Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

“Onthou Mamma daai blou ding?” vra Dawid. Sy blik is intens op my gerig.  My brein spoed heen en weer. Blou ding, blou ding? Hy sien my huiwering en hy hervat effens dringender. “Wat ons by die dinges gesien het?” Dit voel soos ‘n ewigheid wat snaarstyf tussen ons kom lê. Neurone wat teen supersnelheid herinnerings probeer oproep en prosesseer. Ek herken die magteloosheid wanneer woorde ontbreek, wanneer emosies opwel soos ‘n magtige tsunami en vassit in die beperking van jou bors sonder die opsie van ‘n keerwal van woorde om die stroom van gevoelens te herlei.

Maar ek ken my kind. Ek weet dikwels waaraan hy dink met slegs ‘n trek van die mond of ‘n oogwink na my kant toe. Soos nou, wanneer hy my dwing om saam met hom die oomblik weer te herleef wat ons saam op ‘n windverwaaide Woensdag te beleef het. Ek verstaan hom en die woorde wat hy nie het nie en die boodskap wat hy probeer tuisbring.  Ek glimlag. Skielik breek die spanning in sy lyf en hy gooi sy kop agteroor soos hy lag – die verligting dat ek hom verstaan het, is kosbaar vir my. ‘n Dag of wat later ry ons almal saam in die bakkie en bekyk die droë veld wat kos aan die skaap moet voorsien. Daar is ‘n keuse van bruin stokke, vaal gedroogte bossies, fyn klip of dan net kaal stukke rooi grond. Dolleeg. Soos die woorde wat ons nie het om vir God te vra vir reen  nie, net desperate kreune van mens en dier wat smag na verligting… en dalk ook net ‘n Goddellike erkenning.

Maar wat vergeet ons dan? Sy kennis van ons en ons omstandighede! Hy sukkel nie soos mens om beelde te herroep en dinge te onthou nie wanneer ons nie meer woorde het om Hom te herinner nie. Hy weet alles, is alles, het alles!  “Kom, laat ons die Here ken! Laat ons ons inspan om ons aan Hom toe te wy! Dan sal Hy ons antwoord. Dis so seker as die aanbreek van die nuwe dag of die koms van die reën, die lentereëns wat die grond deurweek.” Hosea 6:3. Hy sál na ons toe kom so seker soos die reën! “Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Die God, wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree.” Romeine 8:26. Ons hoef net ons harte na Hom te rig. Hoef nie te sukkel as die woorde nie kom nie. Hy is daar.

Leer jou kind:

  • Wanneer die onuitspreeklike binne jou kom lê, rig net jou hart na Hom.
  • Dis soms kosbaar om saam as gesin, sonder woorde, net by Jesus se voete te sit.
  • Besef dat God ons nie nodig het nie – ons het Hom nodig!
  • Die hele skepping roem Sy naam. Meestal sonder woorde. Tel die maniere waarop dit gebeur.

Lees meer:

Creation Calls deur Brian Doercksen – in jou kar, kombuis en kamer!

Lees meer

My hart se punt deur Lizette Murray

Kaap, Kerrie & Koesisters

Leesgoed vir kleingoed

2019-07-31T21:51:27+00:00