Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Onlangs sit ek en kyk hoe ’n paar jong ma’s kuier terwyl hul kleuters rustig by hul voete sit en speel. Toe gryp een van die kleingoed ’n maatjie se pop en laat spaander. Natuurlik het die veronregte kleuter ’n keel opgesit. Die ma het opgestaan, by haar dogtertjie gaan buk en aan haar verduidelik dat sy die pop vir haar maatjie moes teruggee. Sy kon een van die ander ewe mooi poppe kry. Die vrede is herstel en die spelery hervat.

Kort hierna het een van die ander kleingoed haar tee op die vloer gemors. Toe die ma haar vra om ’n lappie te gaan haal, het sy geweier. Die ma het haar laat begaan en aanhou praat met haar vriendin. Toe haar oog haar kleuter vang waar sy besig is om die tee met haar hand oor die vloer te vee, het sy streng gemaan: “Gaan haal nou die lap soos ek gevra het!”

Geen reaksie.

Die ma het staan-staan haar storie klaar vertel. Toe het sy vir die dogtertjie – wat op hierdie stadium heen en weer deur die teeplas geloop het – met ’n skerp stem beveel: “Ek tel drie! … Een! Twee! Drie!”

Geen reaksie. Die ma het al pratende kombuis toe geloop en die lap gaan haal, terwyl sy sê: “Jy is ’n baie stout kind!”

Hoe dikwels kry die kind nie die skuld vir die ma se onvermoë om ’n situasie op te som nie. Soms is dit nodig om dit waarmee jy besig is, dadelik opsy te skuif. Dis jou verantwoordelikheid om vooruit te dink en voortydig op te tree en nie die beheer aan haar kind oor te laat nie.

’n Ma het ’n eenmalige wonderlike voorreg om elk van haar unieke kinders groot te maak. Soos haar baba ontwikkel, leer sy sy behoeftes en persoonlikheid ken. Sy ontwikkel ’n fyn aanvoeling vir haar kind se reaksie op mense en omstandighede. Sy weet of hy moeilik op ’n vreemde plek aan die slaap raak, of deur dawerende musiek en massas mense oorweldig word. Sy weet wat maak hom ooraktief of huilerig.

Soms word ’n ma egter deur ’n vindingryke planmaker onkant betrap. Wanneer ’n kleinding jou met sy sêgoed troef – veral wanneer hy sien daar is moeilikheid aan die kom – is daar niks soos lekker saam lag om die situasie te ontlont nie.

My boetie was skaars vier toe my pa hom eendag vra of hy nie lus is om die motorsjampoe en karwaslappe vir hom te bring nie.

Sy antwoord was kort en kragtig: “Nee.”

Toe Pa ietwat oorbluf vir hom vra hoe hy dan so kan sê, antwoord hy flink uit die Bybel: “My ja is my ja, en my nee is my nee.”

Pa kon nie anders as om te lag nie, maar het nie nagelaat om die beginsel van gehoorsaamheid aan die rakker te verduidelik nie.

Binne die grense van ’n ouer se konsekwente liefdevolle dissipline voel kinders veilig. Jy doen jou kind ’n guns wanneer hy of sy wéét jou ja is jou ja en jou nee jou nee.

Here Jesus

Ma’s het nie al die kennis en wysheid en insig om hul kinders reg groot te maak nie. Leer ons asseblief hóé.

Amen

2019-08-06T21:52:40+00:00