Fliek & musiek

Hier is van die jongste DVD en CD aanbiedinge op die mark vir lekker kyk en luister!

War Room (DVD)

Dit lyk of Tony en Elizabeth Jordan alles het. Hulle het ’n lieflike huis,  pragtige dogter en loopbane wat blom, maar hulle is heeltyd aan die stry. Elizabeth hoop haar man kan ook meer in die huis help, want dit is nie maklik om ’n ma én ’n eiendomsagent te wees nie. Dan ontmoet Elizabeth vir Clara Williams met die hoop om nog ’n huis te verkoop. Elizabeth is egter geamuseerd en ongemaklik wanner dié bejaarde weduwee vrae begin vra oor haar huwelik en geloof. Dan ontdek sy Clara se geheime gebedskamer – ’n plek waar sy op haar knieë baklei met die kragtigste wapen. Soos die spanning by hulle huis toeneem, besef Elizabeth haar gesin is die moeite werd om voor te veg en dat sy nie hierdie stryd op haar eie kan wen nie. Om in blinde geloof tot God te bly bid vir haar gesin en hulle toekoms, is die enigste uitweg. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/war-room-dvd. 

  • Kyk uit vir die Kendrick-duo se nuwe rolprent, Overcomer, wat op 30 Augustus in teaters regoor Suid-Afrika open.

Hello, My Name Is  – Matthew West (CD)

Matthew West het van sy gunstelingsnitte op sy nuwe album Hello, My Name Is, ingesluit. Die titelsnit word vergesel deur ander bekende treffers soos Grace Wins, Day One en The Motions. As jy ’n aanhanger van Matthew West is, is hierdie album  ’n moet. West spog met verskeie suksesvolle albums soos Happy (2003), History (2005) en Something to Say (2008). Sy mees onlangse album The Story of Your Life is geïnspireer deur 10 000 stories uit elke staat in die VSA en 20 ander lande. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/hello-my-name-is-greatest-hits-cd.

Elements Vashawn Mitchell (CD)

“Wanneer die wêreld in konstante krises verkeer, hunker die siel na rustigheid te midde van die chaos,” sê Vashawn Mitchell. “Elements is verteenwoordigend van my hart se reaksie op die onstuimige gebeure elke dag om ons.” Hierdie nuwe album poog om gelowiges aan te moedig en te inspireer om elke dag in geloof te leef ten spyte van die uitdagings wat die lewe bied. Die album se eerste enkelsnit God Can Do Anything is ’n kragtige herinnering dat die lewe soms uitdagend raak, maar dat geloof alles kan oorwin – iets wat mens soms te midde van die chaos vergeet. Die album is ’n wonderlike voorbeeld van Mitchell se musiek en styl wat hy oor sy loopbaan, wat oor meer as 20 jaar strek, opgebou het en is musiek wat elkeen ook heerlik mee kan saamsing. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/elements-cd.

Overcomer (CD)

Die klankbaan van die nuwe rolprent deur Alex en Stephen Kendrick, wat einde Augustus in rolprentteaters in Suid-Afrika open, is gepak met snitte deur bekende kunstenaars soos Casting Crowns, Zach Williams, Hillsong, Mandisa en vele ander. “Ons het dit ongelooflik baie geniet om aan Overcomer se klankbaan te werk,” sê Alex Kendrick. “Ons hoop dat elkeen wat na die klankbaan luister deur elke liedjie geïnspireer sal word en herinner word hoe lief God hulle het. Hy weet waarmee elkeen van ons in ons lewens worstel en herinner ons dat ons met sy hulp alles kan oorkom.” Die rolprent handel oor ’n basketbal-afrigter wie se lewe oornag verander wanneer die grootste aanleg in die omgewing onverwags sluit. Honderde gesinne verlaat die dorp en sy droom van ’n basketbal-kampioenskap spat aan skerwe. Wanneer die skoolhoof hom boonop vra om ’n sport af te rig wat hy nie ken of eens van hou nie, voel John gefrustreerd en begin sy doel en waarde bevraagteken. Dan leer ken hy ’n jong leerder wat met haar eie lewenskwesssies worstel. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/overcomer-soundtrack-cd.

2019-08-01T21:01:12+00:00