Geloof het ‘n adres

Oud word hier nuut

Deur Riëtte Grobler | Foto’s Hanneri de Wet

In die hande van Hen en Marinda Geyer kry ougoed opnuut ’n kans om deel te word van nuwe huishoudings en hul geskiedenis.

Dit is ’n Saterdagoggend net ná nege-uur en by Modern Antiques in Greymont, Johannesburg, gons dit reeds.

“Verskoon maar as dit so ’n bietjie dol gaan terwyl ons gesels,” het Marinda Geyer, wat dié winkel sedert 1996 saam met haar man, Hein, besit, reeds voor ons onderhoud gewaarsku. Want as ’n klant ’n vraag het of raad benodig, is dít altyd Marinda en Hein se eerste prioriteit. Almal wat by die deur instap, word hartlik gegroet. ’n Pragtige eetkamerstel in die ingangsportaal, stylvol gedek en versier met blomme, laat ’n mens selfs nog meer welkom voel.

“Albei van ons hou van mense en mense hou van ons,” sê Marinda, ’n vrou met ooglopende passie vir die lewe. Sy sit agter ’n houtlessenaar en drink haar oggendkoffie. Hein, wat aan ’n reuse-koeksister weglê, beaam: “Ná 22 jaar in die bedryf het ons ’n goeie reputasie. Op die ou einde gaan ons besigheid nie oor koop en verkoop nie, maar oor mense, iets wat ek in ag moet neem wanneer mense by ons kom om hul sentimentele besittings te verkoop. Eerlikheid en regverdigheid is belangrik.”

Hulle drie kinders het sommerso in hul winkels grootgeword en vandag bedryf hul middelkind, Tanya, Modern Antiques saam met hulle.
“Familie is vir ons baie belangrik en net soos ons is Tanya ’n mense-mens. Sy leef haar geloof ten volle uit – mense weet waarheen hulle moet kom as hulle gebed benodig.” Hein was vir sewe jaar ’n pastoor by die Rhema-gemeente en Marinda leer self graag mense oor die Here. Veelsydig is Hein en Marinda beslis en saam-saam timmer en kap hulle reeds die afgelope veertig jaar aan hoe hulle sake doen.
Hulle het al onder meer ’n mat- en grassnyerwinkel besit voor die antiekware-gogga hulle gebyt het, het selfs al geboer en geniet dit om huise op te knap en te verkoop. “Ons het albei ’n baie sterk persoonlikheid en die feit dat ons al so lank saam in besigheid is, is op sigself ’n getuienis daarvan,” sê Marinda. Sy en Hein het albei sowat 38 jaar gelede tot bekering gekom en glo dié wending is die bron van hul sukses. “Ons weet dat die Here vir ons sal sorg omdat ons op Hom vertrou,” sê Marinda. “Ons geloof is gewortel in gebed en in die Woord. Omdat ons saam bid, saam die Here dien en saam in geloof staan, het ons al baie wonderwerke gesien waaroor ons sáám kan juig.”
Modern Antiques het deesdae drie takke, maar destyds het Hein en Marinda klein begin.

‘Ons weet dat die Here vir ons sal sorg omdat ons op Hom vertrou.’

“Ek en Hein het die land platgery en op elke klein dorpie na oudhede gaan soek. As die gogga jou byt, byt hy behoorlik en jy betaal maar skoolgeld …”
Buiten antieke ware voer Modern Antiques deesdae replikas van Victoriaanse en rococo-houtmeubels uit Maleisië in. Hulle behartig die afwerking en stoffering daarvan in ’n delikate verfyningsproses by Modern Antiques se werkswinkel. Hulle spesialiseer ook in verftegnieke en die restourasie van ou meubels.
“Hein is baie hands-on en kan álles doen. Hy bemagtig die mense wat vir ons werk en leer hulle allerlei vaardighede, van sweis tot huisbou,” sê Marinda trots. “Ons personeel is baie lojaal.”
Sy het op haar beurt ’n flair vir huis-mooimaak, hoewel sy Hein en Tanya lof toeswaai vir die stilering van alles van meubels tot ou teestelle in die winkel.
“Mense hou daarvan om ’n prentjie te sien wat hulle nét so kan koop.”
Maar waar begin ’n mens oudhede koop as jy niks daarvan weet nie?
“Koop iets waarvan jy hou en wat by jou persoonlikheid pas,” is Hein se belangrikste raad. “En moenie sommer net iets koop nie – dit moet ’n gebruiksartikel wees.”
Hy sê daar is deesdae ál meer belangstelling daarin om ou meubels op te knap en te moderniseer.
“Moet egter nie iets verf as jy daardeur die patina gaan verloor nie – dit sal ook tot waardeverlies lei.”
Hulle het self op die harde manier geleer en Marinda vertel van ’n gekraakte ou bakkie wat Hein destyds op Port Elizabeth vir R300 gekoop het.
“Ek was nogal vies dat hy dit gekoop het, maar het dit toe vir R800 aan iemand verkoop. Sowat ’n maand later is dit op ’n veiling vir R10 000 verkoop! ’n Mens word maar mettertyd ’n kundige in dié bedryf.”
Marinda en Hein loop steeds dikwels ’n meubelstuk raak wat hulle graag huis toe wil neem, maar dan volg hulle dieselfde raad as wat hulle vir klante gee: “My beleid is dat ons slegs iets huis toe mag neem as iets anders uitgaan. Anders word die huis ’n museum,” sê Hein.
“Die huis moet léwe,” voeg Marinda by. “Ons het nege kleinkinders wat moet kan speel.”
“Bêre maar daardie waardevolle porselein waar jou kleinkinders dit nie kan omstamp nie,” sê Hein laggend.
Marinda verklap sy en Hein is albei 67, maar hulle wil aanhou werk tot hulle nie meer kan nie.
“Ons wil nooit aftree nie, ons is te lief vir die lewe!”
* Besoek Modern Antiques by Long Road 178, Greymont, skakel 011 477 8940 of stuur e-pos na modernantiques@telkomsa.net.

2019-06-30T22:31:58+00:00