Op die wynrak

Deur Johan & Christine Ferreira

Die oes van die wingerd is ryk en oorvloedig…

Ses om te proe

Circle of Life White 2016

“Die Circle of Life White 2016 is fassinerend,” skryf Nadia Barnard-Langenegger, Waterkloofse wynmaker. “Sy Sauvignon Blanc-karakter is prominent op die neus, met pragtige aromas van lemmetjie en appelliefie. Op die tong toon die wyn ’n lieflike vars suur en deeglike integrasie. Die Chenin Blanc word verklap in die digte, mineraal-hart en romerige middel-smaak – die ideale agtergrond vir wonderlike kompleksiteit en ’n talmende nasmaak.” R160.

Angel’s Tears Fruity Red 2018

Hierdie vrugtige rooiwyn is ‘n versnit van hoofsaaklik Merlot en Cabernet Sauvignon met ‘n tikkie Petit Verdot en Shiraz en is afkomstig vanaf die Grande Provence-wingerd in Franschhoek.  R69.

Krone Kaaimansgat Blanc de Blanc 2016

Die vonkelwyn is gemaak volgens die Methode Cape Classique van druiwe afkomstig uit die oorspronklike Kaaimansgat Chardonnay-wingerd wat 700 meter bo seevlak geleë is. Aromas van mandarynskil en lemon verbena verleen ‘n elegante karakter aan dié vonkel. Bedien saam met seekos, oesters, varklende gerooster met appels of ‘n kaassoufflé. Ongeveer R500.

Stellenbosch Hills Kastanjeberg 2017

’n Reeks beperkte hoeveelheid wyne, is pas vrygestel. Die portefeulje wat Sense of Place gedoop is, neem trots die plek in as Stellenbosch Hills se vlagskip-versameling en die eerste wyne nou beskikbaar. Die Kastanjeberg 2017 is ryk en kompleks en vertoon aangename aromas van steenvrug, heuning, gedroogde appelkose, viooltjies en vanielje eikehout-speserye. Hierdie witwyn ontplof met peer- en perskegeure, tesame met skeutjies vanielje en amandels. R285

Rhino Run Chenin Blanc 2018

Van Loveren Family Cellar sit sy bydrae tot natuurbewaring in Suid-Afrika voort met die bekendstelling van die jongste oesjaar van sy Rhino Run-wyne. Die Rhino Run Chenin Blanc 2018 bring hulde aan die wit renoster. Dit bied geure van perske en blomme wat in die mond talm en is die ideale maat vir gekruide mossels, geroosterde hoender of vark, seekos en selfs soesji. R71.

Voga Rosa

Die rosé afkomstig uit die Delle Venezie-streek in Italië spog met ‘n ongewone silindervormige bottel en breë skroefprop en is vars en vrugtig op die tong. R169.

Leer ken die landgoed

Familiewaardes en ’n doelgerigte visie om tydlose, wêreldklas wyne te produseer is die grondslag van Tokara, die Stellenbosse wynlandgoed wat vanjaar sy 20ste oesjaar vier. Alles het in 1994 begin toe G.T. en Anne-Marie Ferreira ’n plaas teen die hange van die Simonsberg gekoop het om ’n tuiste vir hul jong gesin tussen die pragtige ou eikebome te vestig. Die aantrekkingskrag van die omgewing en die insig van gesiene bure, het die droom wat eindelik Tokara sou word, laat wortel skiet. Vandag, 25 jaar later, is Tokara ’n toeristebestemming wat aan besoekers elegante, veel bekroonde wyne bied. Verdere trekpleisters sluit twee pragtige restaurante, ’n kunsgalery, ’n beeldhoutuin, en van die beste Suid-Afrikaanse ekstra suiwer olyfolie in. www.tokara.com

Lente-vonkel

Nicolas Feuillatte Champagne het pas die Nicolas Feuillatte Réserve Exclusive Brut Rosé bekendgestel en is geïnspireer deur die beroemde Sakura (kersiebloeisel) seisoen in Japan. Dié sjampanje in ‘n spesiale lente-verpakking kos R780.

Sjefstafel

Gate @ Quinrock het vanjaar met ‘n rits pryse weggestap by die World Luxury Restaurant Awards. Die restaurant, onder leiding van sjef Nicole Loubser en haar span, is onder meer as die 2019 Global Restaurant of the Year Overall Winner verklaar, sowel as die 2019 Haute Cuisine Global Winner. In die kombuis word daar op plaaslike kos en groente, kruie en blomme uit die plaas se groentetuin gefokus. Die landgoed is in die Knorrhoek-vallei, Stellenbosch geleë. www.quoinrock.co.za

Stadsjapie

Vir diegene wat van jenewer hou, is ‘n jenewerproe-ervaring by The Ginologist se distilleerdery by 1 Fox Precinct in die Johannesburg-middestad, aan te bevele. Teen R150 kry gaste die geleentheid om die verskeie jenewers (blomme, spesery en sitrus) uit dié distilleerdery se stal te proe, asook die keuse van ‘n drankie na afloop van die brouery-toer. Vir meer inligting besoek www. ginologist.co.za.

2019-08-31T17:22:16+00:00