deel, en die koms van die Lig. Leef in sy lig is ’n wonderlike hulpbron om daagliks in God se liefde te leer leef. Dis die ideale geskenk vir ’n vriendin, ma, skoonma, suster of ouma, en kan saam met die Nina Smit Dagbeplanner vir die vrou 2020 gebruik word. R270.

Lost Roses

Deur Martha Hall Kelly (Penguin Random House)

Dis 1914 en die wêreld is op die randjie van ‘n oorlog. Maar in New York steur mense hulle nie veel daaraan nie. Eliza Ferriday is opgewonde om na St. Petersburg saam met Sofya Streshnayva, ‘n niggie van die Romanovs, te reis. Dié twee het mekaar twee somers gelede in Parys ontmoet en het sedertdien boesemvriendinne geword. Eliza vertrek op die reis van ‘n leeftyd, na Sofia se tuisland, om die wonder van Rusland te beleef. Maar as Oostenryk oorlog teen Serbië en Rusland verklaar, moet Eliza noodgedwonge na Amerika ontsnap, terwyl Sofia en haar familie na die plattteland vlug. ‘n Kragtige verhaal oor vriendskap en die onbreekbare band tussen vroue. R275.

Zephany

Deur Joanne Jowell (Tafelberg)

Die ontvoering van baba Zeohany Nurse uit die kot langs haar ma se hospitaalbed het die hele Suid-Afrika aangegryp. Haar desperate ouers het herhaaldelik gepleit dat sy veilig terugbesorg word, maar daar was geen teken van die baba nie.Vir 17 jaar lank, op haar verjaarsdag, het die Nurse-gesin kerse aangesteek en gehoop en gebid. ‘n Klipgooi van die Nurse-gesin af het die 17-jarige Miché Solomon pas met matriek begin. Sy het ‘n kêrel gehad en toegwyde ouers. Sy het nie die vaagste benul gehad dat ‘n nuwe meisie in die skool, wat ongelooflik baie soos sy lyk, en ‘n DNS-toets haar wêreld tot in sy fondamente sou skud nie. Miché is nou nou 22. Met verbysterende volwassenheid, eerlikheid en deernis vertel sy hier vir die eerste keer háár storie. R260.

My vegetarian braai

Deur Adele Maartens (Struik Lifestyle)

Met hierdie boek verbreed Adele Maartens die koshorisonne van elke braaier, veral diegene wat daarvan hou om gesinsetes self voor te berei. Die neiging om plantgebasseerde kosse te eet, word al hoe groter. En kanse is goed dat jy ook een van die dae ‘n vegetariër of veganis sal moet onthaal. Hierdie kleurryke pragboek is propvol nuwe idees en heerlike resepte wat by elke gas om jou tafel sal aanklank vind. Die resepte is modern, kleurvol en héérlik! R325.

Oomblikke van stilte

Deur Lizette Murray (CUM)

In elke Christen se hart leef die versugting: “Here, help my om u stem te hoor! Leer my hoe om by U tot rus te kom.” Hierdie nuwe boek, uit die pen van die gewilde skrywer, Lizette Murray, lei vroue om fyn te luister en te hóór – en in gehoorsaamheid op te staan en te dóén. Die 365 sielsverrykende oordenkings volg die spoor van Bybelfigure wat God heelhartig gevolg het, maar ook die twyfelaars en hardkoppiges. Vroue word met hulle eie geloofspad gekonfronteer: Met die dinge wat hulle van ’n gehoorsaamheidslewe weerhou; met verlies wat hulle stom en vertwyfeld laat, maar ook die verwondering wanneer hulle besef dat Christus Immanuel is – die God wat tussen ons leef. In dié boekontdek vroue dat God se stem nooit stil word nie. Hy verlang dat gelowiges sal antwoord: “Praat, Here. Hier is ek. Ek luister.” R199.

Reis lig deur die lewe

Deur Dalene Reyburn (CUM)

Die 366 oordenkings in hierdie boek sal lesers inspireer om met oorvloedige vreugde te leef. Deur haar bemoedigende oordenkings gebou om die tema van ‘reis’, lei topverkoper-outeur Dalene Reyburn vroue om te besef dat ons Vader elke tree van ons lewensreis by ons is. Sy liefde, teenwoordigheid en sorg laat ons toe om ligvoets te reis. Hy sien die einde van die reis reeds aan die begin en niks vang Hom onkant nie. Hy het ons reisplan vooraf uitgewerk, en wanneer ons saam met Hom reis, is die reis vervullend, opwindend en vol vreugde. Reis lig deur die lewesal vroue in staat stel om hulle skoene uit te skop en ligvoets die lewensreis saam met God aan te pak. R199.

Noorman

Deur SD Fourie (Penguin Random House)

Dit was die meisiekind, Louisa, wat sy lewe gered het toe hy ná daardie verskriklike deurmekaarnag in die kloof kom skuiling soek. Hier, by die waterval, doop hy hom Noorman, alhoewel hy probeer om sy verlede as skeepskaptein en soldaat tydens die Eerste Wêreldoorlog te vergeet. Louise en die mense van die omgewing raak onlosmaaklik deel van sy lewe. Maar wie sou ooit die stortvoloed van verandering ná die verkiesing van ’48 vir die mense van die plase om die waterval voorspel? R250.

2019-08-31T17:08:24+00:00