Boekuittreksel

Papierblomme

Deur Helena Hugo

Soos papierblomme in die wind, so het haar lewe verwaai. Janine was klein toe haar ouers dood is en sy die deur tussen haar en Jesus toegemaak het. Net sy het dit geweet. Sy wou groot wees en wegkom van die klein dorpie waar almal haar ken. Haar kans kom toe Greg Walker die Engelse klas kom oorneem. Met drome in haar oë is London toe waar sy groter hartseer leer ken, maar ook die grootste ontdekking van haar lewe maak.

 

Uittreksel

“Die misverstand is toe groter as wat sy in haar aakligste nagmerrie kon voorstel. Greg is onmoontlik stug, miskien selfs senuweeagtig toe hy die volgende oggend laat opdaag.

Janine waag dit nie om te vra wat met hom verkeerd is nie.

Hy bekyk die goed wat sy netjies ingepak het. “Watse bokse is dit dié?”

“Die tasse was vol.”

“Alles klere?”

“Ja, Greg, meesal joune.”

Oor die Engelse teestel wat sy tussen haar truie ingepak het, swyg sy liewers. Hy laai die kattebak van die kar vol tasse en belowe om terug te kom vir die res. Dis somersgoed wat sy nie dadelik nodig het nie, dus is sy houtgerus.

Jenny is ongelukkig, sy wil weet of sy skool toe gaan.

“Môre,” sê Greg. “Pappa gaan jou eers jou nuwe kamer wys.”

“By die see?” vra sy ewe onskuldig

“Nee, tensy julle ma dit in haar kop kry.”

Janine vra hom nie wat hy bedoel nie, sy sit stil by die kar se venster en uitkyk. ’n Stadsvossie hardloop oor die pad en Greg swets toe hy moet uitswaai.

Dis koud buite, die akkerbome is net geraamtes. Hier en daar hang Kersversierings aan voordeure en hekke. Mense op die sypaadjie trek hul nekke in hul jaskrae in en blaas wasemwolke uit. Dit herinner Janine aan die dag toe hulle by die huis in Croxted Road aangekom het. Dit was net so koud en vaal, die lug klam van lastige ysreën. Sy was net so moeg en naar, bang ook. Maar dit het toe goed uitgedraai.

In haar geestesoog sien sy die Tudorstyl-huis wat sy uitgekies het.

Groot is haar verbasing toe Greg by ’n glas en staal-monstrositeit indraai. “Is dit die regte plek?”

“Dis ons huis.”

Staalhekke klap agter hulle toe. “Ek het ’n Tudorstyl … Ek het iets anders verwag.”

“Wel, jy het nie belanggestel nie, toe kies ek.”

Waar kom hy daaraan? Sy het saamgegaan, sy het haar mening gegee, sy wou net nie trek nie …

Die oprit is kort en breed. Die tuin bestaan uit bevrore grasperke en ’n swembad wat lyk of daar ’n yslaag op is. Of miskien is dit die bedekking; swembaddens moet mos beveilig word, veral waar daar kinders is.

Die garagedeure onder die boonste verdieping is toe. Greg laat die kar luier, druk die afstandbeheerder en die deure gaan op. Hy ry stadig na binne. Dis ’n dubbelgarage. In die ander helfte staan ’n rooi sportmotor.

“Wie se kar is dit daai?” vra sy versigtig. “Ook joune?”

“Ek het die huis gekoop en hierdie kar, hoe sal ek nog ’n MG kan bekostig?”

Maar haar vraag beantwoord hy nie. Hy tel Jenny uit haar stoeltjie en stap vooruit, wag nie vir Janine en Riekie nie. Die deur waar hy ingaan, klap voor haar gesig toe.

Sy haal diep asem, bid in haar gedagtes. Here, help my om dankbaar te wees vir my voorregte – selfs al is dit nie presies wat ek verwag het nie.

Hulle moet trap klim om by die volgende deur te kom. Daar staan Greg ongeduldig en wag, Jenny op sy arm. Janine gee een groot tree en beland in ’n saal van ’n vertrek. Die mure is liggrys, die skilderye, donkergrys met strepe en kolle soos die Tate se soort goed. Deur die glasdeure aan haar regterkant sien sy maer Kersboompies, afgewissel met sementbeelde, lyk soos mense met mantels om, koppe omlaag.

“Lolita! We are here!” roep Greg.

Janine verwag ’n Spaanse huishoudster van die kombuis se kant, maar hier trippel ’n wulpse blondine om die hoek, arms vol gordynstof. “Darling, this is what I wanted to show you last night. Isn’t it to die for?” Sy stol in haar spore. “Oh, the wife.”

Janine wil groet, maar Lolita – seker die binneversierder – trek haar mond styf en kyk weg.

Greg sit Jenny op die vloer neer. “This is Jenny.”

Die verskynsel trippel nader, steek ’n hand met lang naels na Jenny uit. “Hi, sweety.”

Jenny se oë rek, haar mond gaan oop en sy trek los en skree.

“Ooh, Daddy’s doll is not happy today.”

“Don’t worry, she’ll come round.” Hy tel die skreeuende Jenny op. “Komaan, jy’s mos Pappa se beste dogtertjie.”

Janine is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Hier is iets aan die gang waarvan sy al in boeke gelees het. Dis veel erger as ’n storie! Dit gebeur in die regte lewe en dit gebeur met háár. ’n Vlaag van mislikheid laat haar swart kolletjies sien, maar sy bly op haar voete, Riekie se lyfie in haar arms. Dit eggo in haar kop. “Dan moet jy voor die spieël gaan staan en vir jouself sê: ‘Janine, jy is nie ’n vloerlap is nie, jy is ’n waardige Christenvrou en moeder, ’n mens met verstand en vaardighede. Met God se hulp kan jy jou lot verander. Staan sterk vir jou regte as sy vrou en moeder van sy kinders’.”

“Verskoon my, maar ek het die gevoel dat ek en Riekie nie welkom is nie. Mag ek weet wat julle twee hier opgekook het?” Haar stem klink merkwaardig helder.

“Ons deel die huis. Jy en Riekie kry die woonstel langs die kombuis. Die res is vir my en Lolita en Jenny. Wil jy jou kamertjie sien, kleinste meisiekind?” Jenny ruk los, hardloop na Janine en kom klou aan haar.

Janine is so naar, sy kan iets oorkom, maar sy sluk, kyk reguit na die Lolita-vroumens. “Kan ek water kry? Asseblief.”

“Sorry?”

“She wants water.”

Janine steier. Riekie wat aan haar nek hang, voel so swaar soos ’n klip. Sy sleep Jenny saam na die rooi bank teen die grys muur. Hulle gaan sit, Riekie op haar skoot, Jenny teen haar aangeleun.

Greg vat die glas met water by Lolita. Hy kom staan voor hulle.

Janine drink twee slukkies en gee die glas terug. “Ek is swanger. Ons verwag ons derde kindjie einde Junie volgende jaar.”

Greg staar na haar, ongeloof op sy gesig, albei hande om die glas geklem. Toe lag hy. “Daai een het ek voorheen al gehoor! Dié keer vang jy my nie weer nie.”

“Goed, en jy vang mý ook nie. Ek stel nie belang in jou kombuiswoonstel nie. Vat my huis toe.”

“Ant sal jou uitgooi.”

“Jy ken hom sleg. Ons kan die res van hierdie gesprek deur middel van my prokureur voer. Dit geld ook my erfporsie wat jy gesteel het.”

“Jy sal nie hond haaraf maak nie.”

“Ek het vriende. Ek ken mense by die kerk wat jy nie ken nie.”

Een oomblik lyk hy verskrik, maar hy herstel gou, mos gewoond daaraan om haar te intimideer. “Jip, iemand sal vir jou ’n kamer aanbied tot jy op jou voete is. Jy kan werk soek, kelnerin sal jou goed pas, veral as jy swanger is, dan kry die ooms jou jammer. Jy kan Riekie by die kerk se crèche los. Ons sal Jenny inneem, nè, Jenny-pop?”

Janine word yskoud. “Vat my huis toe, vir my en my kinders.”

Hy roer nie. “Asof ek lus het om nou weer te ry.”

Toe staan sy op, skud Riekie op haar heup reg, vat Jenny se handjie vas. “Jy het die sleutels in die kar gelos,” sê sy, “as jy nie ry nie, ry ek.”

***

Dis vyfuur in die oggend, seker lankal dag aan die ander kant van die wêreld. Janine hou die monitor met die kaart dop.

Die vliegtuig daal teen die westekant van Afrika, nog ’n uur of wat en hulle land op die Kaapse lughawe. Van die ander reisigers is ook al wakker, ligte gaan aan, lugwaardinne deel warm waslappies uit.

’n Tou vorm by die badkamer.

Die dogtertjies slaap nog rustig in hul babastoeltjies. Sy wens sy kan gou ’n draai in die badkamer maak, maar dis haar nie beskore nie. Riekie is aan die wakker word, ogies wawyd oop. Sy kyk na haar mamma met soveel vraagtekens op haar gesiggie, of is dit regte vrae?

Hoe weet ’n grootmens tog, selfs ’n ma, wat in ’n jaaroudkind se kop aangaan? Kinders is mense, hulle sê nie altyd wat hulle dink nie, hulle is klein muisies met groot ore, hulle luister na grootmensstories en maak hul eie afleidings, stry selde, onderwerp hulle aan grootmensreëls. Kinders moet gesien word, nie gehoor word nie en die oorgrote meerderheid wil so graag almal tevrede stel: ouers, onderwysers, en vir liewe Jesus.”

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van Papierblomme deur Helena Hugo met komplimente van Lux Verbi wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag: Wie is die skrywer van Papierblomme? Sluitingsdatum: 30 September 2019.
2019-08-31T16:54:06+00:00