Sielsmaats

Die blindekolle van ons verhoudings

Deur Johan Ferreira | Foto Pexels

Hoekom bly mense in verhoudings wat vir hulle sleg is?

Wanneer ons na die verhoudings om ons kyk sien ons dikwels die uitdagings wat ander mense het, baie goed raak. Dikwels wonder ons dan ook hardop hoekom daardie mense in die verhouding sou bly? Hoekom eindig hulle nie die pyn en swaarkry deur bloot die verhouding te verlaat nie?

Een van die mees algemene redes waarom mense in moeilike verhoudings bly, is omdat hulle hul verhoudings met ander vergelyk wat in dieselfde bootjie is. Hulle vergelyk hul eie swaarkry met mense wat ook wroeg en worstel en oortuig hulself dan dat hulle verhouding nie naastenby so erg is nie. Hulle bekyk die inhoud van geweldadige verhoudings, of verhoudings waar ontrouheid gebeur en oortuig hulleself daarvan dat die disfunksionaliteit van hulle eie verhouding nie so erg is as die res nie.

Persone wat hierdie denkpatroon gebruik om hul eie verhoudingsprobleme te minimaliseer, is meer geneig om baie langer in problematiese verhoudings te bly as die meeste ander mense.

Statisties is daar geweldig baie mense wat in swak en aaklige verhoudings bly bloot omdat hulle glo dat dit beter vir hulle kinders is as die ouers nie die verhouding beeïndig nie. Natuurlik kompliseer kinders die aard van verhoudings, maar ’n disfunksionele, lae kwaliteit verhouding is net so nadelig vir kinders as vir die ouers.

Die pyn en seerkry wat volwassenes in verhoudings beleef word dikwels ook deur die kinders beleef.  In geweldadige, maniluperende of negatiewe verhouding ervaar die kinders dieselfde emosies as die partye wat emosioneel afgebreek word en kring die negatiewe gevolge net verder uit.  Dit skep ook die voorbeeld vir die kinders dat hulle eendag in sulke verhoudings moet bly, al kan hulle sien dat dit nie goed vir hulle is nie.

Ook baie algemeen is dat mense is ongelukkige verhoudings glo dat hulle maat se swak gedrag sal verander, dat die foute wat die persoon begaan uiteindelik vanself sal ophou. Hierdie is natuurlik ’n denkfout. Mense se gedrag verander nie tensy daar insig in die gedragsprobleem is nie. Die persoon wat die onaanvaarbare gedrag openbaar moet tot insig kom en sodoende die speelveld skep vir gedragverandering, -aanpassing of -staking.

Die hoop dat iemand net een oggend gaan ophou met beledigings, luiheid, emosionele aftakeling of fisiese geweld is nie realisties nie. Natuurlik kan mense verander. Maar indien jy in ’n verhouding is waar jy bloot aanhou hoop dat jou maat sal verander sonder enige daadwerklike ingrepe, is die verbetering van gedrag onwaarskynlik.

Die voortdurende verwagting dat iemand sal verander, en die gepaardgaande konflik daarvan, lei meestal na bitterheid en ’n gevoel van minderwaardigheid by albei partye. Ek is nie goed genoeg nie, en jy het my nie lief genoeg om te verander nie.

Mense wat ongemaklik is daarmee om alleen te wees sal baie meer geneig wees om in moeilike en swak verhoudings te bly as mense wat nie bang is vir alleenwees nie. Hulle sal selfs in verhouding vasbyt waar daar meetbare misbruik voorkom, uit vrees vir die potensiële eensaamheid. Hulle uitkyk is dikwels dat hulle eerder binne verhouding en ongelukkig sal wees as buite verhouding en ongelukkig te wees. Hierdie individue sal natuurlik moet leer om eers alleen geluk te vind voordat hulle hierdie negatiewe patroon in hulle verhoudingslewe die hoof sal kan bied.

Sommige mense bly ook in disfunksionele verhoudings omdat hulle nie die patologie van hulle maats se persoonlikhede verstaan nie. Om in verhouding met iemand met ’n persoonlikheidsversteuring of -uitdagings te wees kan baie skadelik wees vir die mense om hulle. Die ko-afhanklikheid wat ontwikkel hou dikwels albei partye gevange binne die maalkolk van siek en uiters skadelike gedrag en emosies.

Dit verg baie terapeutiese werk en insig om uit so ’n verhouding los te kom. Manipulasie, sosiale isolering  en uiteindelike vereensaming is dikwels van die strategieë wat die wanaangepaste persoon gebruik om die maat emosioneel gevange te hou binne die verhouding.

Dan is daar natuurlik mense wat binne verhoudings van misbruik bly omdat die misbruik emosioneel genormaliseer is. Of hulle is gewoond aan die gedrag vanuit hulle kinderjare, of hulle maats het hulle so oorweldig deur die misbruik dat julle nie langer glo dat die gedrag wanaangepas nie.

Verbale geweld, finansiële misbruik, seksuele mishandeling, emosionele aftakeling en sosiale isolasie is van die gedrag wat ons kan identifiseer binne swak funksionerende verhoudings. Die persoon wat die aftakeling beoefen sal dikwels die slagoffer daarvan oortuig dat die misbruik verdien word, of dat dit normale optrede is. Voortdurende blootstelling aan sulke gedrag lei tot ’n afstomping van normale reaksies.

Maats wat baie op mekaar skree raak byvoorbeeld gewoond aan die verbale misbruik en glo later dat dit is hoe mense met mekaar praat. Die onmiddelike trauma wat die gedrag veroorsaak word oor tyd al hoe minder sigbaar. Die persoon wie misbruik word se selfsiening word meetbaar minder en minder. Hulle persepsie van wat ’n normale verhouding behels word so verander dat hulle later nie kan sien hoe siek hulle verhouding werklik is nie.

Persone met gesonde selfsiening kom vinnig agter wanneer iemand hulle misbruik, want dis in teenstelling met wat hulle oor hulself glo. Iemand met ’n lae selfbeeld sal daarom meer kwesbaar wees om in disfunksionele verhoudings aan te bly, aangesien hulle glo dat hulle nie noodwendig beter kwaliteit verhoudings verdien nie.

Die vrees vir verwerping is natuurlik ook hoog in wanfunksionerende verhoudings, veral as die verhouding al geruime tyd aanhou. Die persoon se gebroke selfbeeld sien dan nie kans vir die verwerping wat saam met die einde van ’n verhouding loop nie, en hulle bly dan eerder binne dit wat bekend is.

Die enigste manier om die blindekolle van ons verhoudings sigbaar te maak is om deursigtig te leef met mense wat ons ken en wat ons vertrou. Wanneer ons eerlik kan wees oor hoe sleg dit met ons binne verhoudings gaan, kan ons objektiwiteit deur die oë van ander kry oor wat werklik aangaan binne ons verhoudings en die nodige aanpassings en veranderinge begin maak na ‘n beter en gesonde verhouding.

Dr. Johan Ferreira is ’n sielkundige en verhoudingsterapeut in privaatpraktyk in Johannesburg. www.drjohanferreira.com.

Lééf Sielsmaats bied ’n veilige aanlynomgewing waar gelowiges op soek na liefde mekaar kan ontmoet. Besoek Sielmaats by www.sielmaats.co.za vir meer inligting.

2019-09-01T07:55:21+00:00