Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Man van God

Deur Bennie Mostert (CUM)

Daar word báie en máklik gepraat oor alles wat verkeerd is in ons samelewing. Die oplossings kom egter nie so maklik nie. Antwoorde soos ‘kom ons leef positief en maak die beste van ’n slegte saak’ is net nie genoeg om werklik ’n verskil te maak nie. In dié boek fokus die skrywer spesifiek op die moderne Christenman. Hy kyk na die verantwoordelikheid wat mans moet opneem om by te dra tot die herstel van die geestelike dimensie van ons samelewing. Die boek fokus oor drie afdelings op die eienskappe van ’n ware man van God, hoe ’n man van God teenoor sy kinders moet optree en riglyne waarvolgens die man van God in gebed kan intree vir sy vrou, kinders en die werk­plek. R149,99.

In genade en dankbaarheid

Deur Carolyn Larsen (CUM)

Hierdie pragboek bevat 366 dagstukke gevul met genade en dankbaarheid deur die bekende outeur Carolyn Larsen. Vroue sal opnuut God se genade ontdek en ’n hart vol dankbaarheid kweek wanneer hulle op God se oorvloedige seëninge in hul lewe fokus. Ekstra joernaal-idees sal dieper nadenke aanmoedig. Carolyn Larsen is ’n skrywer, aktrise en ervare spreker met ’n Godgegewe passie om die evan­gelie aan vroue en kinders te bring. Sy het al by talle konferensies in Amerika, Kanada en Indië opgetree. Carolyn het al meer as 40 boeke vir kinders en volwassenes geskryf en haar boeke is al met verskeie pryse bekroon. R199.

‘n Belofte vir Bippie

Deur Elsa Winckler

Bippie Steyn se pad word onderbreek met ‘n onbeplande swangerskap, en sy moet groot besluite neem. Sy maak ‘n belofte teenoor die Here- sys al nie weer ‘n man in haar lewe toelaat as hy nie met haar wil trou nie. Riekert Tredoux word skielik deel van haar lewe wanneer hy die huis oorkant die straat begin restoureer. Die swanger rooikop het Riekert se oog gevang die eerste keer toe hy haar sien, maar hy kan nie vir Bippie en haar baba die toekomsbied wat hulle verdien nie. Trou is nie deel van sy toekomsplanne nie. Sy eie ma het hom verwerp, hy kan nie weer so seer kry nie. Sal Bippie haar belofte gestand kan doen? En hoekom is die enigste man wat skielik al onder haar voete is, Riekert Tredoux? R200.

 

Beloftes, Romanse en Liefde

Deur Dr. Greg & Erin Smalley (CUM)

Dié boek deur verhoudingskenners, Dr. Greg en Erin Smalley, lei die leser om weer die romanse en opwinding van die beginjare van hul huwelik te herontdek. Met humor en deernis deel hulle die geheime van ‘n sterk huwelik gevul met lewenslange liefde; wáre liefde soos God dit in die Bybel beskryf het. Die boek fokus op 12 geheime vir ware huweliksgeluk ten spyte van frustrasies, klein jakkalsies en fieterjasies. R149,99.

Wit Wolf

Deur Stefaans Coetzee & Alita Steenkamp (Tafelberg)

Stefaans Coetzee was maar 19 jaar oud toe hy op Oukersdag 1996 saam met twee ander verregses bomme by die Shoprite-winkel in Worcester geplant het. Vier mense – onder wie drie kinders – sterf in dié verwoestende ontploffings en Stefaans se lewe verander onherroeplik. Hy word tot moordenaar veroordeel en vir 40 jaar tronk toe gestuur. In die gevangenis besluit hy stelselmatig om met sy slagoffers versoen te raak. ‘n Roerende en onvergeetlike ware verhaal van versoening en hoop. R275.

Toe ons jonk was

Deur Karen Kingsbury (Struik Christian Media)

Noah en Emily Carter was nog altyd bestem om saam te wees – van hul eerste ontmoeting, hul opwindende verlowing en pragtige troue. Hul liefdesverhaal is spesiaal en meer as ‘n miljoen aanhangers stem saam. Maar agter die perfek-gestileerde foto’s en bemoedigende boodskappies op sosiale media is alles egter nie maanskyn en rose nie. ‘n Gebroke Emily reik uit na haar vriend en vertel haar die waarheid: sy en Noah het besluit om uitmekaar te gaan. Hy trek die volgende dag uit. Maar daar gebeur egter vreemde dinge deur die loop van die aand en sy lewe neem ‘n bisarre wending. Sal Noah ‘n tweede kans gegun word om reg te maak wat hy verbrou het? Want dit sal ‘n wonderwerk kos om terug te keer na gister. R200.

Huisgenoot Smulkos

Deur Esther Malan (Human & Rousseau)

Smulkos is ‘n splinternuwe versameling uit Esther Malan se gewilde Vat Vyfreeks wat elke week in Huisgenoot verskyn. Die resepte wissel van geurige idees vir ontbyt, terte & pasteie, braai, hoender, straatkos, kaggelkos na vinnige en gesonde slaaie. Watertandpoedings en gebak bly ook nie agterweë nie. Al die resepte is in die Huisgenoot-toetskombuis getoets wat verseker dat dit keer op keer werk. Esther is Huisgenoot, YOU en Drum-tydskrifte se assistent-kosredakteur en was in 2107 aangewys as die Galliova-kosskrywer van die jaar. R290.

Kry styl – Jesus s’n

Deur Stephan Joubert (Lux Verbi)

Hoe bereik ons ander mense vir die Here? Hoe kan ons uitreik sonder om mense af te sit? Hoe kan ons mense van God se liefde en omgee oortuig? Ons uitdaging, sê Stephan Joubert, is om vars te dink oor hoe ons ons geloof uitleef. Maar denke alleen is nie genoeg nie. Ons kort ‘n nuwe styl – Jesus s’n. Jesus het regtig bedoel dat sy dissipels ‘n genesende impak op die samelewing moet hê. So het Hyself die laat gebeur, en so het die vroegste Christene Hom agternageleef. Met hierdie boek word ons uitgedaag om anders te dink – en te doen. Ons moet weet wat om te doen en wanneer om dit te doen. Ons moet mense wees wat vir Jesus reg aanvoel en verstaan. Dan kan ons stylvolle geloofsdelers word. R190.

2019-07-14T13:43:04+00:00