‘Ek het na my tuin toe gekom, my beminde bruid.’ Hooglied 5:1

Die eerste tekens van lente is in die lug! Daar is spatsels pienk regdeur die tuin en heldergroen grassies spriet helder waar dit ’n week gelede net vaal en bruin was. Soggens ruik ek die belofte van die somerreën wat kom in die klammigheid van die dou wat oor die tuin se stowwerigheid lê. Saam met die lente kom ook die belofte van nuwe lewe. Onwillekeurig, asof dit nooit winter was nie, gryp ons die hoop aan. Vergeet ons van die koue en die mistroostigheid en jubel ons harte saam met die natuur oor die nuwe seisoen.

So saam met die nuwe seisoen beland daar die afgelope week toevallig verskeie getuienisse in my e-posbus van vroue wat vertel hoe die Here hulle nuutgemaak het, die seer vervang het met aanvaarding en uiteindelik vreugde. Stories van oorwinning en hoop, ten spyte van die pyn.

Tog is daar soveel wat vasgevang voel in ’n ewige winter …

“Geniet die lewensseisoen waarin jy nóú uitbundig is. Die Here wil jou in die lente en somer, maar ook in die herfs en winter ontmoet en seën. Nie net die natuur het ’n bepaalde ritme nie, maar ook jou lewe. Omhels die ritme! God wag in die dorheid, die nuwe begin, die vrugbaarheid en in die veranderende kleure van die lewe” herinner skrywer en leraar, Johan Pienaar, ons.

In die boek Hooglied word die liefde tussen Christus en sy beminde bruid met pragtige beelde van ’n tuin en wingerde wat oorloop met vrugte, blomme, kruie en fonteine vol water geskets. Dit vertel van oordaad en koestering en die hoop wat ons elkeen as Sy geliefdes beskore is. Ons lees van tortelduiwe en granate, van appels en groen blare. Ook van die aandwind en bloeisels in die veld. ‘Dit het tyd geword om te sing …’ (Hooglied 2:12)

‘Kom, my beminde’ Loop ’n draai deur die tuin van jou lewe. Nooi die Tuinier deur die tuinhekkie van jou hart na binne. Vra Hom om te snoei, te bemes, te plant en water te giet oor alles wat nog dood en droog is …

Seën en lentevreugde totdat die volgende aanlyn-uitgawe op 1 Oktober hier by www.leef.co.za verskyn.

Christine Ferreira

Redakteur

2019-08-31T18:00:19+00:00