Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

’n Vriendin gaan kuier by haar dogter en dié se gesin in die binneland na die geboorte van ’n nuwe bababoetie. Haar driejarige kleindogter is in ekstase. Sy en haar ouma deel ’n kamer. Wanneer sy saans haar oë toemaak, is haar ouma langs haar – of sommer by haar in die bed! Wanneer sy soggens wakker word, is haar ouma die eerste persoon wat sy sien. Dan kruip sy by haar in en hulle twee lê nog ’n bietjie tot dit lig word. Die ouma vertel stories uit die ‘ou tyd’, toe daar nog nie selfone of televisie was nie. Sy vertel van die plaas waarop sy groot geword het. Van lammertjies wat sy met ’n bottel groot gemaak het en hoe sy help koeie melk het en eiers in die groot hoenderhok gaan uithaal het.

So deur die vertellinge en ure se saamwees groei daar ’n hegte band tussen Ouma en kleinkind. Die kleuter klouter dikwels tot op haar ouma se breë skoot. Sy voel die sagte deining van haar bors en ervaar die welbehaaglikheid daarvan om onvoorwaardelik liefgehê te word. In haar klein binneste groei ongemerk die vaste wete dat sy behóórt.Haar ouma se skoot word die middelpunt van haar klein wêreldjie.’n Veilige kokon van koestering en geborgenheid.

Die innige saamwees is vir albei genoeg. Die ouma hoef nie haar kleinkind se liefde met presentjies of lekkertjies of uitsonderlike uitstappies en ervarings te koop nie. Die liefde groei deur die klein, gewone dinge van elke dag. Haar ouma wat vir haar ’n broodjie maak en by haar sit terwyl sy dit eet en geduldig luister na die gewone storietjies wat sy vertel.

Sonder dat die kleinding dit besef, leer sy wat régtig saak maak. Eenvoud. Gewone dinge. Saamwees. Die liefde.

En die ouma leer op haar beurt dat sy maar kan ontspan. Sy hoef niks ander as haarself vir haar kleinkind te gee nie.

Na drie weke is dit tyd vir Ouma om huis toe te gaan. Die nuwe baba is egter siek, en hulle besluit dat dit goed sal wees as Sussa ’n bietjie saam met Ouma Kaap toe gaan. Oupa wag al.

Die lughawe met sy geroesemoes van stemme en luide aankondigings en vreemde geluide en menigtes wat met hul tasse en sakke en waentjies haastig in alle rigtings beweeg, is oorweldigend vir die kleinding. Sy klou aan haar ouma se hand. Die bekendheid van haar nabyheid stel haar gerus. Niks anders maak meer saak nie.

Uiteindelik sit Ouma en kleinkind veilig vasgegespe op hul vliegtuigsitplekke. In die stilte net voordat die vliegtuig opstyg, gooi die kleinding haar armpies in die lug en roep: Hallo Oupa! Ons kom!

Wanneer ons as kinders van God in die vaste sekerheid van die Heilige Gees se beskutting en omarmende sorg en troos lewe, kan ons ook met jubeling en verwagting uitroep: Ons kom! Want ons weet: ons Vader wag met oop arms aan die ander kant.

Here, dankie dat kinders vir ons leer om in gestroopte eerlikheid te leef. Dankie dat hulle vir ons wys dat liefde ander ‘bykomstighede’ oorbodig maak. Help ons om met hulle oë te kyk. En om in eenvoud te lewe – in blye verwagting op ons weersiens met U! Amen

2019-08-31T18:14:37+00:00