Lééf wys

Die leeflys

Deur Henk Gous | Foto Pexels

Die grootste geskenk in die lewe is om te lewe. Dis God se geskenk aan my as sy kosbare skepping.

Die lewe as geskenk moet ten volle geniet en gebruik word. Dis ’n geskenk wat deurlopend ook waardeer moet word. Hierdie waardering moet nie net aan die einde van jou lewe kom wanneer dit byna opgebruik is nie.

Gewoonlik werk dit so dat kinders die lewe bloot geniet en dat nadenke oor die lewe eers in later jare kom. Dis wel ook reg so: God het kinders juis geskep met ’n lewenslus en lewenshonger as dryfkrag. Hulle moet op hul ontdekkingsreis vertrek en bly beweeg met ’n drang om bloot net te lewe.

Die Prediker sê juis ook dat die lewe geniet moet word, lewenslank, maar veral in jou jeugjare. Die woord “geniet” verskyn meer as tien keer in die boek Prediker, maar die ernstigste aansporing daartoe is gerig aan jongmense: “Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet” (Pred. 11:9). Dis dus reg dat kinders bloot net léwe.

Maar iewers moet jy ook begin dink oor lewe. Tydens die volwasse jare is die opdrag van die Here dat ons ons lewensgebeure verwerk tot ’n sinvolle geheel. Dus is verwerking moontlik en onontbeerlik vir ’n volwassene. Dis ’n opdrag: “Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie” (Pred. 11:9).

Elke nuwe fase konfronteer jou met nuwe omstandighede waaroor jy móét dink. Dis eintlik baie moeilik om werklik iets te bedink voor jy dit beleef het. Die intensiteit van ’n belewenis, byvoorbeeld geboorte en ouerskap, is nodig vir werklike nadenke. Die lewe word dus geleidelik waardeer en deurdink deur dat jy iets beleef en dit gewoonlik dan raaksien en ten volle waardeer.

Maar die hartseer is egter dat die nadenke wat so behoort te gebeur, nie noodwendig gebeur nie. Mense beleef soms hul lewe van 365 dae per jaar en 24 uur per dag sonder om selfs net enkele minute aan nadenke daaroor te bestee. Dit word net opgebruik. Daar is ’n groot groep mense wat doen wat Jesaja 22:13 en 1 Korintiërs 15:32 sê: “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons!” Die bewustheid van moontlike doodgaan laat hulle nie meer dink nie, net meer eet en drink.

Ons huidige oormaat aan stimulering vererger hierdie neiging. Die onophoudelike stroom insette van musiek, vermaak, media en werksdruk bring mee dat ons verwerkingstyd baie min word. Mense versamel ervarings, maar sorteer dit te min. Die uiteinde daarvan is dat so ’n persoon meer soos dryfhout is as soos ’n boot. Dryfhout beweeg saam met die stroom en beland waarheen die omstandighede dit vat. Daar is geen eie invloed en rigting nie. ’n Boot, daarenteen, gaan waarheen die bemanning besluit het hulle wil gaan, selfs al is dit stroomop. ’n Boot word wel beïnvloed deur die omstandighede, maar dit word nie beheer daardeur nie. Die vermoë om te besluit en te beheer bring mee dat iemand uitkom waar hy/sy besluit het om uit te kom, nie bloot waar hulle deur omstandighede beland nie.

Die bewus-in-die-oomblik is net soveel werd as die “groot” ervarings van wenslyste.

Maak ‘n leeflys

Dis die doel van ’n leeflys: ’n Leeflys is jou bewustelike besluite en keuses waardeur jy jou lewe bestuur. Dis om doelgerig beheer te neem van jou lewe en jou uitkomste te beïnvloed. Dis om jou lewe se uitkomste te deurdink en dan daarheen te begin beweeg.

’n Leeflys verskil van ’n emmerskoplys deurdat dit deurlopend gedink en gedoen word. Dit word wel gesneller deur lewensfases en lewensgebeure, nes die emmerskoplys wel deur naderende dood gesneller word. Maar as doelgerigte nadenke en beweging eers tydens die laaste lewensfase aan die gang kom, is dit tragies. Dis hartseer as mens op jou sterfbed besef dat jy jou lewe lank hoofsaaklik stroomaf gedryf het.

’n Leeflys moet ook die algemene foute van die emmerskoplys regstel. Sulke algemene tekortkominge is die volgende:

  • Daar is meestal doen en hê-items op so ’n lys en baie selde wees en word-items. Doelwitlyste bevat wel items soos “trou, kry die regte huweliksmaat”, maar as ’n doenitem. Dit gebeur selde dat so ’n lys ’n doel bevat van wat jyself moet word, soos “om ’n goeie troumaat te word” eerder as om die ideale troumaat te kry. Karakterontwikkeling is egter een van die belangrikste doelwitte van die lewe. Dis God se primêre doelwit met my. Hy stel meer belang in my karakter as my gerief en ervarings. ’n Gesonde leeflys moet dus ook praat oor leemtes wat weggewerk moet word en waardes wat moet groei.
  • Dis positief dat die sien en beleef van die wêreld se wonders op baie lyste verskyn. Die wonders van God se skepping nooi ons om dit te sien en te waardeer. Die vraag bly egter: Sien en beleef ek om te waardeer, of net om te versamel? ’n Verdere algemene fout is dat ’n lys slegs fokus op die groot wonders en die klein wonders miskyk. Dis algemeen dat iemand die sewe groot wonders van die wêreld wil sien. Iemand wat Suid-Afrika se wildtuine besoek, wil graag die Groot Vyf sien (leeus, luiperds, renosters, olifante, buffels). Dis egter eers wanneer jy die klein wonders ook as groot wonders raaksien dat jou lys volledig word. As jy die Klein Vyf begin soek, sal jy daarmee saam ook die massas ander klein wonderlike diertjies begin waardeer. Terloops, die Klein Vyf word só genoem omdat hul name die Groot Vyf se name bevat, naamlik mierleeu (“antlion”), olifantmuisie (“Eastern rock elephant shrew”), “luiperdskilpad” (“leopard tortoise – dis eintlik ’n bergskilpad), buffelwewer (“red-billed buffalo weaver”) en renosterkewer (“rhino beetle”).
  • Die eenvoudige belewenisse verskyn nie op algemene wenslyste nie. Die “mindfulness”-beweging het bygevoeg dat oplettendheid, bewustheid, aandagtigheid jou lewe geweldig kan verryk. Die bewus-in-die-oomblik is net soveel werd as die “groot” ervarings van wenslyste. So ’n bewuswees is elke dag beskikbaar en hoef dus nie geskeduleer of gekoop te word nie. Die sewe wonders van die wêreld is dus eerder om te sien, te hoor, te voel, te proe, te ruik, te lag en lief te hê. ’n Leeflys moet insluit om die gewone ten volle te waardeer.

Ten slotte, vir wie jy leef, is belangriker as hoe jy leef. Hoe ’n leeflys pas by jou unieke persoon is deurslaggewend. Jou persoonlikheid is deel van God se unieke plan. Daarom moet jy dit eerste ontdek, daarna jou lewenstaak.

As dit nie uitgespreek en deurdink word nie, gaan ’n leeflys ewe maklik skeefgetrek word as ’n emmerskoplys. As gelowiges moet ons hieraan tyd bestee.

Uittreksel uit Leef jou emmerskoplys noudeur Henk Gous met toestemming van Cum gepubliseer.

2019-08-31T15:55:39+00:00