Leesgoed vir die jongklomp

Kweek van jongs af ‘n liefde by jou kinders vir die Woord. Hier is van die jongste lekkerleesboeke vir kleingoed..

Die Eenjaar Ma en Dogter Dagboek

Hierdie boek is spesiaal ontwerp om ma-dogter-verhoudings en hulle verhouding met God te versterk. Die 365 oordenkings is so geskryf dat ’n ma en haar ampertienerdogter dit saam kan lees en die afdeling “hartspraatjies” gesels oor hoe hulle die Bybel en hulle verhouding met God verstaan.

Om hierdie dagboek nog meer spesiaal te maak, is daar ook ander unieke elemente en aktiwiteite bygevoeg. Dit sluit in taal-lab (maklik-om-te-verstaan teologiese lesse), dieremaniere (eienskappe van diere in die Bybel wat op Christene van toepassing gemaak kan word), handgemaak (aanwysings vir projekte wat ma en dogter saam kan doen) en diepdinkdae (tyd om te oefen om diep te dink oor God se Woord). Enkele van die temas wat in hierdie dagboek voorkom, is beskeidenheid, reinheid, selfbeeld, hoe om emosies te hanteer, getuienis en hoe om die geloof te leef. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/die-eenjaar-ma-en-dogter-dagboek-sagteband

Wild Dierestories in die Bybel vir kleingoed

Kinders tussen 3 en 6 jaar sal die rympies oor sommige van die geveerde en wollerige diere in die Bybel geniet, terwyl hulle bekende Bybelstories, soos Noag se ark, Daniël in die leeukuil en die verlore skaap leer ken. Elk van die agt stories in hierdie pragtige boek bied ook ’n uitdaging vir kleintjies, soos om hul vlerke te klap soos voëls of te brul soos ’n leeu. So kry God se stories uit die Ou en Nuwe Testament lewe in jong hartjies. Stories uit die Ou Testament sluit in: Die skepping, Noag se ark, Daniël en die leeukuil en Jona en die groot vis. Stories uit die Nuwe Testament is Jesus se geboorte, die Bergpreek, die gelykenis van die verlore skaap en Jesus se intog in Jerusalem. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/wild-kartonboekie

My jaar saam met Jesus 

Deur Billy Graham

Billy Graham, een van die wêreld se mees geliefde predikers, lei kinders ’n jaar lank op ’n pad gevul met hoop, ’n beter verstaan van die Bybel en vertroue op God se wonderlike liefde. Seuns en dogters sal nader aan God groei deur hierdie oordenkings wat hulle hemelse Vader se oneindige goedheid en getrouheid vir hulle op ’n verstaanbare manier duidelik maak. Elke dagstukkie in My jaar saam met Jesus bevat ’n teksvers en ’n kort oordenking wat van jongs af ’n liefde in God by kinders sal kweek. Billy Graham het in sy leeftyd God se Woord aan mense in meer as 185 lande en op elke kontinent van die aarde verkondig.  Hy is ’n topverkoper-outeur en miljoene mense het al sy boeke gelees. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/my-jaar-saam-met-jesus-sagteband

Wonderful

Deur Stephen Kendrick

Wat dink jy sal die antwoorde wees as jy ’n groepie kinders vra om hulself te beskryf? Hulle sal heelwaarskynlik begin met hulle name, hoe oud hulle is en hulle gunsteling sport. Met ander woorde wie hulle van buite is. Maar wie is hulle van binne? Weet jy dat elkeen van hulle uniek is? Dat elkeen spesiaal geskep is en dat God elkeen van hulle ongelooflik lief het? Hierdie boek is bedoel vir kinders 8 tot 12 jaar en leer hulle waar hul identiteit werklik lê: in hul harte, hul siel en hul gedagtes. Dit wat hulle doen om die Een wat hulle geskep het te dien en eer. Die boek spog met pragtige volkleur-illustrasies, kort stories en prettige aktiwiteite. Stephen Kendrick is ’n spreker, rolprentvervaardiger en outeur met ’n bedieningspassie vir gebed en dissipelskap. Hy is die mede-outeur en -regisseur van die flieks Overcomer, War Room, Courageous, Fireproof en Facing the Giants, en die mede-outeur van die New York Times-topverkopers The Battle Plan for Prayer, The Resolutions for Men en The Love Dare. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/wonderful-hardcover

Super Bible-Puzzles For Girls/ Super Bible-Puzzles for Boys

Wat ’n prettige manier om kinders meer oor die Bybel te leer! Met die talle woordsoekspeletjies, blokraaisels en ander woordspeletjies spesifiek gemik op jong meisies in die een boek en jong seuns in die ander een, leer kinders nie net bekende Bybelstories nie, maar ook spesifieke waarhede uit die Skrif. Hierdie boekies sal kinders tussen 6 en 10 jaar vir ure besig hou. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/catalogsearch/result/?q=super+Bible-puzzles

2019-08-31T17:30:05+00:00