Hartskos

‘n Tikkie nostalgie

Saamgestel deur Christine Ferreira | Foto’s Myburgh du Plessis

Trakteer jou gesin op ou familiegunstelinge uit Die VLV-Kookboek Resepte van toe tot nou

Die VLV-Kookboek bied die heel beste resepte van lede regoor die land, ter viering van die VLVK se 90ste bestaansjaar. Dié vrouevereniging is so deel van Suid-Afrika soos melkkos en pampoenkoekies. Met ‘n Toe-afdeling vol onthou-resepte kan jy ou gunstelnge wat jou aan jou ouma herinner moeiteloos maak, en wanneer jy vinnig ‘n plan moet maak of inspirasie kort, is daar die Nou-afdeling met ewe maklike, hedendaagse disse. Met dié beproefde staatmakers, elk uit ‘n VLVK-lid se kombuis, kan jy en jou gesin lekker en eg-Suid-Afrikaans eet.

Karringmelkpoeding (links)

Margaret Harvey, Sirkelpresident 1982–1997, Kalahari

Lewer 6 porsies

2 eiers, geskei
190 ml suiker
30 ml sagte margarien
250 ml melk
250 ml karringmelk
30 ml koekmeel

Voorverhit die oond tot 180 °C.
Klits die eiergele saam met die suiker en margarien en bak teen 180 °C tot gaar. Meng die melk en karringmelk by, dan die meel en meng goed.
Klits die eierwitte tot redelik styf en vou by die mengsel in.
Bak in ’n gesmeerde oondbak tot ligbruin.

Geurige soutring (regs)

Ina van Rhyn, Douglas, Kimberley

Lewer 8–10 porsies

1 × 200 g-pak Bacon Kips-soutbeskuitjies
170 g margarien, gesmelt
olie, vir smeer
5 eiers, gekook
185 ml gerasperde kaas
mayonnaise
Aromat en peper, na smaak
250 g gegeurde maaskaas
fyn biltong
350 g ham, fyngekap

Rol die beskuitjies fyn en meng met die margarien.
Verdeel in vyf eweredige dele.
Smeer ’n ringvorm van 22 cm in deursnee of klein bakkies liggies met olie. Strooi een deel van die krummels onder in die vorm.
Rasper die eiers fyn. Meng dit met 60 ml van die gerasperde kaas en net genoeg mayonnaise om ’n ferm beslag te maak. Geur met Aromat en peper.
Skep bo-op krummels in vorm. Versprei egalig en druk goed vas.
Strooi nog ’n laag beskuitjiekrummels oor.
Meng die maaskaas met die oorblywende 125 ml gerasperde kaas en genoeg fyn biltong om ’n ferm beslag te maak. Skep bo-op krummels in ring.
Versprei egalig en druk goed vas. Strooi weer ’n laag krummels bo-oor.
Meng die ham met genoeg mayonnaise om ’n ferm beslag te maak. Skep bo-op die krummels, versprei en druk vas.
Eindig met ’n laag krummels. Plaas ’n paar uur in die yskas tot goed gestol. Keer uit en sny in skyfies of bedien in klein bakkies.

‘VLV-vroue is al vir 90 jaar aanpasbaar en staan vandag bekend as van die voorste kosmakers.’ Karien van Schalkwyk, VLVK-President

Grenadellaring

Eurika Byleveld, Vryburg, Kalahari

Lewer 6–8 porsies

1x 80 g-pakkie pynappeljellie
20 ml gelatienpoeier
375 ml kookwater
250 ml room
1 × 385 g-blik kondensmelk
125 ml grenadellapulp

Meng die jelliepoeier en gelatien en voeg die kookwater by. Roer tot opgelos.
Laat afkoel, moenie laat stol nie.
Klits die room styf en meng dit met die kondensmelk en grenadellapulp.
Voeg die jellie by en skep in ’n ringvorm.
Verkoel vir 4 uur in die yskas, keer uit op ’n bord en bedien as nagereg.

Souskluitjies (links)

Doris Linde, Mimosa, Kalahari

Lewer 6 porsies

500 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
2 ml sout
10 ml botter
2–3 eiers
100 ml suiker
250 ml melk

STROOP

4 × 250 ml water
250 ml suiker
5–10 ml botter
5 ml sout
fyn kaneel, vir oorstrooi

Voorverhit die oond tot 180 ºC.
Sif die droë bestanddele saam en vryf die botter daarby in. Klits die eiers en suiker vir 5 minute saam. Voeg die melk by. Voeg die eiermengsel by die meelmengsel en roer dit met ’n vurk tot ’n stywe deeg (anders kook dit stukkend in die stroop). Verhit die bestanddele vir die stroop en laat dit deurkook. Giet die stroop in ’n oondbak en skep lepels vol van die deeg in die kokende stroop.
Bak vir 10–15 minute.
Strooi kaneel oor.

Boeremelktert in ’n kits (regs)

Aletta Keyser, Slot van die Paarl, Paarl

Lewer 1 tert

1 liter volroommelk
1 kaneelstokkie
150 ml witsuiker
50 ml mielieblom
50 ml koekmeel
2 ml sout
3 ekstragroot eiers
62,5 ml water
15 ml botter
5 ml vanieljegeursel
1 pakkie Tennisbeskuitjies
fyn kaneel, om oor te strooi

Verhit die melk met die kaneelstokkie oor lae hitte tot kookpunt.
Meng die suiker, mielieblom, meel, sout, eiers en water goed met ’n handklitser tot glad. Voeg die kookmelk geleidelik by terwyl voortdurend geklop word. Giet die vulsel terug in die kastrol deur ’n sif.
Verhit tot kookpunt terwyl aanhoudend geroer word.
Laat prut vir ongeveer 1 minuut tot dik en gaar terwyl voortdurend geroer word. Verwyder van die hitte.
Voeg die botter by en laat afkoel tot louwarm.
Voeg die geursel by en meng goed.
Pak 2 lae beskuitjies en louwarm melktertpap in ’n 20 cm- vierkantige bak.
Rol enige beskuitjies wat oorbly fyn en strooi bo-oor saam met fyn kaneel.
Laat stol in die yskas.

Resepte en uittreksels met toestemming gepubliseer uit Die VLV-Kookboek (Human & Rousseau, 2019) deur die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland. Kosfoto’s deur Myburgh du Plessis. Stilering deur Sarah Dall.

2019-08-31T17:01:27+00:00