Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Skarlakenkinders

Deur Anzil Kulsen & Nadine Blom (Lux Verbi)

Vyf uiteenlopende vroue wat deurgeloop het onder groot wreedheid kom op ‘n afgesonderde plaas in die middel van die Sederberge bymekaar. Om gesond en heel te word. In die loop van die paar dae werk God met elkeen van hierdie vroue en breek mure af. Maar dan begin die verdwyings, en elkeen moet leer wat dit verg om werklik te doen wat God van jou vra. ‘n Aksiebelaaide roman met ‘n Christelike agtergrond oor ‘n tema wat al hoe meer relevant word vandag: mensehandel. R220.

Field Guide to Insects of South Africa

Deur Michael Picker, Charles Griffiths & Alan Weaving (Penguin Random House)

Dié betroubare topverkoperboek is uitgebrei en opgedateer om meer as 1 500 insekspesies en groep in te sluit. Nie net die mooiste nie, maar ook die mees ekologies belangrikste insekte word onder meer in die boek bekyk. Daar is pragtige kleurfoto’s, maklik-om-te-lees teks, gedetailleerde inligting oor die geskiedenis, biologiese samestelling en die versamel van insekte, sowel as ‘n vinnige verwysigingsgids vir die maklike identifikasie van insekte. R390.

Designed to be

Deur Riana Goosen

Die skrywer van hierdie boek wéét hoe dit voel om ‘n nuwe koers in te slaan en die uitdagings wat dit meebring. Riana Goosen praat immers uit ervaring as dit kom by kruispaaie in die lewe. Sy was eens op ‘n tyd ‘n rekenmeester, maar is deesdae dosent aan die Universiteit van Stellenbosch. Deur jou identiteit in God te vind, stel jou in staat om jou roeping uit te leef en opnuut bewus te word van God se plan vir jou lewe. Daar word gekyk na wat die Woord ons leer oor ons identiteit en ook wat gebeur as mens nie volgens jou Godgegewe identiteit en roeping leef nie. Praktiese riglyne help jou om weer jou waarde en identiteit én lewensvreugde te kan vind. Bestel jou kopie by www.designedtobe.co.za. R239.

Boomwortels in die hemel

Deur Pierre du Plessis (Lux Verbi)

Wanneer ons na Jesus se lering en stories in die konteks van sy tyd kyk, ontbloot dit ‘n ongemaklike, maar lewegewende perspektief. Pierre du Plessis, skrywer van Jesus ruik na mirre en stof, takel Jesus se woorde “die koninkryk van die hemel is hier” in terme van Jesus se gelykenisse en stellings. Jesus verwys na God se koninkryk, hierdie koninkryk wat alles op sy kop kom draai het, wat anders werk as wat ons dink. Dit is hier waar ons ons menslikheid herontdek. R215.

Die oorwinnaar

Deur Chris Fabry (CUM)

Wanneer basketbal-afrigter, John Harris, se drome van ’n kampioenskap aan skerwe spat, begin hy sy doel en waarde bevraagteken. Dan leer ken hy ’n jong landloop-atleet wat met haar eie lewenskwessies worstel. Hulle begin ’n pad saam stap waarin hulle albei besef jou ware identiteit lê nie in wat jy doen nie, maar in wie jy in Christus is. Die oorwinnaar is gebaseer op die fliek Overcomer deur Alex en Stephen Kendrick en wat op Vrydag 30 Augustus in teaters landwyd open. Lees gerus die boek voor jy die rolprent gaan kyk. R250.

Om lief te hê ten spyte van seerkry

Deur Jentezen Franklin (CUM)

Die mense naaste aan ons – kinders, ouers, familielede, huweliksmaats, vriende – kan ons soms die seerste maak. In hierdie boek deel Jentezen Franklin sy verhaal van persoonlike pyn en wys lesers hoe om krag, moed en motivering te vind om lief te hê asof jy nooit seergekry het nie. Deur Bybelse en eietydse verhale bespreek hy verskillende soorte seerkry en gee onder meer antwoorde op vrae soos: Hoe kan ek hom weer vertrou en hoe kan ek ooit regtig vergewe? Om lief te hê ten spyte van seerkryhelp die leser om mure af te breek, deur wonde te werk, gebroke verhoudings te herstel en die krag te ontdek van liefhê ten spyte van seerkry. R159.

A Taste of South Africa with The Kosher Butcher’s Wife

Deur Sharon Lurie (Struik Lifestyle)

In hierdie kleurvolle kookboek neem Sharon Lurie jou op ‘n avontuur deur Suid-Afrika se diverse en ikoniese disse, maar met ‘n Joodse kulinêre kinkel. Dié liplekkerresepte sluit dikwels nie-suiwelprodukte in. Maar moenie dink dat omdat Sharon die kosher-slagter se vrou is, die boek net op vleisgeregte fokus nie! Daar is resepte vir voorgeregte tot nageregte én alles tussenin. Boonop word alles met ‘n tikkie humor gemeng. R290.

Wanneer woorde ontbreek

Deur Braam Klopper (Lux Verbi)

Het dit al gebeur dat iemand vir wie jy omgee ‘n geliefde aan die dood afgestaan het en jou eerste gedagte is dat jy met hulle moet kontak maak? Dit is dan dalk gevolg deur die gedagte dat jy nie sal weet wat om te sê nie. As jy so voel is die boek vir jou bedoel. Braam Klopper, ‘n predikant van Kemptonpark-Oos is ‘n pastorale terapeut en spits homself toe op die hantering en verwerking van rou. Hierdie boek gee praktiese raak oor rou, wys spesifieke routake uit wat deurgevoer moet word en sit die sake uiteen wat na ‘n  geliefde se dood afgehandel moet word. Braan kyk ook wat die impak van selfdood of die dood van ‘n kind op die rouproses het. R180.

2019-08-01T21:04:03+00:00