Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Soms is ons tevrede met ’n kniekombersie terwyl die regte Koning se hele hart tot ons beskikking is.

Fanie Kabouter hoor die mense praat oor die gawe koning van hul land wat daagliks met sy koets deur die bos ry en dan dikwels langs die pad stop om met mense te gesels, hul behoeftes te hoor of sommer net ’n opbouende wysheid vir hulle te gee. Opgewonde besluit Fanie dat hy eenvoudig moeite sal doen om hul koning te ontmoet. Hy’t lankal ’n klompie vrae vir hom en sal so graag net aan sy lang, pers kleed wil raak.

Vir dae aaneen wag Fanie Kabouter by verskillende afdraaipaaie in die bos in die hoop om die koning te sien. Dag na dag gaan hy teleurgesteld huis toe omdat hy hom nie raakgeloop het nie … weer nie sy stem kon hoor nie.

Tot een dag toe hy op een van die roetes duidelik die koets se spore kan sien. Opgewonde hardloop hy padlangs in die hoop dat hy vinnig genoeg sal wees om die koets in te haal. En toe sien hy dit: Die koning se kniekombersie moes iewers langs die pad afgeval het, want dit lê nou in ’n bondeltjie skuins onder ’n bos. Dankbaar dat hy darem “iets” van die koning het, neem hy die kombersie huis toe.

Daardie nag slaap hy soos ’n klip onder die sagte, gerusstellende kombers. Die volgende oggend lui sy wekker oudergewoonte vroeg sodat hy weer na die koning kan gaan soek, maar nou is dit anders: Dit is eenvoudig net te lekker onder die warm snoesigheid van die kombers. En hy sluimer sommer dadelik in. Die oggend daarna is dit nie anders nie. Die dae, weke en maande wat daarop volg, ook nie, want Fanie glo dat die klein kniekombersie genoeg vir hom is. Dat hy nie die ware koning hoef te sien nie.

’n Eenvoudige storie wat mens laat dink: Gee ons nie ook maar op wanneer ons probeer bid en moeite met ons stiltetyd doen en dan beleef dat “niks” gebeur nie? Wonder ons nie ook sulke tye of die Koning dalk van ons vergeet het, nie met ons wil praat nie … eenvoudig net nie met ons wil kontak maak nie? En is ons nie ook dan geneig om tevrede te wees met ’n kniekombersie nie? Met tweedehandse gesprekke, preke en hoorsê van God nie? Dit terwyl die Here sélf in ’n persoonlike verhouding met ons wil leef en in die stilte van ons hart met ons wil praat.

Kniekombersies maak warm, maar hulle raak nie aan jou hart en siel nie. Hulle sal nooit God se eie stem vir jóú wees nie. Maak elke dag tyd om persoonlik met jou Koning te gesels. Dís die warmte wat jou hart begeer.

Meer as ’n kniekombersie
Here
Soms is ek ook maar tevrede met
net ’n stukkie van U
omdat dit onmoontlik voel dat U,
die grote God,
kies om naby aan my te leef
en sélf met my te praat.
Tog wil U my so graag met
die volle mantel van u liefde oordek.
Leer my om geduldig op U te wag.
Oop genoeg te wees
dat u hart aan myne kan raak.
Stil genoeg te wees
dat U my met u woorde kan seën.
Ja, Here, U kan my soveel meer gee
wanneer ek meer van myself
vir U gee.

Is Hy jóú Here?

Hy het die Woord baie goed geken. Die geskrifte en wette nie net geleef nie, maar mense vervolg wat dit nie gevolg het nie. Totdat God een nag Saulus se lewe tot stilstand roep deur self met hom te praat. Dis toe wat hierdie man, wat gedink het hy ken God, vir die eerste keer self vir God vra: “Wie is U, Here?” (Handelinge 9:5). Hierna is niks meer dieselfde nie: Saulus word dié Paulus wat oor eeue heen gelowiges help om die weg na die ware Weg te vind.

Niks kan jou persoonlike verhouding met die Here vervang nie, want dis die plek waar Hy vir jou wys Wie Hy werklik vir jou kan wees. En wie jy deur Hom kan word.

Boodskap: “En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.” Galasiërs 2:20a
2019-06-30T23:10:49+00:00